SPIER TONEEL

Formidabele ensemble laat selfs die stiltes in ‘Annie+Helen’ lewe

Produksie: Annie+Helen
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Llewellyn de Wet

Hennie van Greunen het ’n formidabele ensemble akteurs byeengebring vir Annie+Helen, sy drama oor die dowe en blinde Helen Keller en die onderwyser wat haar “gered” het van haar eie onvermoë om te kommunikeer. Die feit dat die res van die vertonings uitverkoop is, getuig van die gehalte van die produksie.

Wat ’n ongelooflike voorreg was dit nie om saam met ’n groot groep dowes die produksie Annie+Helen in die Adam Small-ouditorium te beleef. Dié drama met die meesterlike Hennie van Greunen as skrywer en regisseur handel oor Helen Keller, wat doof en blind was, en die teenwoordigheid van die gehoorgestremdes het ’n mens nóg dankbaarder gestem dat jy oor die gebruik van al jou sintuie beskik.

Marsanne Neethling en Ayesha Ramjugernath van Jazz Hands – Signs of a Language het as tolke opgetree vir die dowe gehoorlede. Hennie het vooraf aan die gehoor verduidelik dat Marsanne die dialoog van sekere karakters sal tolk en Ayesha die ander. Hulle teenwoordigheid op die verhoog is egter geensins steurend nie. Trouens, die twee is uiters professioneel en die aksie op die verhoog is boonop so meesleurend dat jy heeltemal van die tolke vergeet. Jy onthou hulle eers weer aan die einde wanneer die dowe gehoorlede net so vinnig op hulle voete spring soos die res van die gehoor om die nodige eer te betoon aan ’n ensemble spelers wat sonder uitsondering hulle harte uitgespeel en sodoende die gehoor s’n verower het.

Hennie se benadering as skrywer is om aanvanklik kortliks die konteks te skep en die karakters voor te stel, maar sodra Annie (Cintaine Schutte) en Helen (Judi Hattingh) kennis maak in 1887, verskuif die fokus na die storm en drang van die verhouding tussen die onderwyseres en haar uiters begaafde maar opstandige leerling, en die sukses al dan nie van Annie se werk met Helen.

Corli de Kok se houtskoolsketse wat met die bekendstelling van die karakters agter teen die muur vertoon word, is kenmerkend van die tydvak waarin die stuk afspeel. Dit het my onder meer laat dink aan die sketse wat James Mahoney vir Charles Dickens se Oliver Twist gedoen het, ’n gepaste verwysing na Annie en haar boetie Jimmie se tyd in die weeshuis oftewel die “poor house” soos dit toe bekend gestaan het.

Jy besef gou dat die aanvanklike konteks heeltemal genoeg was, want jy eien skakels tussen die karakters se optrede en wat jy in die inleiding omtrent hulle geleer het. Annie hoor byvoorbeeld kort-kort Jimmie se pleitende stem toe hy haar laat belowe het sy sal hom nie verlaat nie.

Hennie verwaarloos egter nooit die drade wat almal aanmekaar bind nie. Die frustrasie wat ’n mens voel wanneer die gesinslede Annie se lang werksure en uiterste geduld deur hulle onkunde en liefde vir Helen ondermyn, is ’n bewys dat die gehoor vroeg reeds ingekoop het by die belang wat almal aan Helen se welstand heg.

Die grootste openbaring is gewis die 13-jarige Judi Hattingh, ’n gr. 7-leering aan die Curro-laerskool in Durbanville, wat ’n vertolking lewer wat jou asem wegslaan. Sy speel met soveel beheersing en sensitiwiteit, al het sy geen dialoog om haar te rugsteun nie.

Deel van die amper twee uur lange drama is lang periodes wat sonder enige dialoog afspeel, amper 30 minute in totaal, vertel Hennie agterna. Dit beteken egter nie dat dié dele nie ongelooflik spanningsvol is nie. Die gehoor was deurgaans tjoepstil, hulle oë vasgenael op die verhoog. Die stiltes is meestal as gevolg van die tweestryd tussen Annie en Helen, met eersgenoemde wat daarop aandring dat Helen taal moet leer en poog om daarmee tot haar deur te dring en Helen se weerstandigheid en daaropvolgende woede-uitbarstings.

Jy kan nie help om net jou kop te skud as jy dink aan die ongelooflike geduld en insig wat dit moes verg om vir Helen Keller te leer kommunikeer nie. Trouens, dit was so geslaagd dat sy die eerste blinde en dowe persoon geword het om suksesvol ’n universiteitsgraad te voltooi. Toetse het glo later gewys Helen het ’n IK van 160 gehad.

