EasyEquities SKRYWERSPROGRAM

Ian Roberts se skatkis vol stories

Produksie: Ian Roberts: Is dit jý?
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband

Die laaste episode van die TV-reeks Arende is in 1994 uitgesaai. Die held en sy vrou was Sloet en Annette de Villiers, gespeel deur Ian Roberts en Susanne Beyers. En op ’n welkome warm middag in Oktober het Susanne die kans gekry om vir Ian uit te vra oor sy biografie, Is dit jý? 

Susanne gaan haal hom by sy kinderdae in die Oos-Kaap, hoe hy saam met sy jong vriende op die plaas om ’n vuur sit en stories vertel het. Op sesjarige ouderdom koshuis toe is, St. Andrews in Grahamstad, die skool waar hy later ook sou matriek skryf.  

“Ja, dit was moeilik en ek het gehuil vir my ma, maar toe ek uiteindelik in die army kom ná skool, het die ander fris ouens gehuil. Ons het al op ses, sewe daardie huil uit die pad gekry,” sê hy soos ’n tipiese plaaskind wat kleintyd koshuis moes gewoond raak.  

Aanvanklik het hy saam met sy pa geboer. Hy was ’n rondreisende verkoopsman – ‘’ek was ’n arrogante klein kak,” sê hy – en het later in konstruksie gewerk, maar nog nie sy voete gevind nie. Buite ’n deftige klerewinkel in Port Elizabeth, wat duur klere aan die ryk daggaboere van die Oos-Kaap verkoop het en waar Ian verkoopsman was, sien hy ’n advertensie dat ’n amateurdramageselskap spelers soek. Hy het die rol gekry en die gogga het behoorlik gebyt.

Hy is ’n uitstekende storieverteller en skroom nie om humor, armbewegings en aksente te gebruik om dit te doen nie. Die gehoor was gereeld hard aan die lag.

“Ek het vir my pa gesê ek weet nou wat ek wil doen. Hy het gevra wat dit is. ‘I want to become an actor.’ ‘What is that?’, het my pa gevra,” vertel Ian en lag.

Hy is ’n uitstekende storieverteller en skroom nie om humor, armbewegings en aksente te gebruik om dit te doen nie. Die gehoor was gereeld hard aan die lag.

Hy en Susanne het gepraat oor sy rol in Verspeelde lente tenoor die beeldskone Elize Cawood, sy rolle in die teater en toe Dirk de Villiers sy pad gekruis het. “Dirk wou Arende maak, maar die manne by die SAUK het gesê ’n egte boerseun, nie ’n halwe soutie soos ek nie, moet die rol speel. Dirk het egter baklei vir my en ek was nog deel van ’n produksie by die Baxter, toe hy gekom het, ’n sakdoek oor my kop gebind het wat kaal geskeer was, en uitgeroep het: ‘Jy is Sloet Steenkamp!’”

Op die stel van Arende het hy sy eerste vrou, Michelle Botes, ontmoet en hulle het ouers van Cara en Daniel geword. Hulle is later geskei, maar Ian sê hulle het al vier vrede en is steeds ’n baie gedugte span.

Die gesprek draai na die Castrol-advertensies en die geboorte van die Radio Kalahari Orkes. “Ek wou nooit musikant word nie, maar toe ek eers begin het, het ek besef ek moet hard werk om sukses te behaal.”

Deesdae woon hy en sy tweede vrou, Francoisnette, en hulle tweeling op ’n plaas in Lydenburg. Behalwe dat hy boer, skryf hy. “Ek wil Suid-Afrikaanse stories vertel. Of dit nou reekse of movies is. Dit is my begeerte.”

  • ‘Is dit jy?’: Avonture voor en agter die skerms is deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal. Die boek is ook in Engels as Nomad Heart: Adventures on and off the set beskikbaar. Die uitgewer is Jonathan Ball.

Die Radio Kalahari Orkes
4 OKT 20:00
90 min | The Daisy Jones Bar
R250 | R280 by die deur | R500 VIP

Facebook
Twitter
LinkedIn