TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Ons harte sing saam

Produksie: New South African Gems
Deur: Maliza Adendorff

Die New South African Gems verwys nie net na die oorspronklike musiek wat Sondagmiddag in die Fismersaal gespeel, gesing en gedans is nie, maar na elkeen wat hulle plek op die verhoog vol staan.

Op die verhoog word die energieke Zolani-jeugkoor onder leiding van Odwa Mvunge gesien saam met Shana Ray, Allou April op kitaar, Ivan Potts op klavier, JP Stevens agter die tromme en Karien de Waal op baskitaar.

Die Zolani-jeugkoor is dalk nie ’n baie groot koor nie, maar slaag tog daarin om die Fismer met ’n diep, ryk klank te vul. Dis verfrissend om te sien hoe elke koorlid hulle rol in die stemgroepe en die koor as geheel net so ernstig opneem soos wat hulle dit geniet om saam musiek te maak. Die verskillende stemgroepe funksioneer goed saam en skep ’n gebalanseerde klank. Met die jolige danspassies moet jy omtrent konsentreer om nie saam te sing en dans nie.

Iets moois gebeur wanneer mense in ’n koor saamsing. Soos wat die individue in die verskillende stemgroepe elkeen laat waai, begin hulle stemme, asemhaling en hartklop ook sinchroniseer.

Die musiek en komposisies wat hier gesing word, is eg Suid-Afrikaans, hoewel daar selfs in ’n stadium Japannees saam met Xhosa gesing word. Die musiek is goed gekies om by die kinderstemme én die res van die musikante te pas, en die optrede lyk volkome moeiteloos. ’n Mens kan maklik vergeet watter ongelooflike werk in so ’n produksie gaan.

Die beste manier om Shana Ray se stem te beskryf wanneer sy op haar eie en saam met die koor sing, is dat dit klink soos wat vars koffie ruik. In haar eie liedjie, “Gee my ’n rede”, wat op die verhoog beskryf word as politieke kommentaar, sing Shana oor kwessies wat veral jong Suid-Afrikaners raak, onder meer werkloosheid. Agter uit die gehoor kom ’n stem: “Sing, my suster!” Shana se sterk, veelsydige stem vat jou aandag en hou dit.

Iets moois gebeur wanneer mense in ’n koor saamsing. Soos wat die individue in die verskillende stemgroepe elkeen laat waai, begin hulle stemme, asemhaling en hartklop ook sinchroniseer. Dit sorg vir ’n gevoel van eenheid tussen die sangers en ’n gedeelde ervaring, en in spesiale gevalle word ook die gehoor betrek. Vandag het presies dit in die Fismer gebeur, toe die gehoor uit ’n Sondagmiddagslapie-blues opstaan en saamsing en ritmies saamdans.

Facebook
Twitter
LinkedIn