DISCOURSE

Niks om oor skaam te wees nie

Produksie: Netwerk24: Die onderhoud met Mia Spies: dr. Elna Rudolph
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf

Dis vraetyd. Mia Spies erken sy het ’n paar vrae reg vir ingeval mense te inkennig is om die mikrofoon te neem. Die onderwerp is immers seks en dr. Elna Rudolph word gesien as dié kenner in die land. Met ’n klap Calvinisme wat ons Afrikaners weg het, was slaapkamersake vir meeste nog nooit iets waaroor daar gepraat word nie, wat nog te sê voor ’n klomp vreemde mense.

Die gehoor laat nie op hulle wag nie. Die een vraag volg op die ander.

“Ek en my vrou is Christene en het nog altyd ’n gesonde sekslewe gehad,” sê ’n ouerige man toe hy die mikrofoon kry. “Ons bid oor alles en sê elke aand die Onse Vader op. Ná baie jare se getroude lewe het ons net ’n aanpassing gemaak. Ons bid nou ‘gee ons elke dag ons daaglikse stoot’.”

Nadat die gelag bedaar het, vloei die vrae nog meer.

“Kan ’n mens maar al die gaatjies gebruik?” (Ja, julle kan, sê Elna, maar ek sal graag eerder wil probeer uitvind of daar probleme met die eerste gaatjie is.)

“Does size matter?” (Dit hang af wie jy vra, sê Elna. Daar is verskeie tegnieke wat jy kan gebruik. Jy kan ook ’n goeie lover wees selfs al het jy nie ’n penis nie. Vra die lesbians.)

“Ek is skielik ná meer as dertig jaar se getroude lewe op my eie. Wat staan my toe doen?” (Kry vir jou ’n vibrator, sê Elna, dis doodnormaal. Moenie daarvan ’n morele kwessie maak nie. En as jy casual sex het, wees versigtig. Ons sien ’n spike in sifilis onder ouer mense omdat hulle nie kondome gebruik nie.)

“Wat doen jy as jou kinders inloop terwyl jy en jou man seks het?” (Dis onwettig om jou kinders daaraan bloot te stel. Sluit maar eerder die deur, sê Elna. As dit wel gebeur, verduidelik dat grootmense so nou en dan kaal op die bed vry. Dit is belangrik dat kinders nie seks met geweld vereenselwig nie.)

“Wat is die impak van die lirieke van sekere musiek?” (Kinders behoort nie geseksualiseerde musiek te luister nie, sê Elna. Liedjies soos ‘I’m sexy and I know it’ moet nie by skole se sportdae gespeel word nie. Ouers moet meer oplet waarna hulle kinders luister.)

Die uur was in ’n japtrap verby en ’n mens het die idee gekry dat Mia en Elna vir nog ’n uur kon praat. Wat is die ses punte wat uitgestaan het?

  1. Jou kinders is nooit te jonk om oor seks te leer nie. “Kinders moet van kleintyd leer wat toestemming (consent) is. Hulle moet weet wanneer hulle veilig voel. Hulle moet weet wanneer hulle kan nee sê vir ’n drukkie of wanneer hulle byvoorbeeld nie meer saam met ’n ander kind wil bad nie,” sê Elna.
  2. Sy dink nie skoolkinders moet seks hê nie, maar hulle het. “Hulle moet geleer word om seks beter te verstaan en te weet dat hulle nee mag sê – seuns én meisies.” Dit is ook belangrik om van kleintyd die regte benamings te gebruik soos vulva en penis. “Navorsing wys dat kinders wat weet wat die korrekte terme is, veiliger is juis omdat iemand hulle nie met mooi woordjies kan ompraat nie.”
  3. Die seksuele gesondheid van vroue gaan veel verder as net orgasmes. Dit raak ook kwessies soos geslagsgeweld, kinderhuwelike en vroueregte aan. “Daar moet zero tolerance vir geweld in enige vorm wees,” sê Elna, wat tussen 2021 en 2025 die president van die World Association for Sexual Health was.
  4. “If you are not horny, you are not healthy,” is een van die aanhalings wat Elna gebruik het. “Wanneer mense hulle libido verloor, gaan dit nie goed met hulle nie,” sê sy. “As ’n man of vrou wat in seks belanggestel het skielik nie meer belangstel nie, kan daar ander fout wees. Moet dit dus nie ignoreer nie.”
  5. Seks wat jou bang of seer maak, is nie goed nie. “Pleasure is the measure,” sê Elna.
  6. Pornografie, veral vir jong mense en kinders, is ’n groot nee. “Jong breine moet nie daaraan blootgestel word nie,” sê sy. “Maar moet ook nie byvoorbeeld naaktheid in die huis met pornografie verwar nie. Kaal tieties is nie porn nie.”

Lees meer oor dr. Elna Rudolph by mysexualhealth.co.za/drelnarudolph.

Kyk na die volle gesprek hier.

Facebook
Twitter
LinkedIn