KINDERFEES
Waarom dan so bedeesd, kinders?
Produksie: The Magic Flute
Deur: Wayne Muller
Foto’s: Dominic Taylor en Llewellyn de Wet
Kinders is ’n tawwe teatergehoor. Verhoogfoefies lei hulle nie om die bos nie en hulle maak ook nie van hulle hart ’n moordkuil nie – hulle sê ’n ding soos dit is. Maar as die jongspan stil en bedeesd in ’n teater sit, moet jy bekommerd raak.
Wanneer ’n mens as volwassene na ’n kinderteaterproduksie gaan, is een van die groot plesiere om te kyk hoe kinders se verbeelding hulle tot binne die storie op die verhoog neem. Die helde word hulle vriende en hulle leer sommer self vir die booswigte ’n les of twee.
Maar as daardie storie in die vorm van ’n opera kom, kan ek my voorstel dit moet nogal ’n opdraande stryd wees om dit toeganklik te maak vir die jonges.
Kaapstad Opera is by vanjaar se Woordfees met ’n produksie van W.A. Mozart se gewilde The Magic Flute – aangepas vir ’n kindergehoor! Die opera is heelwat verkort en die storie se kinkels uitgestryk om dit eenvoudig te hou. Om die kleinspan te help is daar ’n verteller wat die drade bymekaarhou.
In dié weergawe is die karakters almal voëls, behalwe die voëlvanger, Papageno, en hulle word uitgebeeld deur poppe wat die sangers beheer. Die verhaal volg die verliefde Tamino wat sy geliefde Pamina moet red uit die kloue van Sarastro (dis nou volgens haar ma, die Koningin van die Nag). Tamino is gewapen met ’n towerfluit en die hulp van die koddige Papageno, wat óók so graag ’n liefling aan sy sy wil hê.
Al is die opera verkort, is al die gewilde arias nog daar – van die Koning van die Nag se wraakaria met die hoë F’s en Tamino se “Dies Bildnis ist bezaubernd schön” tot Pamina se “Ach, ich fühl’s” en Sarastro se “O Isis und Osiris”.
Terwyl die verhaal in die towerwêreld voor hulle afgespeel het, was Saterdag se kindergehoor maar bedeesd. Hoekom weet nugter. Dalk het die kinders in die HMS Bloemhof-sentrum te ver van die verhoogaksie af gesit. En buiten die verteller was dit slegs een keer dat ’n karakter direk met die kinders gesels het – en dis gewoonlik die beste deel.
Om ‘n opera vir kinders op die planke te sit is g’n, wel, kinderspeletjies nie. Blykbaar soek hulle meer as helder stemme, gevleuelde karakters en ‘n towerwoud op die verhoog.
Hoe ook al, die regisseur, Elizma Badenhorst, het ’n skaflike produksie na die planke gebring. Dit het helaas wel oomblikke gehad waar die energie getaan het en waar die vloei tussen tonele gladder kon wees om ons aandag – en veral dié van die kinders – te behou.
Die sangers, wie se name nie almal in die programboekie genoem word nie, het deurgaans in sang en toneelspel die musiek en karakters lewend gemaak. Onder leiding van Jan Hugo as dirigent het Nathan Lewis (klavier) en Garreth Cederes (fluit) die sangers sterk begelei.
Die Towerfluit is ’n goeie keuse om kinders te lok na die magiese wêreld van opera, maar te oordeel na die jongspan se reaksie Saterdag soek hulle nog ’n tikkie opwinding by. Of dalk was hulle stomgeslaan deur die helder stemme, die gevleuelde karakters en die towerwoud op die verhoog.
*
The Magic Flute
12 OKT. 12:00 | 13 OKT. 15:00 | 14 OKT. 11:00
90 min | HMS Bloemhof-sentrum
R130-R260 | R160-R290 at the door