TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Die oneindige Anton Goosen

Produksie: Anton Goosen: Magtig, kyk wie’s 80!
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Hoe vereer jy ’n musieklegende? En nie sommer enige legende nie, die Liedjieboer homself. Jy vra handevol musikante om te kom saamspeel vir een van die feeshoogtepunte van die jaar, skryf Nadine Petrick.

Agter in die wings van die verhoog, gebaai in blou lig, sit Anton Goosen met sy keps en funky baadjie op ’n rusbank en ponder die eerste helfte van sy verjaardagvertoning, Magtig, kyk wie’s 80! Die laaste note van die lied voor pouse hang nog swaar saam met die rookmasjien se wolke in die lug. Anton gee een van daai lekker kekkellaggies van hom. “Dis moerse nice. Jy voel so iets tussen bewoë en skaterlag. As daar so ’n emosie is.” Moerse nice, inderdaad, maar wat vanaand op die HMS Bloemhofsentrum se verhoog gebeur het, is waarskynlik ’n paar addisionele adjektiewe werd.

Tien jaar gelede, met Anton se 70ste verjaardag, het Schalk Joubert, wat al vir 27 jaar saam met Goosen speel, en Alexa Strachan ’n huldigingskonsert vir Anton by die Spier-landgoed gehou. Vernon Swart en Piet Botha, mag hulle vir ewig in die beautiful noise van rock & roll rus, was ook nog met ons. Daardie warm agtermiddag vol van Anton se musiek sal altyd glashelder in die geheue afgedruk bly. Op 7 Oktober vanjaar herhaal Joubert dié resep. En hoe lekker het dit nie afgegaan nie. Waterblommetjiebredie op ’n koue dag in die Kaap, met ’n glas wyn vir die harlekyn on the side.

“Ek begin wonder wat ek vir Anton se 90ste en veral sy 100ste gaan moet doen, want die meeste van sy gunstelingliedjies en -kunstenaars word nou gebruik, so mens sal diep moet gaan grawe. Maar hy het gelukkig so baie songs, ons het nog baie oor vir die volgende een.” – Schalk Joubert (vervaardiger van die vertoning)

Die Holy Trinity van kitaarsnare – Albert Frost, Mauritz Lotz en Schalk Joubert – het saam met Kevin Gibson op die tromme die toon sekuur aangegee. Hulle ken en verstaan immers Anton se musiek al vir ewig. En met een ná die ander bekende kunstenaar wat die verhoog opgestap en hulle eie unieke klank aan etlike songs uit Anton se onskatbare oeuvre verleen het, is die koning van Afrikaanse rock behoorlik gehuldig.

“Wat baie mooi is om te sien is die liefde van die musos en die respek vir die ongelooflike groot repertoire van songs en hoe elke song diepte het in ’n genre van sy eie.” – Luna Paige

Hoogtepunte was daar legio, sommer nog voor die eerste note gespeel is. ’n Videomontage van Anton se loopbaan skop die aand af – jy sien hom in sy jong dae, rebels, immer met lang hare en ’n oorbel, maar van meet af toonaangewend en grensverskuiwend. Met daai stoute smile en ’n middelvinger stewig in die rigting van die establishment. En nou is die Liedjieboer 80. Dit kan tog waarágtig nie wees nie. Hy is surely oneindig.

“Dit voel of ek deel is van ’n stukkie geskiedenis. Dis een van daai shows waaroor mense nog vir jare gaan praat. Dis baie min dat soveel baanbrekers op een verhoog bymekaar is. Ek voel baie geërd om die jongste op stage te wees vanaand.” – Kristi Steyn

Dozi sing “Kruidjie-roer-my-nie”; die Dennis-broers van Akkedis “Brief vir Simoné”; Pietman “Hanoverstraat”; Neil van Deventer en Louis Awerbuck “Silwer de Lange”; en Churchil Naudé doen ’n fabulous rap-weergawe van “Boy van die Suburbs”.

