TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Dis die stiller oomblikke wat uitstaan

Produksie: Laudo Liebenberg en Frank Freeman: Kom wat wil
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Laudo Liebenberg en Frank Freeman is ’n wenkombinasie, maar dis wanneer jy werklik die lirieke kan hóór, dat hulle op hulle beste is, skryf Ilza Roggeband.

Kom ons kry net eers die kritiek uit die pad: Wanneer jou produksie vir ’n fees goedgekeur word en jy kry die Drostdy-teater om in te speel, moet jy die erns van die saak verstaan. Bring ’n produksie – nie net die liedjies wat julle gewoonlik sing en speel nie. ’n Produksie.

Dalk is dit omdat ek al jare hierdie klippie in my skoen het dat ek dit nou weer ophaal. Ek sê nie elke liewe groep of sanger moet ’n hele song and dance bring nie, maar bring ten minste iets vir feesgangers wat hulle nie keer op keer gaan sien of reeds gesien het nie. Werk aan ’n bindingsteks, wees voorbereid, neem die ruimte in ag. Respekteer jou gehoor en die fees.

In die feesgids word Kom wat wil onder meer beskryf as: “Ná die sukses van die bekroonde produksie Eet kreef! Herleef keer dié duo terug met ’n vertoning vol nuwe musiek en stories. Dit beloof om ’n onvergeetlike aand van nostalgie te wees, maar bring ook nuwe perspektiewe”. Daar was beslis nie genoeg daarvan nie.

Met dít gesê: Laudo Liebenberg en daardie stem kan vir my die versamelde werke van Totius voorlees en ek sal sit en luister. Frank Freeman is een van die talentvolste kitaarspelers wat ons het en dit is altyd ’n plesier om te sien hoe entoesiasties hy is. Saam met hulle op die verhoog was die baskitaarspeler Mika Burger en tromspeler Dillon Myburgh.

Wanneer hulle gerock het, was dit by tye moeilik om die lirieke uit te maak, veral wanneer hulle nuwe werk gesing het. Wanneer hulle egter “Hoe ek voel” en “Hillbrow” van Johannes Kerkorrel en Lucas Maree se “Die weduwee se kruik” gesing het, het die hare op jou arms orent gestaan.

Hou aan met rock en hou aan nuwe werk skep, maar werk aan ’n produksie wanneer julle weer vir ’n fees gekeur word. Ek sal eerste in die ry wees om ’n kaartjie te koop.

  • Laudo Liebenberg en Frank Freeman: Kom wat wil was ’n eenmalige vertoning op 9 Oktober.

Facebook
Twitter
LinkedIn