SPIER TONEEL
‘ge-gebergtes’ kyk vreesloos na oud wees
Produksie: ge-gebergtes
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Verskaf
Saartjie Botha se ontstellende dog roerende drama ge-gebergtes het by die Toyota Stellenbosch Woordfees om verskeie redes op ’n baie persoonlike vlak met Marina Griebenow geresoneer. Te oordeel aan die gehoor se stille fokus deurgaans, die spontane staande applous aan die einde en selfs hier en daar ’n paar trane, was sy ook nie die enigste een nie.
Deesdae voel bykans elke gesprek of dit op dieselfde punt uitloop: mense wat worstel met dieselfde vraagstukke oor wat met hulle ouers of hulself gaan gebeur as die ouderdom knelpunt bereik en op watter tydstip ’n mens daardie besluite moet neem. Eenvoudig gestel: Wat gaan van ons word?
Die probleem word natuurlik verder gekompliseer deur die betrokkenes se aftakeling en verlies aan fisieke krag en kognitiewe samehang namate die jare verbysnel. Die tegnologie se vinnige veranderinge bring sy eie uitdagings en probleme.
Ek het sommer met die intrapslag my pa herken in die openingswoorde van die hoofkarakter in ge-gebergtes, prof. Herman Delport (Carel Trichardt), toe hy aanvanklik die agtergrond geskets het: “In daardie jaar, die jaar van onse Here 1936, het die goewerneur-generaal ’n volkstelling afgekondig… In 1936, die jaar van my geboorte, is ook ek opgeteken, in ’n register van bevoorregting… Dekades lank. Dan ontnugtering, ’n Skadu val. ’n Nuwe register, een van afrekening. En nog later, ’n register van vergetelheid.”
My pa is ook in 1936 gebore en opgeteken in die volkstelling. Hy sou dus nes prof. Delport vanjaar 90 jaar oud gewees het. Hy het sy tyd in die register van vergetelheid geslyt in ’n versorgingseenheid waar demensie hom uitgemergel het tot net ’n skadu van die man wat hy was.
Dan is daar natuurlik weer ander soos my ma wat op 87 weier om van ’n aftreeoord, waar sy alleen woon, na ’n ouetehuis te skuif. Toegegee, om ’n mens se onafhanklikheid prys te gee is waarskynlik naas swak gesondheid die swaarste aspek van oud word. Soos Saartjie egter in ge-gebergtes aandui, is daar ’n besliste graadverskil tussen oud word en oud wees. Prof. Delport is reeds oud. Hy het pas sy 90ste verjaarsdag gevier met ’n koek, kersies en kinders, maar sy hartseer oor die dood van sy lieflingdogter “571 dae” tevore het hom van sy wil om te lewe ontneem. ’n Onsuksesvolle selfdoodpoging het gevolg en daarna het ’n lang pad van herstel op hom gewag.
Volgens die lawwe Britte in Monty Python se rolprent The Meaning of Life is die betekenis van die lewe eenvoudig: “Try and be nice to people, avoid eating fat, read a good book now and then, get some walking in, and try and live together in peace and harmony with people of all creeds and nations.” Dis natuurlik nie onmoontlik nie, net onwaarskynlik.
ge-gebergtes speel af in ’n versorgingsoord met sy “koor van carers”, nes jy in elke sodanige fasiliteit sal aantref. Die lewe en ervarings van een pasiënt, prof. Herman Delport, word voorgehou as die gemene deler.
Op ’n keer gesels die psigiater van die versorgingsoord, dr. Lessing (Daneel van der Walt), met prof. Delport oor eksistensiële kwessies. Terloops, Daneel het by die KKNK ’n Kanna-toekenning vir haar spel gewen wat in elke opsig welverdiend is. Haar ryk sangstem is al genoeg om pryse te laat instroom, maar haar toneelspel is ook deurgaans intuïtief en suiwer geplaas. Moeilik om te glo, maar dit was die eerste keer dat ek die voorreg gehad het om die legendariese akteur en dosent Carel Trichardt op die verhoog te beleef. Sy ikoniese stem het ongetwyfeld ’n sonderlinge gravitas aan sy karakter verleen en hy het aan die einde die nodige erkenning van die gehoor ontvang.
Dr. Lessing en prof. Delport praat onder meer oor Camus wat die Griekse mite van Sisufos in sy beroemde filosofiese essay Le Mythe de Sisyphe, 1942 (Die mite van Sisufos) gebruik het as ’n toonbeeld van die menslike bestaan. Ons ken almal die storie. Sisufos rol ’n yslike rots teen ’n berg op, net om te sien hoe dit afrol en dan moet hy dit weer doen, meëdoenloos en sonder ophou. Camus eindig sy essay wel met ’n voorstel dat ons met gelatenheid onsself moet verbeel Sisufos is gelukkig omdat hy sy lot aanvaar het. Aanvaarding van ’n mens se lot in jou latenstyd gebeur egter nie net sommerso nie.
