EASYEQUITIES SKRYWERSPROGRAM

Die storie agter Capitec se reusesukses

Produksie: Gesprek: Rente in die Boland – Die storie van Capitec
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf

Dat ’n uurlange gesprek oor ’n boek oor die bankwese nou so interessant kan wees. Die finansiële joernalis Theunis Strydom het al boeke oor die sakemanne Christo Wiese en Koos Bekker op sy kerfstok, en nou met sy nuwe boek Capitec: Stryd met die grotes (in Engels Capitec: Stalking Giants) wat pas by Tafelberg verskyn het, vertel hy die suksesverhaal van dié bank.

“Hoeveel van julle is Capitec-kliënte?” vra Theunis op ’n stadium in die gesprek wat deur die ekonoom dr. Johan Fourie van die Universiteit Stellenbosch gelei is. Verbasend baie hande gaan op. Ouer mense, feesgangers wat op ’n Woensdagoggend in Stellenbosch na ’n boekgesprek kan kom luister. En dit, sê Theunis, is juis deel van die sukses van Capitec. Dis lank nie meer net ’n bank vir mense wat nie noodwendig ’n bewys van adres het nie.

Die eerste vraag aan hom was egter hoekom juis ’n boek oor Capitec en nie oor mense soos Michiel le Roux of Riaan Stassen, medestigers van die bank nie?

“Want Capitec se suksesverhaal gaan oor al die agt stigters asook oor die kapitaal wat gebruik is om dit te begin,” het Theunis gesê.

Ja, het hy erken, van die stigters het ’n band wat hulle bind – skole, universiteitskoshuise, wie wie ken. “Alles gaan oor netwerke. Sommige mense doen dit onderduims, ander openlik. Jy leer mense wat saam met jou op koshuis is, goed ken. Jy sal weet wie skelm is en vermy moet word, met wie jy ’n pad kan stap.”

As jy die massamark wil verstaan en hoe dit werk, dan moet jy weet hoe mense dink en drink.

Interessant genoeg lê Le Roux, Gerrie Fourie, Riaan Stassen en Carl Fischer, almal van die begin betrokke by Capitec, se wortels in die drankbedryf. “As jy die massamark wil verstaan en hoe dit werk, dan moet jy weet hoe mense dink en drink. As jy dít weet, kan jy enigiets aan hulle verkoop,” sê Theunis.

Capitec is een van Suid-Afrika se reuse-suksestories. Toe dit in Februarie 2002 op die Johannesburg-beurs genoteer is, het die aandeelprys op R0,55 oopgemaak. Vandag, 2 Oktober 2024, was dit R3 163,97 per aandeel.

“Een derde van alle data en ’n kwart van alle elektrisiteit in Suid-Afrika word deur die Capitec-app verkoop,” sê Theunis. “Capitec het byvoorbeeld ook vinnig besef hulle moet hulle bankure aanpas. Jare gelede het banke 15:30 toegemaak omdat daar nog werk in die agterkamers gedoen moes word. In die vroeë 2000’s was dit as gevolg van tegnologie nie meer nodig nie en het Capitec hulle ure wat hulle takke oop is, aangepas.”

Capitec verstaan ook die Suid-Afrikaanse landskap baie goed. “As jy byvoorbeeld na ’n tak in Limpopo gaan, sal daar iemand wees wat jou in Venda sal kan help,” sê hy. “Capitec lei mense op vir hulle kliënte se behoeftes en nie hul eie nie.”

Dr. Fourie het die skrywer geloof vir die gemaklike skryfstyl van die boek, waarop Theunis gesê het: “Capitec kommunikeer in ’n taal wat mense verstaan en die boek is ook so geskryf”.

Mag sy wens waar word dat elkeen van Capitec se 23 miljoen kliënte ’n boek koop. Sal dit nou nie ’n ding wees nie?

Facebook
Twitter
LinkedIn