SPIER THEATRE
Mantras en mantillas
Produksie: The Stranger
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Yazeed Kamaldien
The Stranger is ’n mitologiese teks besprinkel met liriese wyshede. Die stuk haal die mantilla van ons binnespieël af en maak ons verbeelding vry, skryf Dianne Albertze.
Die nag maak toe soos ons Pniel binnery. Die lang teerpad vol speed bumps raak ál smaller. Ál kleiner. ’n Wag wys ons moet afdraai. My driver waai terug na hom en besef nie die man isn’t waving, he’s drowning. Driver trek terug en beduie sy’s jammer, haar gedagtes was op ’n anner plek, êrens ver van hier op pad na The Stranger. Die wag se gesig word onkenbaar. Die driver se woorde word stof.
Teer word grond. Kersie- en kwartelbome is gekoekte pruike van hekse weerskante van die kar. Ons swaai by ’n parkeerplek in. Buite die kar ruik die lug na iets soets, iets wat my binneste al geruik het, iets wat verby my verstaan onthou. Só dwaal my gedagtes by klipperpaadjies af versier met klein ligbulpies aan lang stringe. Vuurtjies gevang in glas. Die stemme van bekende vreemdelinge word ál harder, ál nader. Mense groet mekaar in verskillende tonge wat ek nie verstaan nie. Eenkant is diensknegte van die nag besig om handel te dryf met ’n skottel waarin water- en bierbottels dryf.
Die vreemdeling is lankal wit bene. Hy is Orpheus. Hy moet wees, want wanneer sy Eurydice sterf aan die gifdans van ’n slang, dan spiraal hy. Sy siel word ’n swart sonskyn.
Ek soen ’n sigaret tot siens en volg die lang ry lywe op pad na die teater, of in dié geval Die Boekklub (waar die vertoning plaasvind). ’n Saal met ’n klomp geheime in die mure. Die gebou is elegant versier met kandelare wat uit die dak hang. Stoele en banke is al in ’n sirkel gepak. Ek sien die kooigoed, die imphepho, wat brand en besef dis die reuk wat ek gekry het.
Ek sluit my oё. Bid tot my ouma Mollie om my te bewaar. Ek weet dan nou al hoe minner waar ek is, want hoe meer ek om my kyk, hoe meer onbekend word alles.
Hier is ’n wêreld wat nie myne is nie.
Die storie is reeds in die middel geskryf en met simboliese rekwisiete ingekleur. Aan een punt is ’n paar koffers, wet wipes, ’n hoed, ’n jas en ’n mantilla. Wit kerse, klein en vet. Verderaan in die middel sit die verteller (Brett Bailey) in wit, nes ’n holistiese priester. Voor hom is ’n vlak put van blou klippies, ook met ’n beeld in ’n sifdoek bedek. Al om die put is verskeie leё glasballe. Nog ’n karakter is klaar besig met ’n abstrakte albasterspeletjie. Heel op die punt is Nkosenathi Koela en sy span. Die koning van klank, ook met ’n sluier bedek.
Een vir een word die mantillas verwyder. Dis juis eers wanneer ons die doeke verwyder wat ons so verblind, dat ons die waarheid kan sien, ervaar en voel diep binne ons.
Die verteller neem ons op ’n storiereis na plekke duister van die alledaagse. ’n Mitiese narratief wat die verhaal van ’n vreemdeling openbaar wat ’n skemergemeenskap betree het en vermoor is, sy liggaam in stukkies opgekap. Van vlees tot bloed tot as. Maar die vreemdeling is nie van hier nie. Hy is ook nie een van hulle of van ons nie. Die vreemdeling is lankal wit bene. Hy is Orpheus. Hy moet wees, want wanneer sy Eurydice sterf aan die gifdans van ’n slang, dan spiraal hy. Sy siel word ’n swart sonskyn.
The Stranger haal die mantilla van ons binnespieël af en maak ons verbeelding vry. Die mitologiese teks besprinkel met liriese wyshede het my laat dink aan die inhoud en klank van mAnJE ! MaNJe (an epic) van Mark Fleishman, Jennie Reznek en Mwenya Kabwe. Die toon en aanbieding egter meer gestroop.
Die twee dansers, Siphenati Mayekiso en Thalia Laric, is betowerend, elkeen met hul eie styl en aanslag. Mayekiso se bewegings is fyn geartikuleer en vol karakter. Hy transformeer van dwaalgees na Die Vreemdeling. Dan is Laric weer instinktief sonder om gebare en vorm af te skeep. Sy beweeg op ’n ritme diep binne haar, ’n mantra uit haar gees.
Die twee dansers, Siphenati Mayekiso en Thalia Laric, is betowerend, elkeen met hul eie styl en aanslag. Mayekiso se bewegings is fyn geartikuleer en vol karakter. Hy transformeer van dwaalgees na Die Vreemdeling. Dan is Laric weer instinktief sonder om gebare en vorm af te skeep. Sy beweeg op ’n ritme diep binne haar, ’n mantra uit haar gees.
Nkosenathi Koela se komposisie is uit ’n anner dimensie. Die sensoriese klanke voel of dit kom vanuit ’n ander mengelmoes van inheemse invloede. Dis musiek wat onner my vel ingeklim het en nou in my bene vassit.
Ek bid weer soos ek by die teater uitstap. Vir al die vreemdelinge wat dalk nooit ’n tuiste sal vind nie. Mag my ouma Mollie met julle almal wees. Die wag wat nie wave nie, maar drown. Die bekende vreemdeling.
God, mag jy die mantilla van ons ammal afhaal en ons die waarheid van onsself laat raaksien. En nooit ophou glo in teater wat gebede is nie.
The Stranger
10 & 11 OKT 19:30
Die Boekklub, Johannesdal
R180 | R200 by die deur
Geen o.14





