TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Lank lewe Amanda!

Produksie: Amanda Strydom: Sewentig, nog lewendig
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Miss Mandy is 70. As daar ’n kunstenaar is wat ’n glansryke huldigingskonsert soos hierdie verdien het, dan is dit Amanda Strydom, skryf Ilza Roggeband.

Vir een aand was die HMS Bloemhof-sentrum ’n konsertsaal. As jy jou oë toemaak, kon jy droom jy is in Las Vegas, Parys of Berlyn. Op die verhoog was die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en ’n groep musikante wat drie pianiste, drie agtergrondsangers en ’n koor van agt ingesluit het. Elegant. Formeel. Gepas.

Die hoofelement was egter die stem en talent van Amanda Strydom. Ons Miss Mandy wat in Julie 70 geword het en wys sy het nie ’n greintjie van haar fabelagtigheid langs die pad verloor nie. Sy was en is een van die land se heel grootstes en sal dit nog lank bly. ’n Lig soos hare sal nie toelaat dat ‘n dekade of twee dit verdof nie.

Met huldigingskonserte soos hierdie word daar graag – en meestal met reg – ook ander kunstenaars na die verhoog genooi, maar vir hierdie een was dit net Amanda. Volbloed Amanda as woordkunstenaar en as sanger. Die verhoog was hare en sy het elke sentimeter daarvan volgemaak soos net sy kan.

Die program, wat onder leiding van Janine Neethling saamgestel is, het ’n keur van Amanda se treffers ingesluit, soos “Taal van my hart”, “Ek loop die pad” en “Hoor hoe brom die wind”, maar ook liedjies wat dalk minder bekend is, soos “Boord van woorde”, “Mooiweer en warm” en “Vrou by die spieël”. Natuurlik het “La vie en rose”, “Milord” en “Non, je ne regrette rien” ook ’n beurt gekry, en “Pelgrimsgebed” en “Die vlam” was die twee liedjies wat as toegif gesing is.

Neem hierdie vlam,
hierdie kosbare vlam
en dra hom deur die skare;
dra hierdie vlam
hierdie klein vlam
en dra hom deur die jare.

Dra hom nie vir geld of guns
al raak jy soms verward;
dra hom deur jou kuns, jou kuns,
dra hom in jou hart.

Met huldigingskonserte soos hierdie word daar graag – en meestal met reg – ook ander kunstenaars na die verhoog genooi, maar vir hierdie een was dit net Amanda. Volbloed Amanda as woordkunstenaar en as sanger. Die verhoog was hare en sy het elke sentimeter daarvan volgemaak soos net sy kan.

Dis presies wat Amanda van die begin van haar loopbaan tot nou gedoen het. Sy het haar vlam gedra en warmte gebring waar sy ook al gegaan het. Nooit het sy nie haar alles gebring nie. Nooit het sy onvoorbereid opgedaag nie. Nooit het sy nie haar kunstenaarskap uitgeleef nie. Amanda was nog altyd volrond kunstenaar in die volle sin van die woord.

Die sentrum by Bloemhof was volgepak. Met tye het mense hulle hande in die lug gegooi asof hulle by ’n charismatiese kerkdiens was. Die drie staande ovasies was welverdiend. Ook so die reusebos blomme wat Saartjie Botha namens die Toyota Stellenbosch Woordfees aan die einde aan haar oorhandig het. Eer mense terwyl hulle nog met ons is.

Alle lof aan die dirigent, Jason Atherton, die agtergrondsangers (Karen Meiring, Devonecia Swartz en Nicole Holm), die pianiste (Melissa van der Spuy, Coenraad Rall en Janine Neethling) en die agt lede van Pieter Bezuidenhout se Stadskoor wat die musikale prentjie verder ingekleur het. Ook aan die Toyota Stellenbosch Woordfees wat ’n konsert op hierdie skaal na die fees gebring het. Bravo!

Amanda, dankie. Dankie, dankie, dankie. Mag jou pad vorentoe net mooiweer en warm wees. Mag die wikkel in jou stap altyd daar wees. Mag jou talent ons altyd beskore wees. Mag goedheid en guns jou volg vir die res van jou dae. Met al ons liefde en diep waardering.

Amanda Strydom: Sewentig en nog lewendig! was ’n eenmalige konsert op 6 Oktober.
Facebook
Twitter
LinkedIn