TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Weergalose Frieda is kos vir jou siel
Produksie: Frieda van den Heever: Spoorsny
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Gys Loubser
Reeds met die sitslag weet jy hier kom ’n konsert wat gaan uithaal en wys. Voor jou is ’n vleuelklavier, plek vir sewe musikante, ’n agtergrondsanger en koorbankies. ’n Volle musiekproduksie waar geen hoekies gesny gaan word nie.
En so was dit, want Frieda van den Heever bring altyd alles.
Frieda se nuwe album, Spoorsny, is vroeër vanjaar vrygestel en sonder twyfel een van die beste Afrikaanse albums die afgelope tyd. Dis intens en persoonlik en ondersoek verlies, maar tog ook die vreugde van dit wat eie aan ons is.
In ’n volgepakte Bloemhof-sentrum het Frieda van die eerste glimlag en haar blink oë agter haar kenmerkende bril die gehoor genooi om saam met haar op haar musikale reis te gaan. Hulle was gewillige passasiers en die staande toejuiging teen die einde van die konsert van 90 minute getuig daarvan.
Buiten haar lirieke wat in die mooiste, mooiste taal geskryf is, tref haar woorde tussen liedjies net so hard. “Om nat te reën in Namakwaland is soos grootdoop,” sê sy, en later: “Waar is jy as musiek jou nie meer kan bereik nie?” En, in antwoord op iemand wat ná haar man, Leon Kruger, se dood gesê het Frieda het ’n jaar van probleme agter die rug het: “Ek het nie probleme nie, ek het ’n leemte.”
Daar is ’n gesegde, “sending the elevator down”, wat mense beskryf wat reeds sukses behaal het, maar altyd ander help om ook daar te kom. Frieda is iemand wat die hysbak afstuur en plek maak vir ander in haar lig. Nie net het sy groot name soos Coenie de Villiers, Pierre Greeff en Laudo Liebenberg saam met haar laat sing nie, maar ook jong mense wat sy deur Agri’s Got Talent, ’n talentkompetisie vir mense wat op plase woon en werk, ontmoet het. Jasmine Bones, Jason Baartman, Faith Nogemane, Magdalene Philander en Gerthroline Philander het hulle plek op daardie verhoog volgestaan, en te oordeel na die glimlag op Frieda se gesig is sy so trots op hulle soos ’n ma op haar kinders is. Ook die Hoërskool D.F. Malan se koor, onder leiding van Jade Paige, het ’n reusebydrae tot dié konsert gemaak. Dit was ’n belewenis op alle vlakke.
Frieda het van die bestes gekry om in haar orkes te speel: Mauritz Lotz op kitaar, Muneeb Hermans op trompet, Hieram Koopman op saxofoon, Schalk van der Merwe op baskitaar, Jono Sweetman op tromme, Anjulie Nock op tjello, Marina Louw op viool en Grethe van der Merwe wat vir die agtergrondsang gesorg het. Elkeen uitstekend in eie reg.
Om nat te reën in Namakwaland is soos grootdoop.
Die hartstog waarmee Frieda optree, is iets om te aanskou. Dit praat met jou hart en jou siel, en daar is nie een vervelige oomblik nie. Hierdie is ’n konsert wat op alle silinders loop en een wat jy nie sommer gaan vergeet nie.
Daar is nog net een konsert by vanjaar se Woordfees oor. Kry so gou jy kan ’n kaartjie, al moet jy nou iemand uit die pad skouer om dit te kry.
Magies, absoluut magies!
Frieda van den Heever: Spoorsny
5 OKT 20:00
90 min | HMS Bloemhof-sentrum
R180-R260 | R210-R290 by die deur