CLASSICAL MUSIC
As ’n Du Plessis betrokke raak by Bach...
Produksie: Bach to Bolling
Deur: Wayne Muller
Foto’s: Verskaf
Die Charl du Plessis-trio se jongste program is presies wat jy van hulle verwag: bekende klassieke musiek met ’n jazz-kinkel… en daarby ’n virtuose verrassing.
’n Mens kry sommer ’n lekkerkry-tinteling as jy sien die Charl du Plessis-trio maak weer ’n draai by die Woordfees. Hulle opgejazzde klassieke musiek is altyd skerp en laat jou in jou sitplek bons.
Bach to Bolling, die trio se jongste program, is presies wat jy van hulle verwag: bekende klassieke musiek met ’n jazz-kinkel… en daarby ’n virtuose verrassing.
Du Plessis, van agter die klavier aan die stuur van die trio, spot met die gehoor dat Bach se musiek soos ’n gedig is waarby jy niks kan voeg nie – iets byna volmaak en volledig – nét totdat ’n Du Plessis betrokke raak… Want dan kry jy Bach vermeng met ’n paar eg Suid-Afrikaanse deuntjies, en op die koop toe ook ons volkslied daarby ingeweef.
Dit is dan ook so met die bekende Bach-stuk wat ons ken as “Air on the G String”, waarmee die konsert Saterdagaand begin het. Dié gewilde wysie kry nuwe lewe in die hande van Du Plessis, Peter Auret (perkussie) en Werner Spies (kontrabas).
Met Brahms se “Wiegelied” het Martens sy tjello laat sing soos ’n trosende moederstem. Ná die opwinding van die suites was dit ’n welkome rustigheid.
Daarna het die tjellis Peter Martens hom by hulle aangesluit vir ’n jazzerige weergawe van Bach se Tjellosuite no. 2 – een van die ses suites wat hy vir solotjello geskryf het, maar in dié opvoering uiteraard met die trio instrumentaliste ingeklits.
Die eerste beweging het Martens in sy oorspronklike gedaante gespeel, maar dan, wanneer die trio bykom, wys dié tjellis ’n ander sy van sy spel. Die trio volg hom nougeset, selfs sy asemteue wat elke frase opnuut laat lewe.
Met Brahms se “Wiegelied” het Martens sy tjello laat sing soos ’n trosende moederstem. Ná die opwinding van die suites was dit ’n welkome rustigheid.
Maar daardie sussende kalmte moes vinnig plek maak vir Astor Piazzolla se Le Grande Tango vir tjello en klavier. Martens het genoem dit is Piazzolla se enigste solowerk vir tjello – en dis beslis een waarna ’n mens meer moet luister.
Tussendeur Piazzolla se vurige tangostyl, goed vasgevang deur die musici, skets die musiek ook ’n melancholiese toneel met somber klanke; by tye selfs filmies van aard.
Ter afsluiting was Claude Bolling (1930-2020) se Suite vir Tjello en Jazztrio beslis die hoogtepunt. Die vier bewegings wissel van ’n Barokstyl tot ’n Romantiese inkleding, en eindig dan in ’n virtuose finale wat die gehoor in vervoering gehad het. Martens se tegniek met die virtuose passasies is verstommend, maar bowenal het dit groot luistergenot vir die gehoor verskaf.
Van Vivaldi tot Beethoven is al deur die Charl du Plessis-trio opgejazz, en met Bach to Bolling verdien hulle nog ’n sterretjie. ’n Mens kan net wonder wat hulle vir die volgende Woordfees gaan optower…