Rocco Pool se monochroom stelinkleding, sag belig met pastelle, is nommerpas en versinnebeeld Helen se donker lewe sonder kleur, terwyl Rouvé Hattingh Pool se styl komplementeer met haar gebruik van wit, swart en grys vir die kostuums met hulle eenvoudige lyne wat die Victoriaanse era suggereer. Weens die praktiese aard van die stel is geen omslagtige toneelwisselings nodig nie, nie eens wanneer die spel verskuif van die Kellers se huis na die orgideëhuis waar Annie en Helen afgesonder word sodat Helen sonder inmening kan leer nie.

’n Mens hou gewoonlik die lekkerste vir laaste. In hierdie geval is dit die formidabele ensemble akteurs wat Hennie vir hierdie besonderse drama byeengebring het. Die grootste openbaring is gewis die 13-jarige Judi Hattingh, ’n gr. 7-leering aan die Curro-laerskool in Durbanville, wat ’n vertolking lewer wat jou asem wegslaan. Sy speel met soveel beheersing en sensitiwiteit, al het sy geen dialoog om haar te rugsteun nie. G’n wonder nie sy het vanjaar die Kanna-toekenning as beste opkomende kunstenaar of nuweling ingepalm. Groot dinge wag op dié jongeling.

Helen se ouers, kapt. Arthur en Kate Keller, gespeel deur Stian Bam en Bianca Flanders, is net so voortreflik in hulle rolle. Stian lewer ’n kragtige vertolking van ’n man wat sy rol as hoof van die huis ernstig opneem en nie juis die teëpraterige Annie kan kleinkry nie. Selfs in sy uitbarsting teenoor Annie oorskry Stian nooit die grense nie en stap hy met presisie op die fyn lyn tussen groot speel en oorspeel. Ervaring en talent is ’n wonderlike kombinasie.

Jy kan nie help om net jou kop te skud as jy dink aan die ongelooflike geduld en insig wat dit moes verg om vir Helen Keller te leer kommunikeer nie. Trouens, dit was so geslaagd dat sy die eerste blinde en dowe persoon geword het om suksesvol ’n universiteitsgraad te voltooi.

Bianca versinnebeeld van haar kroontjie tot haar toontjie die Victoriaanse huisvrou wat haar plek ken, sag praat en met groot sorg net die beste vir haar gesin wil doen. Wanneer haar dogter se welstand egter ter sprake is, trek sy haarself aan haar skoenveters op, sê aan die kaptein waar hy sy volgende maaltyd kan kry en gee die patriargie sommer terselfdertyd ’n skop in die jis. Te midde van alles bly sy altyd ’n dame.

Eldon van der Merwe as Helen se 23-jarige boetie James is die een wat sorg vir die humor en ligter oomblikke. Hoewel hy net 5 jaar jonger as Annie is, is die verskil in hulle lewensbenadering opmerklik. Sy dra moeilik aan die lewe weens haar vroeëre swaarkry, terwyl James se bevoorregting hom goed te pas kom, al verwys hy dikwels daarna dat Helen al die aandag kry en hy niks nie. Tog straal daar ’n ondeundheid deur hom wat skitterend deur Eldon uitgebeeld word. ’n Mens kan nie help om van hom te hou nie!

Jy kan jou kwalik iemand anders voorstel wat die rol van Annie so outentiek en treffend sal kan vertolk soos Cintaine Schutte. Daar word soms (agter die hande) na haar verwys as die volgende Anna-Mart van der Merwe of Sandra Prinsloo. Dis egter nie te ver van die waarheid af nie. Cintaine beskik oor Sandra se vermoë om elke teks waaraan sy raak in goud te verander, terwyl sy Anna-Mart se vermoë ewenaar om empatiese en egte karakters te skep. Dit is dalk nie regverdig om haar met ander te vergelyk nie, maar die mense bedoel dit bloot as ’n kompliment. As jy boonop vir vandag se gehoor vertel dat sy die hele stuk met ’n geskeurde meniskus en ander beserings gespeel het, word sy gewis tot heilige verklaar, want haar vertolking was bomenslik. Brava, Cintaine!

Die res van die vertonings by die Woordfees is ongelukkig reeds uitverkoop, maar dit sal my nie verbaas as Annie+Helen dalk ’n speelkans by die Baxter kry nie. Hou julle oë oop! Terloops, welkom terug by die feeste, Hennie van Greunen, en geluk met jou uitstaande werk!

Annie+Helen

12 OKT. 09:30 & 20:00 | 18 OKT. 09:30 | 19 OKT. 10:30

Adam Small Auditorium

Facebook
Twitter
LinkedIn