SPIER TONEEL
Met meer as die maan gepla
Produksie: The Moon Looks Delicious From Here
Deur: Naudé van der Merwe
Foto’s: Golda Simmers and Carl Collison
In die bekroonde eenmanvertoning The Moon Looks Delicious From Here neem die akteur en skrywer Aldo Brincat jou op ’n emosionele en fisieke reis van Noord-Afrika na Mauritius en eindelik die Suid-Afrikaanse ooskus. Jy’s nooit seker waarheen ons op pad is nie, maar die rit is uiters bevredigend.
’n Leë verhoog sonder ’n stel beteken een van twee dinge: Geen van die betrokkenes het ’n oorspronklike idee gehad oor wat hier moet gebeur nie en ons kan amdram uit die onderste rakke verwag; of jy kan jou gereed maak vir iets wat jou onverwags rondom minuut 40 aan die strot gaan gryp op die beste moontlike manier. In hierdie eenmanvertoning was dit gelukkig opsie twee.
Dis die tweede keer dat ek dié produksie sien (dit was al reg oor Suid-Afrika op die planke) en met hierdie herbesoek is dit asof die impak eksponensieel vergroot het.
Dié grootliks outobiografiese aanbieding deur die akteur en skrywer Aldo Brincat neem jou op ’n emosionele en fisieke reis van Noord-Afrika na Mauritius en eindelik die Suid-Afrikaanse ooskus. Jy’s nooit seker waarheen ons op pad is nie, maar die rit is uiters bevredigend.
Dis ’n immigrantestorie wat afspeel teen die onstuimige apartheidsjare van die 70’s en 80’s. Dit laat jou opnuut besef dat enigiemand wat sosio-politieke nostalgie vir hierdie tydperk het, behoorlik waansinnig is.
Die openingstoneel vang jou dadelik: Aldo se ouers se ontmoeting. Sy pa, Mario, is van Malta en het in Egipte grootgeword, en sy ma, Marie, kom van Mauritius. Die Tweede Wêreldoorlog en Mauritius se onafhanklikheidswording sit nog vlak in almal hier se geheue. Albei beland (onafhanklik van mekaar) in die 1960’s in Durban en hulle families maak Suid-Afrika hulle nuwe tuiste. Dis ’n immigrantestorie wat afspeel teen die onstuimige apartheidsjare van die 70’s en 80’s. Dit laat jou opnuut besef dat enigiemand wat sosio-politieke nostalgie vir hierdie tydperk het, behoorlik waansinnig is.
Om ons weer en weer en wéér te konfronteer met feite wat ongemaklik sit en dade wat dalk onvergeeflik is, is tog sekerlik een van die redes waarom mense kuns maak.
Die toneelspel is uitstekend, die aksentwerk onverbeterlik – dit help natuurlik as jy jou eie ouers se aksente kan naboots – en Brincat kry dit reg om met die kleinste aanpassings verskeie karakters uit te beeld. Sy vertelling, en Sjaka September se regie, is so gestroop van enige tierlantyntjies dat jy nie anders kan nie as om Aldo en al die ander karakters – sy pa, sy ma, en veral sy vriend Wayne – se emosies in jou bors te voel druk.
Jong Aldo wil ’n kulkunstenaar word en gebruik deurgaans Chinese skakelringe om as kind, tiener, en eindelik volwassene truuks te doen. Die oëverblindery-truuk is dalk ’n voor die hand liggende metafoor vir alles wat in die land gebeur, vir wat in Aldo se kop (en broek) aangaan, maar dit slaag nietemin.
Die toneelspel is uitstekend, die aksentwerk onverbeterlik – dit help natuurlik as jy jou eie ouers se aksente kan naboots – en Brincat kry dit reg om met die kleinste aanpassings verskeie karakters uit te beeld.
Uiteindelik is dit ook ’n eerlike blik op die Suid-Afrikaanse samelewing deur die oë van ’n groep mense wat entoesiasties en positief oor die lewe in hierdie land wil wees, en smag om openhartig met hulle nuwe land en die mense hier om te gaan, maar die fascisme van die tyd kortwiek elke tree in ’n hoopvolle rigting.
En tog is hier hoop. Dis moeilik om presies te probeer vaspen waar dit lê, maar dit sit duidelik daar, dalk in die maan?
’n Mens verstaan heeltemal waarom hierdie stuk pryse by die Nasionale Kunstefees in Makhanda en die Bitesize Theatre Festival in Londen gewen het. Dit is definitief die kaartjieprys werd.
The Moon Looks Delicious From Here
15 OKT 16:00 | 17 OKT 12:30
HMS Bloemhof Skoolsaal