SPIER TONEEL
Nic-met-die-goue-stem bied ’n terugblik op jou eie lewe
Produksie: Nic de Jager: In my eie woorde
Skrywer: Marina Griebenow
Foto: Verskaf
Nic de Jager, raconteur en radioman met die goue stem, het by twee geleenthede by vanjaar se Woordfees staaltjies en vertellings oor sy besonderse lewe met ’n waarderende gehoor gedeel. Dit het by tye gevoel of jy ’n terugblik op jou eie lewe kry, skryf Marina Griebenow, want hy is so ’n inherente deel van jou herinneringe.
Dis seker nie onvanpas om Nic de Jager as ’n Renaissance-man te beskryf nie. Hy is immers iemand van vele talente waarvan die helfte ons nog nie vertel is nie – tot nou. Nic de Jager: In my eie woorde is ’n poging deur Ingrid Howard, eienaar van die Drostdy-teater in Stellenbosch en regisseur van dié woordkunsproduksie, om in Nic se 85ste lewensjaar die sluier so effens te lig op wat hy al alles in sy lewe gedoen en bereik het.
Coenie de Villiers is ’n bedrewe en hoogs ervare onderhoudvoerder. As regisseur kon Ingrid kwalik iemand beter gekies het om hierdie gesprek te lei. Hy is altyd deeglik voorberei en kan die gesprek bestuur as die persoon met wie hy ’n onderhoud voer toegee aan die versoeking om afdraaipaadjies te volg. Met iemand wat so ’n vol lewe soos Nic gelei het, gebeur dit maklik. Om Nic te kry om oor die hoogte- en laagtepunte van sy lewe te praat is nie ’n maklike taak nie. Soos Coenie herhaaldelik noem, is Nic erg beskeie en praat hy nie graag oor homself nie. Staaltjies en gebeurtenisse, ja, maar nie jakkals prys sy eie stert nie.
Om Nic te kry om oor die hoogte- en laagtepunte van sy lewe te praat is nie ’n maklike taak nie. Soos Coenie herhaaldelik noem, is Nic erg beskeie en praat hy nie graag oor homself nie. Staaltjies en gebeurtenisse, ja, maar nie jakkals prys sy eie stert nie.
As die huisligte uitdoof, voor die verhoogligte opkom, hoor ons Nic se welluidende baritonstem met ’n voorlesing van “Raka” deur N.P. van Wyk Louw. Jy kan omtrent ’n speld hoor val. Die meeste mense van my ouderdom – die ouditorium was gepak met gryskoppe – sal Nic se stem in ons slaap herken. Hy is immers al sedert die jare sestig ’n radioman, rolprent- en televisie-akteur, nuusleser van formaat, kenner van opera en klassieke musiek, resensent en liefhebber van vinnige motors en motorfietse… te veel om op te noem!
Nic begin op die dag van Verwoerd se begrafnis by die Afrikaanse radiodiens van die ou SAUK werk. Net vir die grap gee Coenie vir Nic die oorspronklike teks wat daardie dag uitgesaai is en vra hom om dit voor te lees in die omroepstyl van daardie tyd terwyl die beeldmateriaal van die begrafnis geprojekteer word. Nic is ’n platjie en stem natuurlik in. Genade, die gedrae en sonore voordrag is terselfdertyd onthutsend bekend en erg snaaks.
Die mees verrassende aspek van die gesprek met Nic is nie net die omvang van sy ervarings en tydverdrywe nie, maar die unieke beeld- en stemopnames wat gebruik word wat die gehoor nooit andersins sou kon sien of hoor nie. Toe ek agterna daaroor uitvra, vertel Coenie Nic het ’n tyd gelede ’n klomp bokse met sy persoonlike memorabilia by Ingrid afgelaai. Sy het stelselmatig deur die magdom inligting gewerk en (in samewerking met Nic) die program saamgestel.
