SPIER TONEEL
Die daad van die liefde is die gee van ’n naam
Produksie: Joshlin: Meer as ’n naam
Deur: Lynthia Julius
Foto’s: Natalie Gabriels
Joshlin: Meer as ’n naam het vandeesweek by die Toyota Stellenbosch Woordfees gedebuteer en die bekroonde skrywer en dramaturg LYNTHIA JULIUS is diep geraak en tot nadenke genoop oor haar eie kind, ouerskap en gemeenskappe se boetedoening.
“En jy wat hier sit, weet jy waar jou kind is?”
Ek moet ’n Courtleigh light. Ek moet. My wind is da uit.
Sit. Hier. Waar. Kind. Jou. Is.
Slat dit aanhou en aanhou en aanhou wind uit. Jou wind uit. My kjeent is in Kimberley by my ma. Die mom-guilt etter klaar uit my uit. My kjeent is by my ma. En die area van ons meenthuis is veilig. Rêrig. Ek sit hier en die mom-guilt ry my en my kjeent is veilig. Ek het haar nounet ge-video call. Ek moet ’n Courtleigh light. Die ligpaal op die verhoog hou aan flikker en koerant-koerant die verhoog vol en my kjeent is nie dood nie. Nie deur koerant en kookolie en kookwater af laat drink nie. My liggaam is nie tempel nie, maar my baar is ook nie begraafplaas nie. Ek het nie my kjeent met koerant en kookolie en kookwater weggemaak nie.
Ek sit in Stellenbosch en my kjeent is in Kimberley en die verhoog is kjeeners vol. Maar my kjeent is veilig. Sy lewe. Ek kan nie ’n oproep maak in ’n teater nie.
Sit. Hier. Waar. Kind. Jou. Is.
Joshlin, gôt, Joshlin. Ek sit by ’n fees waar ek netnou ’n glas chenin blanc gedrink het. Die daad van die liefde is die gee van ’n naam, het Charl-Pierre Naudé geskryf. En jou naam was oral. Ek was swanger en ek was van psych-medikasie af en ek kon nie slaap nie en my kjeent het in my getrap en skop en sy het in ’n onnerhoud oor jou antwoord gegee: Sy het gedink ons gaan jou nie meer sien nie.
Ek het jou op die TV en in tydskrifte en op Facebook en op TikTok en in koerante gesien. Die verhoog vol koerante. Ek was swanger en ek was van psych-medikasie af en ek het jou dae deur gesien. Aande deur jou naam gehoor – insomnie en nie die psigiater, nie die ginekoloog, nie een kon goed voorskryf vir dit nie. My kjeent het in my getrap en ek het geweet waar my kjeent is – sy was binne-in my. Binne my. In my. Ek hoef haar nie gesoek het nie. Sy was in my. Binne my. Veilig en gôtalleen onveilig in my. Toe my ma-goed bang is die pille se uit-tippex is te veel en die ginekoloog vra dat ek nog net twee weke uithou – hy sal moet ’n keisersnit doen. Hy sien ek cope nie. En my kjeent kort nog twee by om veertig weke vol te maak.
Het jy, Joshlin, min geweet en baie verstaan, want voor gôt hoop ek, alles dit wat jy moes sien – gesien het, min van geweet en nog minner verstaan het. Ek belowe ek weet waar my kjeent is. My kjeent is by my ma. Sy dra haar naam soos jy.
Ek het aande deur gesit. By my plek in Kimberley gesit. Jou naam het weer en weer gehardloop. Vasgetrap. Stilgestaan. Jou naam was nie ’n komma of ’n punt of ’n parentese nie. Jou naam is jou gegee en jy het jou naam gegee en jou naam het uit die klippe getuig. Die see was te bang om jou naam in te sluk – haar hart was reeds te breek.
Ek was ver van die see. My Aria het in my gesit. Ek het geweet waar sy is. Ek het klaar mom-guilt gehad. Ek kon mis maar net die anner twee weke uithou. Koerante. Die ligpaal wat net in die begin flikker. Sou Aria aan verwerping ly?
Het jy.
Kon jy dit ooit vir jou ma sê.
Of het jou ma jou, soos myne, geleer, ’n kjeent het nie ’n bek nie.
Ons het min geweet, maar baie verstaan. Sê sy. Sê die antie.
Sal Aria eendag min weet en baie verstaan, of sal sy baie weet en min verstaan? Die goed jaag my die toneelstuk deur.
Het jy, Joshlin, min geweet en baie verstaan, want voor gôt hoop ek, alles dit wat jy moes sien – gesien het, min van geweet en nog minner verstaan het.
Ek belowe ek weet waar my kjeent is. My kjeent is by my ma. Sy dra haar naam soos jy. Ek dra my ma en my ma dra my dogter, Aria.
Artjie, my ma het klaar haar verwerping aan my oorgedra. Laat die wolke breek val. Die waters rooi huil. Die klippe mieliemeelpap word voor ek ooit dit aan jou oordra.
Jy weet sy het ’n naam, Artjie. Jy weet sy is meer as ’n naam: Joshlin. Sy weet dít ook.
*
Joshlin: Meer as ’n naam
11 OKT 17:30 | 12 OKT 13:30 | 13 OKT 17:30
60 min | kykNET Rhenish Girls’ High
R150-R220 | R180-R250 by die deur
Regisseur Jason Jacobs en Byron Klassen
Skrywer Herschelle Benjamin
Met Bronwyn Damon, Chriswill Kotze, Janru Steenkamp, Mahlatse Molubi, Maundrey Jantjies, Michael Ruzvidzo, Ronald Theron, Rehane Abrahams, Adri-Jo Waterboer