VISUAL ART

Marlene Steyn se neurotiese speelsheid kyk diep binne ons ‘selwe’

Deur: Herschelle Benjamin
Foto’s: Verskaf

Vanjaar se feeskunstenaar, die Bolandse skilder en kleibeeldhouer Marlene Steyn, het Sondag die amptelike opening van die Woordfees se visuelekuns-tentoonstellings afgeskop. Saartjie Botha, feesdirekteur, het die gaste verwelkom in die US-museum, regoor Erfurthuis. Sy het Steyn se “psigoliese, selfkundige” selfkyk getiteld between my i’s: tussen my oë geloof binne die konteks van die feestema, “Speel”.

Dit is veral haar skilderkuns en keramiekwerk wat kyk na die verskillende “selwe”, soos sy dit noem. Herschelle Benjamin, ’n kunsleek, het met haar gesels.

Wat beteken dit vir jou om vanjaar se feeskunstenaar te wees?

Ek dink die werklikheid het nou eers behoorlik ingesink. Dis ongelooflik! Dis baie selde dat ’n kunstenaar die geleentheid kry om op so ’n groot vlak te speel.
En om deel te wees van die Woordfees… dis ’n absolute eer en ’n droom.
Daar’s soveel nuwe mense met wie ek my werk kan deel.
En omdat ek op Stellenbosch grootgeword het, is dit ekstraspesiaal.
Die ou Bloemhof is my alma mater, en dis ’n hanetreetjie weg van die visuelekuns-department waar ek studeer het.
Ek voel eintlik effens emosioneel vandag.

Hoe sal jy between my i’s: tussen my oë definieer?

Ek sien dit as ’n museumuitstalling – ons het dit ook so benader. Wat hierdie tentoonstelling soveel anders maak as wat ek al ooit vantevore gedoen het, is dat dit so ’n groot ruimte is. Ek kon in vier maande nie hierdie ruimte met my werk vul nie, en daarom is hier werk van die afgelope dekade – sommiges is geleen, onder andere by die Zeitz MOCAA in die Kaapse Waterfront en versamelaars van reg oor die Kaap en Johannesburg. Dit is so spesiaal om die ou werke te sien in die geselskap van my nuwe werke. Dit is iets wat ek as kunstenaar nog nooit beleef het nie.

Ek dink my werk is ’n diep duik in subjektiwiteit. En wat dit beteken om ’n self in selwe te wees.

Ek het nou vir ’n tydjie na die werke gekyk en dit voel asof neurose in vele van die stukke uitgebasuin word. Stem jy saam… daar’s ’n gesprek met die self ?

Natuurlik! Ek sê nie “self” nie, maar eerder “selwe”, in die meervoud. Ek sien die oë en i’s – dis ’n spel daarmee. Ek dink my werk is ’n diep duik in subjektiwiteit. En wat dit beteken om ’n self in selwe te wees. Om ’n mens te wees… ons is soveel komplekser. Ons borrel oor, daar’s soveel emosies, ons is ’n vesel vir ons onderbewussyn – en ons weet nie eens wat daarbinne aangaan nie. Dis natuurlik ook ’n moeilike ding, want ek voel my werk is nie vooruit beplan nie. Ek kyk nie na prentjies nie. Ek gaan na elke doek en iets vloei uit my uit en ek werk vir maande en maande daaraan. Dit is maande se verskillende gevoelens wat vloei. Daar is dus beslis ’n neurose wat borrel.

Waar het die kunsgogga jou gebyt?

Ek kan eerlikwaar sê die gogga het nog altyd gebyt. Ek het ’n lieflike ekstroverte familie – jy ken my sussie Christi Steyn wat saam jou drama studeer het. Ons was vier kinders, en dit was nogal chaos.
Ek onthou ek het altyd seker gemaak ek het my potlood en boekies byderhand, want dan het ek ’n oomblik om die wêreld te filter en te teken.
Dit was nog altyd my manier van cope.
Ek het dit nodig.

As daar een wenk is wat jy vir kunsleke soos ek kan gee, wat sal dit wees?

Ek love hierdie vraag! Eerstens: Moenie kom met vooropgestelde idees, om te kom oordeel nie. Kom en wees net in die oomblik, spandeer tyd met die kuns. Jy sal soveel van jouself ontdek. Dan is dit baie interessant om nié van ’n werk te hou nie. Jy leer van jouself – waarvan hou ek? Dis ’n selfondersoek. En laastens gaan dit nie oor watter kuns “mooi” of “lelik” is nie. Ek dink ons moet gemaklik raak met dinge wat nie vir ons mooi is nie. Dít wat jou ongemaklik laat voel, is veel interessanter.

En laastens: Wat was jou familie se reaksie toe jy vir hulle sê jy’s vanjaar se feeskunstenaar?

Hulle was so opgewonde – hulle is my grootste fans! Ek het eintlik so vir my pa gelag, want hy het onmiddellik gesê: “Ek wonder hoekom het hulle jou nie vroeër gevra nie…” Dit was super-oulik van hom. Hulle is ongelukkig in Australië en ly aan ernstige FOMO, maar my sussie Christi is darem hier.

Marlene Steyn Feeskunstenaar
DAAGLIKS 09:00-18:00
US Museum, Ryneveldstraat
Gratis

Gesprek met Marlene Steyn
2 OKT 14:30
60 min | US Museum-anneks
Gratis

Facebook
Twitter
LinkedIn