TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Wanneer Amanda nog ’n keer jou hart breek
Produksie: Amanda Strydom: Breekgoed en balsem
Deur: Nadine Petrick
Foto: Nardus Engelbrecht
Die ligte in die Drostdy-teater verdoof en Nadine Petrick is meteens weer ’n klein dogtertjie wat haar hart vashou voor Breekgoed en balsem begin, want sy weet na ál die jare verniel Amanda Strydom steeds ’n mens se hart met haar eie weerloosheid.
Ek is van kleins af al ’n onbeskaamde aanhanger van uitgestelde vreugde. As ek ’n boek of tydskrif sou koop, sou ek die nuwe skat eers ’n rukkie op my bedkassie los en nét daarna staar. Daaraan vat. Ek sou nog nie lees nie. Die regte moment sou hom eers ’n dag of drie later aanmeld. Die uitsien na dít wat tussen die blaaie gebeur, het my soms meer oorweldig as die storie self. ’n Nuwe CD. Tori Amos. Ek is te bang om te luister, want ’n mens kan slegs één maal die verrukking van Under the Pink vir die eerste keer beleef. En vakansies. Die uitsien, o, die uitsien.
So is dit ook met teater.
Ek is 19 jaar oud. Amanda Strydom breek my hart met State of the heart.
Ek kan regtig nie onthou hoeveel keer ek al in afwagting in ’n donker, stowwerige Musaion of Aula of Baxter of Artscape of skoolsaal gesit en wag het vir ’n vertoning om te begin nie. Te veel keer om eers te probeer onthou. Ek is van jongs af betower deur dieselfde dinge wat musikante en akteurs en ballerinas waansinnig maak en waarsonder hulle doodeenvoudig nie kan nie – die reuke, die klanke en die gevoel. Die vloek van die kitaar en die rooi fluweelsitplekke.
Ek kan die weemoed wat sy in daai rooi rok en die sadness in haar oë op jou loslaat, op ’n lomp manier probeer verwoord.
Daai goed het ook in my in my lyf gaan sit, seker omdat ek ’n ouer suster het wat vir die destydse Truk gedans het. Ek wou nooit self ballet doen nie (ek moes) – ’n straf erger as skeinat op hoërskool. (Ek wou eerder karate doen, go figure.) Maar die Staatsteater, met sy indrukwekkende muurbehangsels, die Danie de Jager-beeld wat in sy majestueuse glorie buite staan en hande klap; die volvloermatte en die vroue met hulle fancy outfits… dit was magic, keer op keer. Die musikante in die orkesput, die instem van instrumente voor dit tjoepstil raak en die gordyne wat ten einde laaste lig… In daai oomblik van stilte, nét daar, het ek vir die eerste keer my hart verloor. En sedertdien het ek al ’n duisend klein dode gesterf.
Ek is 21 jaar oud. Amanda Strydom breek my hart met Vrou by die spieël.
Gedurende ’n kunstefees gaan ek daagliks ’n klomp keer dood. In Grahamstad maak Anna-Mart en Gys de Villiers my dood met Uit die bloute; in Oudtshoorn maak Lindie Stander my dood met Tip; in Potchefstroom sterf ek weer en dis Rolanda Marais se skuld. In Stellenbosch is daar ’n veldslag. Gelukkig is al dié klein dode nés daai ander een, en kom ’n mens uiteindelik elke keer weer op vir asem. Altyd net betyds vir die volgende aanslag.
Ek is 49 jaar oud. Amanda Strydom breek nog ’n keer my hart.
Ek is 49 jaar oud. Amanda Strydom breek nog ’n keer my hart.
Ek kan die weemoed wat sy in daai rooi rok en die sadness in haar oë op jou loslaat, op ’n lomp manier probeer verwoord. Ná ál die jare verniel sy ’n mens steeds met haar eie weerloosheid. Jý weet ook al hierdie goed, selfs al het jy nog nie eens haar nuwe vertoning gesien nie.
Ek sit in die Drostdy-teater. Die ligte verdoof. Daai klein dogtertjie, dieselfde een wat met ’n ingehoue asem sit en wag vir die magic om te gebeur; en wat heimlik hoop dat die stil oomblik wat die vreugde vooruitgaan net ’n bietjie langer moet aanhou, daai dogtertjie hou haar hart vas. Want sy weet dis weer sulke tyd.
*
Amanda Strydom: Breekgoed en balsem
18 OKT 17:30 | 19 OKT 11:30
Drostdy-teater