COMEDY

Afri-amper-snaaks op ’n sopnat aand

Produksie: Afrisnaaks
Skrywer: Herschelle Benjamin
Foto’s: Golda Simmers

Dit reën katte en honde buite die Drostdy-teater. En so heerlik tydens die eenmalige vertoning van komediant Wayne Mckay se Afrisnaaks-vertoning, waar die gehoor binne knus sit en luister na lange grappies.

Daar’s geen fout met die opening nie – Jodi Jantjies se plaaslike treffer “Ghoema Koor” basuin wanneer Mckay die verhoog betree en daarna die gehoor aanpor om saam die lekkerte in die liedjie te geniet. Tot dusver is die vaaib lekketjies en die laatwinterbuie buite vergete. Mckay het ons in die palm van sy hand.

Die verhoog is minimaal ingeklee met slegs ’n langpoot-stoel, en ’n ampers outydse tas staan oop. Voor die stoel, aan die regterkant, ’n kleiner weergawe van ’n tas. Die titel van die vertoning is graffiti-agtig daarop geplak. Dis funksioneel en gepas. Righto, nou is ons sekerlik in vir ’n ding.

Dis nie aldag maklik om ’n stand-up-komediant te wees nie. Soms kan gehore maar suinig wees met hulle lagbuie. Dis nie so vrylik uit die hemel soos wat die reën buite stort nie, maar een ding is seker: Mckay werk hard daarvoor. Jy sien die sweetdruppels tap.

Dis nie aldag maklik om ’n stand-up komediant te wees nie. Soms kan gehore maar suinig wees met hulle lagbuie.

Hy begin by sy komvandaan – Kensington en al die manewales van sy tuisbuurt en sy grootwordjare word as skryfstof gebruik. Hy kielie die bielie behoorlik wanneer “hol Harre hol Harre hol Harre” die eerste lagdeurbraak bring. Dis ’n lekker stoute grappie van ’n seun by sy skool wat die “bus driver, die PR en die atleet” by hulle skool was. Die einste een waarvoor sy skool gaan raas het by interskole-atletiek in die Athlone-stadion.

Hierna is waar dit ietwat skeefloop, maar als is definitief nie verlore nie.

Die kuns van komedie is al wyd uitgetoets en het al talle lesse vir menigeen geleer. Ek weet dat dit nie ’n maklike taak is nie, want soms val dit net plat oppie vloer. Dis asof dit met chemie werk en as dit nie gerespekteer word nie, word jy gestenig. Dis die geval met grappies, of altans die opstel van grappe, wat net té lank duur deur Mckay. Sy ongelooflike fisikaliteit is ’n bate, en alhoewel dit baie help, is dit net nie genoeg om die kwinkslae aan die einde van staaltjies te lewer nie. Mens dink, oukei bra, kom tot die punt!

Dis die geval met die House of the Dragon-grappie wat onvanpas voel en nadat dit gelewer is, wonder mens waar pas dit nou in? Maar jy bied tonne grasie vir Mckay, wat mense vir seker kan laat lag. Die sterkste oomblikke is beslis aan die begin van die stuk.

Dan – ek kan soms skreeu as mens komediante se aksent-werk beleef. Ek het dit al eerstehands by Trevor Noah se onlangse nasionale toer beleef. Dis soms baie beter as akteurs s’n. Dus kan ek my net indink dat dit harde werk kos. Mckay se Britse aksent het egter beweeg van manlike Yorkshire-Engels na ’n wafferse vroulike Cockney-Engels en was uiters ongeloofwaardig. Als is nie verlore nie, maar dalk verg dit meer werk hier.

Hy skitter met sy plaaslike aksente, maar met effe van ’n bitter smaak. Kyk, dis goed dat ons vir onsself moet lag, maar die grappe voel net te eensydig oor “sy mense” wat hy soms uitlewer soos hul onskuld, onkunde en smart ligtelik gebruik word vir cheap laughs. Dalk lees die resensent té veel daarin, maar mens moet in jou pasoppens wees om die “coloured mense as laughing stock”-trope te maklik te gebruik. Of gebruik dit, maar waar is die byt vir die gehoor se reeds vooropgestelde idees oor die mense. En nie net coloured mense nie, maar selfs Moslem-mense kom onder die hamer. Gatiep-en-Meraai-jokes het ’n geskiedenis en dalk help ’n effense bewustheid daaroor om die materiaal net nog sterker te maak. Want dit kan nog byt kry.

Afrisnaaks is nie onplesierig nie, inteendeel, dit laat jou hier en daar lag en Mckay is ’n fees om na te kyk. Nou is dit net tyd vir afronding en skuur en skaaf. Die vervaardiger en regisseur, Jeremeo Le Cordeur, is ’n ervare hand, veral met dramatiese komedie, en het self al gespeel in stukke soos Dude! Wa’s my phone? en Jerry, an unconventional hero.
Mens wonder of Mckay regtig genoeg sy leiding aanvaar het.
Daar is nog werk vir albei om die finale produksie te
fine-tune.

Die stuk eindig met “Ghoema Koor” en die ou het movesDis sulke lekker moves, selfs die reën buite het opgeklaar.

Geen verdere vertonings van Afrisnaaks by die Woordfees nie.

Facebook
Twitter
LinkedIn