EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Pyn en verlies van bendegeweld bring groot prys vir Lewis

Geleentheid: Bekendstelling van die Woordfees-kortverhaalbundel 2026
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Marchelle van Zyl 

In 2022 het Keith Oliver Lewis die eerste keer sy hand gewaag aan ’n kortverhaal wat sowaar gekeur is vir die Toyota Stellenbosch Woordfees se kortverhaalbundel daardie jaar. Hy het wel nie gewen nie, maar ’n belofte aan homself gemaak dat hy weer sal probeer.

Saterdagaand het hy die soet vrug van daai belofte geproe toe sy kortverhaal “Nagwaak” as vanjaar se wenkortverhaal aangewys is. Hy is met ’n huppelstap verhoog toe om sy wentjek van R30 000 te ontvang, en het daai dag in 2022 onthou.

“Daai aand toe wen Lynthia [Julius]. Toe sê ek ekke wil soes sy wies. En kyk nou vir my!”

Die wengeld is danksy die borge, EasyEquities, die Hiemstra Trust en PEN Afrikaans. Vanjaar is ’n rekordgetal inskrywings ontvang: 471 teenoor 329 verlede jaar.

Dié boorling van die Paarl se storie verweef gevoelvol hoe ’n gesin probeer sin maak van die dood van ’n seun in bendegeweld. Dit is geskryf in die taal van sy Paarl met geen pretensie of mooi woordjies nie. Hy stroop alles weg tot net die pyn en wanhoop van verlies oorbly.

Dié boorling van die Paarl se storie verweef gevoelvol hoe ’n gesin probeer sin maak van die dood van ’n seun in bendegeweld. Dit is geskryf in die taal van sy Paarl met geen pretensie of mooi woordjies nie. Hy stroop alles weg tot net die pyn en wanhoop van verlies oorbly. Stories oor bendegeweld is nie nuut nie. Om mense – in dié geval die ouers – sentraal te maak tot die storie, vertel hy dit op ’n manier wat ’n mens anders laat dink en voel oor hoe gemeenskappe geraak word.

Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees, beskryf in haar voorwoord kortverhale as ’n “ou, onderskatte instrument” vir die dringendheid wat die daaglikse polsslag vir ’n skrywer is. In kortverhale, skryf sy, “is daar nie die luukse van stadige onthulling nie – die leser word vertrou om te voltooi wat die verhaal nie volledig kon sê nie”.

Gelukkig het Keith Oliver Lewis gesê wat hy moes – en dit het op die regte ore geval.

  • Vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalbundel met 25 stories is in die Boekwinkel by Die Khaya te koop of aanlyn by woordfees.co.za. Vorige jare se bundels is ook beskikbaar.
Facebook
Twitter
LinkedIn