Monty Python se rolprent The Meaning of Life word ook as ’n kuur voorgestel. Volgens dié lawwe klomp Britte is die betekenis van die lewe eenvoudig: “Try and be nice to people, avoid eating fat, read a good book now and then, get some walking in, and try and live together in peace and harmony with people of all creeds and nations.” Dis natuurlik nie onmoontlik nie, net onwaarskynlik.
Tog is dit hoe prof. Delport se lewe eintlik verloop het. Hy vertel self dat hy baie bevoorreg was. Hy het alles gehad waarvoor hy kon wens en dit het betekenis aan sy lewe gegee. Maar juis hierin lê die tragiek. Nou, op sy hoë ouderdom, is daardie betekenis hom ontneem. Hy gebruik woorde soos “onherbergsaam”, “ontheem” en “troosteloos” as hy na sy lewe verwys en dit ruk jou aan die hart, want jy wonder of jou geliefdes dieselfde voel of gevoel het.
Naas dr. Lessing is daar ook twee ander versorgers, puik vertolk deur Ntombi Makhutshi en Miché van Wyk. Miché het die gehoor onverwags laat skater met haar effens verontwaardigde vertelling van een van die ou tannies wat die versorgers van diefstal beskuldig het – en dit oor ’n stuk beskuit wat verdwyn het sonder om ’n krummelspoor te laat. Ntombi Makhutshi het my hart gebreek toe sy vertel dat sy graag nagskof werk omdat die meeste pasiënte dan rustiger is. Dit het my herinner dat die nagte met hulle donkerte en nagmerries aanvanklik my pa se grootste kruis in die versorgingsoord was.
Jayden Dickson dra verskeie hoede. Soms is hy een van die versorgers en ander kere verteenwoordig hy weer ’n jong Herman. As ’n opgeleide danser beskik Jayden oor ’n heerlike speelsheid en soepelheid as hy die jong Herman vertolk. Hy is ’n spoguitvoerproduk van Lamta in Kampsbaai en het boonop ’n ma en ’n sus wat al diep spore in die musiekteaterbedryf getrap het. Dit is verblydend om te sien dat hy sy talente ook in die Afrikaanse teaterbedryf aanwend.
Saartjie verdien ’n klop op die skouer vir die treffende teks van ge-gebergtes. Dit is vol herkenbare, lewensgetroue situasies, genuanseerde karakters, elk met ’n outentieke stem hoewel hulle eintlik argetipes verteenwoordig, en ’n empatiese benadering tot ’n storielyn wat enduit boei hoewel die einde eintlik onvermydelik is. Sy het die vermoë om die verskillende weergawes van Afrikaans so lekker op die tong te laat lê en voeg daarmee saam net die regte skeut humor sodat die gehoor nadenkend eerder as morbied by die deur uitstap.
Saartjie verdien ’n klop op die skouer vir die treffende teks van ge-gebergtes. Dit is vol herkenbare, lewensgetroue situasies, genuanseerde karakters, elk met ’n outentieke stem hoewel hulle eintlik argetipes verteenwoordig, en ’n empatiese benadering tot ’n storielyn wat enduit boei hoewel die einde eintlik onvermydelik is.
Wessel Pretorius se regiekeuses is opwindend en die gehaltewerk waarmee hy en sy samewerkers vorendag kom, onberispelik. Charl-Johan Lingefelder se komposisies en musiekverwerkings is, soos almal maar alte goed weet, werklik geniaal. Hy slaag altyd daarin om ’n mens te verras. Sylvaine Strike kan in my oë min verkeerd doen. Haar bydrae tot die choreografie en bewegings was onmiddellik sigbaar in hulle styl, afwerking en aandag aan die fynste detail. Birrie le Roux sorg vir ’n doelmatige stel waarvan die treffendste beslis ’n reuse- geskilderde landskap van berge en donderwolke in die Karoo is, natuurlik ’n verwysing na die “ge-gebergtes” van die titel. Dié “skildery” kan in drie verdeel en word baie veelsydig aangewend. Ook Birrie se kostuums is soos altyd nommerpas. Luke Ellenbogen se beligtingsplan kon nie maklik gewees het nie, want die venue is nes die Johnny Bischoff op Oudtshoorn nogal ’n kasarm, maar die toekennings op Luke se kerfstok is ’n aanduiding dat hy hom deur min dinge laat onderkry.
Die bekende “Aandgesang” is ons familiegesang en het oor die jare dikwels oor die ge-gebergtes en vlaktes weerklink waar ons familie hulle bevind het, veral waar die ouer geslagte by was. Die laaste vers omvat die beste die stemming waarmee ek by die teater uitgestap het ná ge-gebergtes:
Eens aan die einde van my lewe
Sal ek, van sorge en moeite vry,
Vir elke dag my hier gegewe,
U hoër, reiner loflied wy.
ge-gebergtes
4 OKT 10:00 | 5 OKT 19:30 | 6 OKT 10:00
Open Windows Campus
R210-R350 | R240-R380 by die deur
Geen o.14




