TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Tinkerbell se pad kronkelpad huis toe
Produksie: Amanda Strydom: The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder
Skrywer: Jo-Ann Floris
Foto’s: Gys Loubser
Dit is nie Amanda Strydom wat jy daar op die verhoog sien nie. En dit mors met ’n mens se kop, want die vrou wat daar sit met ’n stywe ouma-bolla sê sy is Nella Petersen. Sy werk by die kinderhuis, waar die wees en weggegooides onder haar engelvlerke kan wegkruip – nie net vir die lewe nie, maar ook vir die mislike matrone.
Op ’n dag kom Tinkerbell Dolorosa van Tonder daar aan, verwese nadat die ouma wat haar grootgemaak het ná haar ouers se dood, ook sterf. Tinkerbell is ontwortel, die mat onder haar jong lewe uitgepluk. Sy is ’n kind wat ’n nuwe, ideale wêreld in haar kop bou. Matrone hou nie eintlik daarvan dat kinders so dink nie; sy’s mos al een wat kan besluit wat hulle dink, sê en voel.
Nella probeer Tinkerbell teen matrone en haarself beskerm, maar die kind beland telkens in die kelder waar die leë bokse en kratte gestoor word. Daar’s net ’n klein venstertjie met sifdraad voor en ’n mens moet op ’n klomp van die kratte staan om by die venster te kan uitkyk. Só leer Tinkerbell van jongs af daar is altyd ’n berg of heuwel wat uitgeklim moet word. Sommige breek jou moed; ander bou jou stamina om aan te hou.
Eendag kom ’n ander engel oor Tinkerbell se pad. Die Koi-engel roep haar by die naam – sy klink wraggies soos Tinkerbell se oorlede ouma! Hier vlieg die Koi-engel dat die krale en skulpe kling-klang. Sy raak ongeduldig met Tinkerbell, want sy het dan gesê sy moet spring en die kind praat nog terug.
Toe Spring Tinkerbell, en sy beland aan die ander kant van die treinspoor, langs die trein waar ’n man vir haar sê sy moet inklim. Sy wil nog teëpraat, toe vertel die engel haar mooi: “Life is a journey, wie is jy nou om die transport te question?”
Hierdie woorde sou in baie vorme gestalte kry in Tinkerbell se lewe. Daar spoeg die trein haar baie ver weg uit, vertel Nella, langs die pad waar die engel met die krale en skulpe vir haar sê sy moet in die taxi klim. En so begin die ongelooflikste reis van Tinkerbell Dolorosa van Tonder, kind sonder huis of heenkome, wat nooit weer wees gelaat sou word nie.
The Amazing Journey of Tinkerbell van Tonder wys Strydom se absolute veelsydigheid as sanger, aktrise en vermaakkunstenaar. Sy laat dit geloofwaardig klink om as wit vrou ’n bruin vrou te speel, en dan met ’n wit aksent praat!
By tye smokkel dit met ’n mens se kop, maar as Strydom wegtrek en begin sing, word die balans herstel en is daar geen twyfel oor wie op die verhoog staan nie. Sy verweef ’n meesleurende verhaal deur vertellings en musiek, met Coenraad Rall (musiekregisser) op klavier, en dit vloei naatloos. Die nuanses is fyn. Kleur of ras word nooit genoem nie, maar slim gesuggereer deur name, plekke en omgewing.
Die vrou wat Tinkerbell ná die taxirit onder haar vlerk neem, is Ma Sophie, wat haar eie eet- en kuierplek het. Soos Nella sê: Sy is ’n shebien-queen, maar nie die enigste queen daar nie. Langs haar bly Errol, die florist, en sy partner, John, die hairdresser, wat ook Tinkerbell se uitgebreide familie word.
En so begin die ongelooflikste reis van Tinkerbell Dolorosa van Tonder, kind sonder huis of heenkome, wat nooit weer wees gelaat sou word nie.
Die nuanses strek verder. Dit bring die elemente in van gedwonge verskuiwing en apartheid (Tinkerbell word wéér ontwortel en dié slag Nederland toe gepos). Uncle Boykie, in sy eie land self ’n uitgewekene, bly daar in ballingskap. Saam vorm hulle ’n nuwe familie, al is dit ver van waar hulle harte agtergebly het. Saam, maar onvolledig.
Die musiek snoer saam met insette deur Frazer Barry, Ismail Mohammed en Jaques Avril du Toit, met liedjies soos “O Lamadie” (’n Kaapse Klopse-medley), “Two Fisted Mama” en “Wheel of Fortune”.
Die uitvoering eindig met die klavierklanke van “Meadowlands”, heel gepas die struggle-lied wat in in die laat jare vyftig geskryf is in reaksie op die gedwonge verskuiwing van swart en bruin mense uit Sophiatown in Johannesburg. Meadowlands was van die eerste swart townships waarvan ’n deel later Soweto sou word.
Dit het Tinkerbell 15 jaar gevat voor sy weer haar eie land kon sien; vir uncle Boykie baie langer. Maar uiteindelik kon hulle ’n deel van die gat in die hart weer kom toemaak, hier in die land van hulle herkoms, maar nie op die plek wat hulle as huis geken het nie.
Dit alles vertolk Strydom meesterlik terwyl sy behendig deur die karakters vleg. In die verkeerde hande kon dit maklik neerbuigend oorkom om in ’n ander se kleur- en genderskoene te klim, maar hier triomfeer Strydom se ervaring en haar sensitiwiteit teenoor die karakters, die stem wat sy hulle gee.
As daar enige twyfel sou wees dat Strydom ’n kind van Afrika is, gaan beleef haar kenmerkende Amandla-kreet, maar meer nog, haar absoluut hartroerende lied met ’n verwerking van “Nkosi Sikelel’ iAfrika”.
Amanda Srydom: The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder
3 OKT 20:00, 4 OKT 09:30, 5 OKT 13:00
70 min | Drostdy-teater
R180-R250 | R210-R280 by die deur