EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

As Buurvrou jou laat huil

Produksie: Boekmense, braaibroodjies en Buurvrou – ’n EasyEquities-skrywerspartytjie
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht

’n Nuwe Buurvrou het ingetrek, en sy gaan jou laat huil van plesier.

Bibi Slippers weet baie van boeke en kuns en honde, en dit was duidelik te sien in die briljante koördinering van die EasyEquities-skrywersfees, visuele kuns en sosiale media wat dié week by die fees op aanbod was. Sy weet ook presies hoe om ’n party te gooi en dan almal by die party te laat huil. It’s her party and you can cry if you want to. You probably will.

Gisteraand se skrywerspartytjie by Die Khaya was ’n jolige affêre met braaibroodjies, boekmense en Buurvrou. Indien jy nie weet wie of wat Buurvrou is nie, moenie bekommerd wees nie, jy sal waarskynlik baie binnekort góéd weet.

Die bekende akteurspaartjie Beer Adriaanse en Carla Smith span saam met die broer-en-suster-duo Nienke en Luka Geldenhuys in ’n splinternuwe musiekgroep wat verlede jaar in hulle woonstelsitkamer in Kaapstad gebore is. Kaalvoet en sonder enige foefies of skreeunde kitare en simbale (kyk uit vir die soutpot wat as shaker ingespan word) ontroer hulle met ’n klank wat regtig nog nie in Afrikaans gehoor is nie. Unplugged, met twee kitare en Beer sporadies op perkussie, word die lirieke gestroop en sonder fanfare aangebied.

Elkeen van die vier lede bring idees, lirieke of wysies en eenmaal ’n week kom hulle bymekaar en workshop die idees tot iets uitsonderliks. Sommige liedjies is ook in totaliteit deur een van die lede geskryf. En die eindproduk is slim, onverwags en soms diep persoonlik. Met die 14 liedjies wat hulle al neergepen het, het hulle die partytjie tot sagte stilte gedwing. En dis geen grappie nie, soos jy rondkyk in die gehoor, is daar trane afgevee. Want dis só mooi en so oorweldigend roerend. Maar hier en daar tog ook snaaks. ’n Bekende uitgewer was so aangedaan, sy wil spontaan die lirieke publiseer. Soos dié een:

Daar’s iets in die vlei
O daar’s iets in die vlei
En ek weet nie of dit sink en of dit dryf nie
en die mense baklei
maar dink nie ons het nou hiervoor tyd nie

Elke dorp kort ’n rivier
en elke dorp kort ’n lagoon
Net ’n plek waar die jong mense kan soen
En hul sorge weg kan sink
En die dorp se beste digter haarself kan verdrink

O daar’s iets in die vuur
al weet ek daar is geen manier nie
So ek hoop dis ’n dier
Want mense hoort al lankal nie meer hier nie

Elke dorp kort ’n rivier
en elke dorp kort ’n ravyn
net ’n plek waar bemindes kan verdwyn
En doelloos rond kan dwaal
en die dorp se oudste spoke stoute kinders kan kom haal

O daar is iets op die brug
maar ek weet nie of dit grom en of dit sug nie
So ek draai my rug
Want ek dink nie onse ouers kom ooit terug nie

Elke dorp kort ’n rivier
en elke dorp kort ’n stroom
net ‘n plek waar die dromers kan droom
en die rotse blink kan vryf
en op saamgeflansde vlotte ver weg kan dryf

Gewoonlik is ’n braaibroodjie die ding wat my die meeste laat uitsien na ’n partytjie, maar hierdie keer was dit Buurvrou. Hulle en Bibi, al is dit haar skuld dat ek so lekker gehuil het, kan maar gereeld kom kuier. Ek sal die braaibroodjies maak.

Gaan luister gerus na Buurvrou op hulle YouTube-kanaal.

Facebook
Twitter
LinkedIn