“Dit is die absoluut spul befokste mense die, en om hulle almal weer te sien en op te catch is ’n belewenis. Ek love hulle almal. Ek love Anton, hy’s ’n bra. Dis cóól!” – Churchil Naudé

“Ek het vir Anton met moedersmelk ingekry en sal waarskynlik graf toe gaan met sy musiek. Hierdie is ’n geweldige groot voorreg.” – Louis Awerbuck

Anton self kry twee geleenthede om te sing. “Goeienaand, Kraaifontein,” sê hy toe hy gaan sit. Stout en satiries, soos hy maar is, en dit slaan deur in soveel van sy musiek. Sy langtydse begeleier, Illimar Neitz sit rustig langs hom, die kitaar doen die praatwerk vír hom. Met ’n “duisend spoke in sy slaapsak/ duisend drome in sy rugsak”, ry ons saam na waar die Gansbaaipaadjie afdraai. So saam met Anton en Illimar ry ons.

Koos Kombuis sing “Jantjie”, en ook sy eie “Boer in Beton” wat Anton destyds vervaardig het; Laurinda Hofmeyer se persoonlike gunsteling, “Beste Henry”, Robin Auld se “Dancing” en Coenie de Villiers se “Waterblommetjies” skyn verder die lig op Goosen se ongelooflike omvattende werk én bydrae. Selfs Deon Meyer maak ’n cameo en lees ’n gedig voor wat Goosen se liedjietitels aanmekaarstring.

“Hierdie is wonderlik. ’n Groot geleentheid. Ek en Anton kom ’n baie, baie lang tyd saam. Lank gelede was ons kwaaivriende vir ’n rukkie – ek kan glad nie onthou waaroor nie, maar ons is darem nou weer okay!” – Koos Kombuis

“Dis ’n fantastiese voorreg om hierby betrokke te wees. Hy is die meester en sal altyd die hoofliedjieboer wees. Al die bewegings – Musiek en Liriek, Voëlvry en alles daarna – alles bestaan en alles het gebeur want Anton het voorgeloop en eerste gekom. Niemand van ons sou hier gewees het as dit nie vir Anton was nie,” – Coenie de Villiers

Dit is seker nie regverdig om op ’n aand soos dié uitsonderings maak nie, maar daar was wel ’n paar ekstraspesiale oomblikke wat die fyn haartjies op die arm spontaan laat regopspring het. Gian Groen se “Kruppelkopgewete” roer ’n mens áltyd, maar sy eie “Swerwer” wat hy jare gelede vir Anton geskryf het, sê waarskynlik meer van Goosen se invloed op ander musikante en fans as wat ons ander mere mortals ooit sal regkry:

“Daar’s ’n vreemde iewers anders, waar die wind jou heen moet dra / die wêreld het jou huis geword / jy is ons almal se bra / jy dra nie veel bagasie nie nie, net ’n Taylor-kitaar / en ’n sak vol songs oor jou Yin en Yang wat ek altyd sal bewaar…”

Albert Frost se kragtige weergawe van “Riviersonderend”, en Mauritz Lotz se allesoorweldigende kitaarsolo saam met Luna Paige vir “Josie-Josie” – wat sy so rég uit haar oerkoek uit sing – was definitiewe gehoorgunstelinge. Boodskappe van gelukwensing op die grootskerm, van onder andere Francois van Coke, Amanda Strydom, Carike Keuzenkamp, Mynie Grové en veral David Kramer s’n, het ook gesorg vir ’n lastige knop in die keel. ’n Addisonele bonus was die voorsmakie wat ons gekry het van die dokumentêre reeks oor Goosen wat in Desember op kykNET uitgesaai gaan word.

Aan die einde van die bykans drie uur lange konsert kom al die musikante weer saam op die verhoog vir ’n absolute jol van ’n saamsingkeurspel. Die heupe kom los. Die gehoor begin spontaan dans. Die applous is oorweldigend. En Anton gee daai stoute smile.

***

Vanoggend wil ek weet hoe voel hy nou, after the fact. Noudat die rush oor is.
“Ek weet nie eintlik wat om te sê nie, maar ek het dit geweldig waardeer. Want in kuns is niks ’n gegewe nie, of vanselfsprekend nie. Ek voel só geëerd en geseënd. Baie, baie dankie aan die Woordfees en al die wonderlike musikante wat die verhoog met my gedeel het.”

Niks middelvingers hier nie. Net liefde en musiek. Cheers, Anton, jy is beslis nie net 80 nie, jy is inderdaad oneindig..

Magtig, kyk wie’s 80! was ’n eenmalige vertoning.

Facebook
Twitter
LinkedIn