OPINIE

En die Duracell-toekenning gaan aan...

Deur: Ilza Roggeband
Foto: Nardus Engelbrecht

Aanhou beweeg en geraas maak. Jan Rabie se woorde is die perfekte beskrywing vir sommige van dié voor en agter die skerms op die Woordfees, sê Ilza Roggeband.

Om ’n fees so groot soos die Toyota Stellenbosch Woordfees bymekaar te sit is ’n enorme taak. Om almal op die regte tyd op die regte verhoog te kry is ’n Excel-blad wat ek nie wil aandurf nie.

By vanjaar se fees was daar ’n magdom mense wat dit reggekry het om vele hoede te dra en hulle kom almal in aanmerking vir die Duracell-hasie-toekenning én ’n paar ander. Onder die benoemdes tel:

  • Eldon van der Merwe in Annie + Helen en Woordedief
  • Brendon Daniels in Moedswil en muitery en Boesman en Lena
  • Cintaine Schutte in Annie + Helen en ’n Begin waarvan sy ook die vervaardiger was
  • Lee-Ann van Rooi as die regisseur van Kompoun en Kinderlê
  • Wilhelm van der Walt in Seun en ‘KUNS’
  • Dean John Smith in Moedswil en muitery en Vannie wal, af
  • Angelo Bergh in Vannie wal, af en Kompoun.

By vanjaar se fees was daar ’n magdom mense wat dit reggekry het om vele hoede te dra en hulle kom almal in aanmerking vir die Duracell-hasie-toekenning én ’n paar ander.

Die wenners in die onderskeie kategorieë is:

Die Veel-veel-veelsydigheid-toekenning gaan aan Wian Taljaard vir sy spel in die kinderproduksie Woordedief, die drama Boklied en die eenmanstuk Ont-.

Die Ek’s nie Barbie-toekenning gaan aan Tinarie van Wyk Loots vir haar spel in Huis van Sand en regie van ’n Begin en Moedswil en muitery. Sy het ook tyd op die fees gehad om publisiteit te doen vir die kykNET-reeks Appels en tee wat Dinsdagaand begin en waarin sy een van die hoofrolle speel.

Die Meer as een hoed-toekenning gaan aan Wessel Pretorius. Hy was in ‘KUNS’ te sien en is die regisseur van Die een wat bly, én dan is hy die vervaardiger, skrywer en regisseur van Ont-. Vroeër die maand was hy in Abu Dhabi in die Suid-Afrikaanse produksie van Othello.

Die #mybreinstoorwoorde-toekenning gaan aan Albert Pretorius vir sy spel in Moedswil en muitery en Ek is nie Danie. Hy was ook in Abu Dhabi vir Othello en begin môre aan ’n nuwe Afrikaanse komediereeks werk.

Tinarie van Wyk Loots, Foto: Nardus Engelbrecht
Wian Taljaard, Foto: Llewellyn de Wet

En… die Duracell-hasie-toekenning gaan aan…

Schalk Joubert!

Ek is nie Danie, Die storie van Vivaldi se “Vier seisoene”, die laatnag Afterpaartie-konserte by die Khaya-kafee, Die Vyftigers, saam met Sima Mashazi in ’n jazzkonsert, Frank Opperman: Oppermanaf, Sonografie en in die band vir Valiant Swart se konsert. Net onder die 30 keer op die verhoog in 9 dae, altyd ’n glimlag en ’n vriendelike woord, en nie één noot uit plek nie. Respek!

Met opregte dank aan elke speler, musikant, kaartjieverkoper, feesganger, pendeldiensbestuurder, klankman, skiewie, koffiemaker, boekverkoper, wynskinker, borg, skrywer, rapper, Woordfees-spanlid, regisseur, toiletrolvervanger, sanger, danser, plakkaatopsitter, stelbouer, venuebestuurder en kaartjietjekker.
Tot volgende jaar.

Facebook
Twitter
LinkedIn