SPIER THEATRE
‘Vlindervry’ sien eerder menslikheid as gestremdheid
Produksie: Vlindervry
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
’n Wen-ensemble akteurs onder aanvoering van die regisseur Wessel Pretorius, wat Leonard Gershe se Butterflies are Free vertaal en na die Kaap verplaas het, laat Marina Griebenow vermoed Vlindervry gaan nog ’n hele paar draaie gooi by feeste en hopelik dalk selfs in die hoofstroomteaters.
’n Mens wonder aanvanklik waarom die vervaardigers van Vlindervry sou kies om in die hededaagse milieu so ’n ou Amerikaanse toneelstuk aan te pak. Dis nie asof dit Tennessee Williams of Sam Shepard is nie.
Dalk het hulle daarop besluit omdat Butterflies are Free deur Leonard Gershe gedurende sy speelvak op Broadway ’n reuse-sukses was met meer as ’n duisend opvoerings en ’n Tony-toekenning vir Blythe Danner. In 1972 word dit in ’n rolprent omskep wat ook verskeie toekennings gewen het en kon spog met ’n jong Goldie Hawn in die rol van die borrelende blondine wat ’n blinde jong man se wêreld op sy kop keer. Terloops, daar was darem ’n Suid-Afrikaanse bydrae ook tot die sukses van die fliek. Die gelyknamige treffer-temalied van die fliek is gekomponeer deur die 21-jarige Suid-Afrikaner Stephen Schwarz, wat later groot bekendheid sou verwerf met sy komposisies vir blyspele soos Godspell, Pippin en Wicked.
Wat hulle egter nie gehad het nie, was die plaaslike vervaardigers van Vlindervry se geheime wapen: Wessel Pretorius op sy allerbeste. Benewens sy vaardigheid as akteur ken ons Wessel vir sy puik skryf- en vertaalvermoë en natuurlik sy effe sardoniese dog vlymskerp humorsin. Boonop is hy ’n ervare en toegewyde regisseur met puik instinkte, so dis nie verbasend dat hy sommer gevra is om dié projek in daardie hoedanigheid ook te behartig nie.
Wessel vertaal Butterflies are Free as Vlindervry en verplaas die gebeure van Greenwich Village in New York (San Francisco in die rolprent) na Observatory in Kaapstad en herdoop terselfdertyd die karakters. Só ’n verplasing beteken natuurlik ook veranderings aan kulturele aanwysers en gebeure en gepaardgaande verwysings daarna.
’n Mens kan jou seker verstout om te sê dat Butterflies are Free nou, meer as 50 jaar later, waarskynlik al verouderd sou gewees het. Al moes Wessel dus die stuk aan sy ore die 21ste eeu binnesleep, kan dit net iets goeds inhou. Die onderbou van die stuk is sterk en die verplasing sal dus die stuk komplementeer eerder as om dit te verswak.
Net kortliks die storie: Daan Bekker (Heinrich Wentzel) is ’n 19 jaar oue blinde jong man wat daarna smag om hom van sy ma se rokspante los te maak en ’n sanger en liedjieskrywer te word. Sy helikopter-ma, Frieda Bekker (Cindy Swanepoel), het egter ander planne. Uit vrees, maar met goeie bedoelings, klou sy aan haar seun. Hulle kom uiteindelik ooreen dat hy vir ’n proeftydperk in sy eie woonstel kan gaan bly. Daar maak hy kennis met sy vrypostige blonde buurvrou, die aspirant-aktrise Griet Marais (Jeanne-Marié Koekemoer), en raak halsoorkop verlief. Dinge lyk rooskleurig tot sy ma ongenooid opdaag en ’n rolprentvervaardiger met Harvey Weinstein-maniertjies, Roelf Aucamp (Geon Nel), dreig om dinge te laat skipbreuk ly.
Die vryheid wat in die titel ter sprake is, verwys nie net na Daan se strewe na onafhanklikheid nie, hoewel daar vir hom meer op die spel is as vir die ander karakters. Hy moet homself bevry van sy ma se goedbedoelde dog versmorende liefde en hom vestig as ’n volwassene wat self die aard en rigting van sy lewe bepaal. Sy drome om ’n musikant te word is immers op die spel. Dit sal natuurlik help as sy ma ophou om hom “Daantjie” te noem.
Wessel se vertaling is propvol kwinkslae, slim grappies en woordspelings soos net hy kan doen, so jy sit deurgaans in die donker met ’n grinnik op jou gesig. Teen die afloop van die stuk was die kameraderie in die gehoorsaal en die gevoel van genoegdoening amper tasbaar en so heerlik om te ervaar.
