SPIER TONEEL: FRINGE

Hier ry die duiwel jou bloots

Produksie: The Second Coming
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Die studentestuk The Second Coming is ’n satire in die styl van Monty Python met heelwat onhebbelikhede, erg gekruide taal en kras verwysings na en aannames oor God. Maar die studente geniet hulleself mateloos met die vertolking van die verskillende scenario’s wat afspeel en hul jare lange vriendskap manifesteer in goeie ensemblespel en juiste tydsberekening, skryf Marina Griebenow.

Ses vreemdelinge skuil in ’n bouvallige klooster. Die omgewing moet jy jou verbeel, want die verhoog is gestroop, behalwe vir ’n lang rooi lap oor die lengte van die vloer. Dié klomp is tans algeheel ontgogel en verward. Waarom? Want die wegraping het toe plaasgevind, maar hulle is agtergelaat. (Ek moet erken ek het vir ’n oomblik gewonder of dit toe wel in September 2025 gebeur het soos die stomme Danie Botha voorspel het.)

The Second Coming is ’n satire in die styl van Monty Python. Net soos in The Life of Brian bevat dié donker komedie ook heelwat onhebbelikhede, erg gekruide taal en kras verwysings na en aannames oor God. Die stuk is in 2025 deur ’n groep vrydenkende en kreatiewe Matie-dramastudente in hulle finale jaar ontwikkel as deel van hul jaareindprojek. Almal het saam aan die ontwikkeling van die konsep gewerk, maar Mateo Komlosy en Kimi de Beer het die knap teks geskryf, terwyl Matthew Gray en Kimi die regie behartig het.

En eie aan studente gebruik hulle die kans om ’n paar gewaagde en omstrede temas en argumente te ondersoek en grense te verskuif of selfs te laat verdwyn. Logika en wetenskap word gestel teenoor godsdiens en dogma, terwyl mag- en hebsug, ongebreidelde ambisie en ander menslike swakhede ook ondersoek word.

Die gehoor ontmoet eerste vir Ted Kowalski (Matthew Gray), ’n jong man wat vandat hy gebore is, wou doodgaan. Hy het vele kere selfdood probeer, maar nog altyd misluk, want Ted is nie ’n spanspeler nie. Hy is juis agtergelaat weens sy apatie en weiering om hulp te vra. Nou sit hy baie gefrustreerd eenkant in ’n rolstoel met sy voete en hande met toue vasgemaak.

Skielik verskyn daar meer mense en dit blyk dat ons onsself bevind in die Kerk van die Gelouterdes, waar ’n huwelik gaan plaasvind. Aan die hoof van dié kerk is Pous Innocentius (Mateo Komlosy). Pous Innocentius was ’n maatskappyhoof voor die wegraping. Hy is agtergelaat oor sy selfsug en uitbuiting van mense. Hy objektifiseer vroue, lieg maklik, ly aan grootheidswaan en is van nature hedonisties. In sy waan glo hy hy het die mag om die verdoemde siele wat agtergelaat is te red.

Eie aan studente gebruik hulle die kans om ’n paar gewaagde en omstrede temas en argumente te ondersoek en grense te verskuif of selfs te laat verdwyn. Logika en wetenskap word gestel teenoor godsdiens en dogma, terwyl mag- en hebsug, ongebreidelde ambisie en ander menslike swakhede ook ondersoek word.

Die voornemende egpaar is Richard Dumbuza (Lutho Ndyalvane) en Susanna Magdalene Magriet van der Merwe (Kimi de Beer). Richard is ’n Pan-Afrikanis wat op hoërskool reeds sy volle potensiaal bereik het. Hy soek sy lewe lank na die perfekte godvresende vrou, want hy kan nie wag om “bouncing babies” te hê nie. Richard is nog hier oor sy skynheiligheid en vinnige humeur.

Susan is ’n Afrikanermeisie wat in ’n ateïstiese huis grootgeword het, raar maar waar. Sy ontdek eers later godsdiens en hoe om dit te misbruik. Hoewel sy voor die wegraping ’n Metodis was, wil sy die Pous word sodat die nuwe wêreld deur vroulike mag beheer sal word. Sy deel nie noodwendig Richard se versugting na kinders nie. Sy wil bloot fornikeer. Susan is uiteindelik agtergelaat vanweë haar hoogmoed en ambisie.

Die ander twee karakters is Ashe-Leighe Payge (Taylor Ackermann) en Jan Burger (Kgahlisho Matloga). Ash-Leighe is ’n oortuigde ateïs en glo onwrikbaar in die oppergesag van die wetenskap en logika. Sy is oor haar ateïsme agtergelaat, maar sy is ook die een wat bereid is om Pous Innocentius se boeliegedrag te opponeer. Terloops, Taylor het ook die ontwerp vir die produksie behartig. Op sy beurt is Jan deur wit ouers aangeneem en grootgemaak. Hy glo hy is vir ’n goddelike doel op aarde geplaas, maar hy is ook senuagtig van aard en ’n naprater. Hy is eintlik agtergelaat omdat hy slegs gerieflikheidshalwe in God geglo het.

Pous Innocentius se kerk het nie veel reëls nie. Die enigste is eintlik dat niemand die kloosterdeur mag oopmaak nie – nie vir enigeen nie. Op dié dag, net voor die huwelik tussen Susan en Richard voltrek kan word, is daar ’n klop aan die deur. Pous Innocentius oortuig sy kerkgenote dié klop moet tog maar beantwoord word en hy gaan deur toe.

Teen die tyd dat Rue al haar saadjies gesaai het, is die ‘body count’ so hoog soos dié van die Trojaanse oorlog. Hoe almal hulle Heiland ontmoet, is natuurlik ’n interessante aspek van The Second Coming, maar ’n mens kan dit nie sommerso verklap nie.

Sommer vanuit die staanspoor saai dié klein boosaard haar saadjies wat dan ‘n invloed het op die oorspronklike ses spelers se eienskappe wat hulle van die wegraping weerhou het. Die uiteinde is noodlottig vir die meeste van hulle. Teen die tyd dat Rue al haar saadjies gesaai het, is die “body count” so hoog soos dié van die Trojaanse oorlog. Hoe almal hulle Heiland ontmoet, is natuurlik ’n interessante aspek van The Second Coming, maar ’n mens kan dit nie sommerso verklap nie.

Die studente geniet hulself mateloos met die vertolking van die verskillende scenario’s wat afspeel en hul jare lange vriendskap manifesteer in goeie ensemblespel en juiste tydsberekening. Die jonger mense in die gehoor het hoorbaar die humor geniet, terwyl die ouer mense se reaksie effe meer gedemp was, waarskynlik omdat hulle aanvanklik geskrik het vir die gewaagdheid van die inhoud.

Natuurlik kan die produksie baat by groter produksiewaardes, maar dis ’n studentestuk wat op die Woordfees se Fringe speel. Volgende keer kom hulle groter en selfs beter terug, want daar is duidelik ’n oormaat talent en genoeg entoesiasme en ywer om ’n groot musiekblyspel op die planke te kry. Op ’n persoonlike noot: Ek hoop Mateo en Kimi wy hulle daaraan toe om nog nuwe toneelstukke te skryf, want hulle teks is vermaaklik, slim en toneelmatig.

Die speelvak van The Second Coming is voltooi.

Facebook
Twitter
LinkedIn