Op ’n vraag oor watter stuk musiek hy sal kies as die laaste waarna hy sal wil luister, kies hy ‘In Abendrot’ uit Richard Strauss se Vier Letzte Lieder. ’n Man met onkreukbare smaak, dink jy by jouself.
Tog was daar dinge wat duidelik ook vir hom ’n verrassing was, soos ’n video-opname van die presiese konsert in San Francisco in 1969 toe hy daar na Pavarotti gaan luister het, asook ’n opname van die oomblik in ’n konsert van Diana Ross in Caesar’s Palace in Las Vegas toe dié gewilde sangeres so amper sy naam krater gemaak het. Gelukkig het sy na wat na ’n ewigheid gevoel het uiteindelik die knaap langs hom gevra om te sing en Nic is ’n ewige verleentheid gered.
Deur Nic se vertellings onthou jy ook ander bekendes wat deel was van jou eie verwysingsraamwerk. Hy vertel van die keer toe hulle ’n begrafnistoneel verfilm het en die regisseur Manie van Rensburg wou hê dit moet reën om die somberheid van die okkasie te beklemtoon. Dulcie van den Bergh het almal gerusgestel. “Dit sál reën,” het sy gesê. “Hoe weet jy?” vra hulle haar. “Want ek het daarvoor gebid,” antwoord sy. En jou werklikwaar, toe hulle by die plek naby Villiersdorp kom waar die toneel verfilm sou word, het die hemele toegetrek en dit het begin reën. Toe hulle klaar was, het die lug weer oopgetrek.
Nic se skatkis van stories is bodemloos. Daar is natuurlik gepraat oor sy ouers en broers, sy oupa se broer en Paul Kruger wat saamgekuier het oor hulle seëlversamelings, sy noue bande met sy alma mater, Paul Roos Gimnasium, waar sy pa die skoolhoof was en later ook sy broer Jock, sy geweldige liefde vir diere en waarom sy een hond se naam Raspoetin was, die stand van die wêreld (O tempora, o mores!), sy lawwe kostuum toe hy Orsino gespeel het in Twaalfde Nag met Cobus Rossouw as regisseur, en hoeveel keer hy en Nic Swanepoel in die moeilikheid was oor hulle manewales in hulle radioprogram Nic en Nic.
Die ernstiger aspekte van sy lewe word nie geïgnoreer nie, soos onder meer sy groot droom om ’n argitek te word wat deur die ongevoelige burokrate by Tukkies gefnuik is en die nagevolge van skokterapie wat hy ontvang het by Kruitfontein nadat hy in sy finale jaar sy studies gestaak het. Erns en luim vleg ineen in die lewe van ’n besonderse individu.
Ter afsluiting vra Coenie of Nic dalk enige raad vir jongmense het. Nic erken hy was heeltemal te hard op homself en het te veel van homself gevra. “Moet dit nie doen nie,” maan hy. En op ’n vraag oor watter stuk musiek hy sal kies as die laaste waarna hy sal wil luister, kies hy “In Abendrot” uit Richard Strauss se Vier Letzte Lieder. ’n Man met onkreukbare smaak, dink jy by jouself.
Dit het by tye gevoel of jy ’n terugblik op jou eie lewe kry, want hy is so ’n inherente deel van jou herinneringe. Ons almal het getuies nodig, selfs al is jy so geliefd soos Nic de Jager. Dit was ’n voorreg om een van hulle te kon wees.
Die gesprek sluit af met Nic wat die gehoor groet met die woorde wat hy gewoonlik aan die einde van sy Sondagprogram op RSG, Nic se goed, sê: “Wees lief vir jou naaste. Wees lief vir die diere. Wees lief vir die aarde. Mag die meetsnoere vir jou op lieflike plekke val. Blaas hoog die vlam.”
*
Nic de Jager: In my eie woorde
13 OKT. 15:00 | 14 OKT. 10:00
Drostdy Theatre