Griet moet haar verbintenisangs oor langdurige verhoudings oorkom; nie net romantiese verhoudings nie, maar ook met plekke en mense. Haar ma se reeks kortstondige huwelike help natuurlik nie juis om haar enigsins emosioneel geborge te laat voel nie. Frieda word weer gekniehalter deur haar vrees dat haar seun nie alleen die mas sal opkom nie. ’n Mens kan seker ook saggies iets noem omtrent haar kiemfobie en oordadige gebruik van handsanitasiemiddel.
Hoewel al dié kwessies ernstig klink, en natuurlik is, vra Vlindervry ons geensins om te wroeg en as op ons kop te strooi nie. Die menslikheid van die karakters is bloot ter sprake en wek dus by ons empatie. Die dramaturg se benadering tot Daan se blindheid is verfrissend, want hy word nie uitgebeeld as ’n slagoffer of iemand wat simpatie soek nie. Hoekom wonder mense dus eerder of ’n gestremde persoon oor die weg sal kom pleks daarvan om te aanvaar dat daardie persoon die situasie sal kan behartig en sal aandui as hy of sy nie kan nie? Dié ingesteldheid maak ’n wêreld se verskil en verskuif die fokus na iemand se menslikheid pleks van hulle gestremdheid.
Wessel se vertaling is propvol kwinkslae, slim grappies en woordspelings soos net hy kan doen, so jy sit deurgaans in die donker met ’n grinnik op jou gesig. Teen die afloop van die stuk was die kameraderie in die gehoorsaal en die gevoel van genoegdoening amper tasbaar en so heerlik om te ervaar. Ek wou amper net daar bly sit, want dit het gevoel of ek so pas ’n fliek met ’n gelukkige einde uit die jare sewentig of tagtig gekyk het.
Hoe praat ’n mens oor die akteurs? Hulle is in alle opsigte ’n wen-ensemble. ‘n Mens weet dat al vier akteurs nie net die verhoog met groot vaardigheid beheers nie, maar ook ander mediums soos film en televisie.
Cindy is uitstekend as die perfekte, sindelike Durbanville-ma wat haar doodgril vir haar seun se Observatory-woonstel, maar later subtiel en verrassend toelaat dat haar onderrok ’n bietjie uithang. Haar tydsberekening met die oorgang is subtiel maar oortuigend. Geon is ’n regte verkleurmannetjie. Hier speel hy ’n glibberige “kunsrolprent”-regisseur so skitterend dat jou hande jeuk om sy knaters te knoop sodat hy jong aktrises sal uitlos. Net ’n uur of twee later is hy koninklik as Agamemnon in die klassieke stuk Atropa. Ons is inderdaad bevoorreg om sulke akteurs te hê. Die twee jong akteurs is baie indrukwekkend en jy weet sommer jy gaan in die toekoms nog baie van hulle sien. Jean-Marié speel haar karakter met panache, soos ’n bottel goeie Prosecco waarvan die prop net-net wil afskiet. Sy sorg konsekwent dat Griet se lewenslus en sorgvrye benadering tot die lewe onweerstaanbaar bly, natuurlik met ’n kwesbare hart onder al die “vonkel”. Heinrich vertolk sy rolle altyd met ’n kwesbaarheid wat aandoenlik is. Ek weet daar is diegene wat met my sal saamstem dat hulle nes ek sal kies om ’n televisiereeks te kyk as ons Heinrich in die rolverdeling sien. In hierdie geval slaag hy 100% daarin om Daan se vasberadenheid om sy lewe te laat tel oor te dra en wys hy verstaan wat van hom geverg word in die hoofrol.
Iemand wat meer sinies is, sal dalk meen Vlindervry is effe schmaltzy, maar as akteurs dit regkry om ’n gehoor te laat omgee oor gewone mense se doen en late, het hulle hulle goed van hul taak gekwyt.
Ek vermoed Vlindervry gaan nog ’n hele paar draaie gooi by feeste en hopelik dalk selfs in die hoofstroomteaters. Net een wenk, as ek mag: Oorweeg dalk om ’n bietjie meer aan die stel te bestee. Daan se bed was ’n oorspronklike en interessante toevoeging, so ook die eetkamertafel, maar die mankoliekerige deure het my senuwees aan ’n draad laat hang.
Vlindervry
9 OKT 19:30 | 10 OKT 13:00 | 11 OKT 13:00
kykNET Idasvallei Primêr
R250-R320 | R280-R350 by die deur
Geen o.14 (T)




