TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Ons soek dit groter!
Produksie: Stadskoor: Soekenjin
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf
Wanneer die cool kinders saam begin konsert hou, kan dit net lekker raak, skryf Ilza Roggeband.
Wie sou kon raai dat koor sing en gedigte skryf die in-ding geword het? Dit voel soos die ander dag wat die ordentlike kinders op koorbankies gestaan het en in stil hoekies gedigte gelees het.
Maar toe kom digters soos Danie Marais, Tom Dreyer en Bibi Slippers en ’n man genaamd Pieter Bezuidenhout kry vir hom ’n koor in Kaapstad bymekaar en noem hulle die Stadskoor | -Choir | -iKwayara en daar is cool mense soos Jacques Bessenger, Madri Sutherland, Karli Heine en Marcel Spaumer wat saam sing.
Toe word dit alles bymekaargegooi en jy kry ’n produksie soos Stadskoor: Soekenjin waarin die koor die gedigte van Bibi Slippers lewend maak. Soos die feesgids dit beskryf: “Deur ’n kombinasie van nuwe gekomponeerde koormusiek en evokatiewe klanklandskappe verander Slippers se woorde in ’n ryk tapisserie van klank, ritime en emosie”. En dit is presies wat dit is.
Met Mandri en Jacques wat van die gedigte voorlees en die koor wat vir die musiek en vokale begeleiding sorg, is dit ’n uur se louter plesier. Gooi die visuele elemente in wat elke dan en wan gebruik word, en jy kry ’n sonderlinge ervaring.
Met Mandri en Jacques wat van die gedigte voorlees en die koor wat vir die musiek en vokale begeleiding sorg, is dit ’n uur se louter plesier. Gooi die visuele elemente in wat elke dan en wan gebruik word, en jy kry ’n sonderlinge ervaring.
Die produksie laat jou egter verder droom. Dit moet groter! ’n Groter saal en verhoog, meer skerms, meer grafika, meer van Bibi se woorde, meer plek vir die koor. Groter is nie altyd noodwendig beter nie, maar hierdie is so ’n interessante kombinasie, dat dit ’n groter kollig nodig het.
Welgedaan aan Pieter en die koor, Bibi vir haar woorde en Nini Conradie vir haar regie. Mag hierdie samewerking die begin van vele wees.




