TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Die bittersoet van onthou

Produksie: Koos Kombuis en vyande
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Pierre Rommelaere

Geen harde woorde het geval nie. Geen kitare is in die maak van hierdie konsert gebreek nie. Alle vriende is oënskynlik op goeie voet. Is dit selfs moontlik dat hier en daar nie kan onthou word waaroor die baklei(e) gegaan het nie?

Moenie jouself in ’n storie inskryf nie, is jare gelede vir my as jong joernalis gesê. Maar hier kan dit nie anders nie – en dit is maar net een van die vele stories wat ek het om te vertel.

Dis September 2003, Huisgenoot Skouspel by Sun City. Anton Goosen word vereer vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek. Met reg. Maar daar is wrywing en onmin. Anton en Koos Kombuis, wat ook op die konsert is, sit nie om dieselfde vuur nie; ’n krapperigheid wat al jare kom. Anton is kwaad vir Lucas Maree, onmin wat kom uit die dae toe hulle albei lede van Die Kommissie van Ondersoek was.

Valiant Swart is ook daar, maar Valiant is Valiant en oorrompel almal met sy glimlag. Gian Groen probeer die vrede bewaar. En tussendeur is daar die Steve Hofmeyr-kwessie. Ag, aarde. Moan onder meer omdat daar nie ’n spieël in sy kleedkamer is nie, ’n kleedkamer waar hy op sy eie was om hom en sy destydse bestuurder, Louis van Wyk, van die ander weg te hou

In ’n stadium het Mnr. X (hierdie is nie nou die tyd om nuwe wonde oop te krap nie, daarom die naamloosheid) gesê die enigste verskil tussen Mnr. Y en Mnr. Z is dat Mnr. Z darem so nou en dan stort.

Die geredekawel het lank aangehou. Ek is nie seker waar die vredesvure eerste begin brand het nie, maar dankie tog dit het wel gebeur, en Koos en sy “vyande” kon weer op een verhoog byeenkom.

Behalwe vir Koos, Anton en Valiant was Gert Vlok Nel ook daar. In die orkes was Anton L’Amour, Chris Vermaak, Willem Möller en Schalk Joubert (wat ook die konsert bymekaargesit het) op verskeie kitare, Kevin Gibson op tromme, Jannie “Hannepoot” van Tonder op tromboon, Janine Neethling op klavier, klawerbord en akkordion, Dagga-Dirk Uys op perkussie, Nicole Holm en Liela Groenewald op agtergrondsang en, as spesiale gaskunstenaar, Liza Joubert, einste Liza van “Lisa se klavier”. (Ja, die een is met ’n Z en die ander met ’n S.)

’n Stewige span.

‘Lirieke is alles,’ het Koos gesê, ‘note is fokkol.’

Die konsert begin met Koos se “Travel in staail”, met almal op die verhoog. Dan praat ’n stem oor die klankstelsel. Lloyd Ross van Shifty Records stap op die verhoog en vertel hoe hy en Koos bymekaar uitgekom het en Shifty die album Niemandsland uitgegee het.

“He really played kak guitar and his voice wasn’t great,” onthou Lloyd van die begindae. Maar dit was alles oor die woorde. “Lirieke is alles,” het Koos gesê, “note is fokkol.”

Oor die volgende 90 minute is die gehoor, grotendeels in puffers en gemaklike skoene, op ’n nostalgiese reis geneem van Koos se musiek, maar ook solo’s en duette van Anton, Valiant en Gert. Of dit wat Gert probeer doen het. Geklee in swart met ’n skouersak skuins oor sy lyf het hy opgestap met ’n stuk papier, minstens A3-grootte, met woorde daarop. Groot genoeg geskryf dat ek vermoed die mense in die eerste ry sou kon saamsing. Gert het die woorde geflompel – wat is die kombinasie tussen fluister en mompel? – en die res op die verhoog het bygebly, al was daar hier en daar ’n diep frons. Gert het klaar gesing, die papier opgevou, dit vir Koos gegee en van die verhoog af gestap. Dit was die laaste wat ons van hom gesien het.

Die res van die deelnemers het duidelik hulle deelname geniet. Anton L’Amour was vir die eerste keer in vier jaar – en bykans drie jaar ná die dood van Theuns Jordaan, vir wie hy amper eksklusief gespeel het – weer op die verhoog. Jannie blaas daai tromboon sekuur, soos altyd. Nicole se stem is hemels, en hoe lekker is dit om weer vir Janine terug te hê in Suid-Afrika!

Een van die vele hoogtepunte was “Lisa se klavier” deur Liza en Koos – dit is verstommend dat dit die eerste keer is wat dit gebeur. Mag dit weer so wees.

Dagga-Dirk was in ’n swart hemp en broek, maar die uitrusting opgekikker met ’n maroen hoed, ’n string blomme om sy nek wat lyk of dit uit Crazy Store kom, en ’n gehekelde wit tjalie om sy skouers. Wanneer hy die cowbell so met ’n stokkie gebliksem het, kon ’n mens nie anders nie as om te dink aan die Will Ferrell-skit in 2000 op Saturday Night Live.
Dis nou die een waar Will die cowbell entoesiasties slaan op “(Don’t Fear) The Reaper” van Blue Öyster Cult, maar ’n mens wil nie die woord “reaper” gebruik en die noodlot tart nie.

Met Kris Kristofferson se dood verlede week is daar nou net een van The Highwaymen oor – die 91-jarige Willie Nelson. Johnny Cash en Waylon Jennings was hopelik daar om vir Kris by die hemelse Grand Ole Opry te ontvang.

Time waits for no man. Ons musiekhelde van destyds raak oud. Ís oud. Koos het sy liedjie “Die alle ou tannie blues” se lirieke aangepas tot “Ek love alle ou tannies” want, sê hy, hy is ’n ou omie. Maar die ooms kan nog rock – dís wat tel.

Regs van my het ’n gryskopman gesit. Ek skat in die sewentig. Toe die laaste note van die toegif, “Almal wil ’n huisie by die see hê”, uitsterf en die gehoor op hulle voete kom (ek sal nou nie die woord spring gebruik nie…) en die sangers en musikante toejuig, leun hy oor na my toe en sê: “Dis Africana. Hierdie is Africana.”

Koos Kombuis en vyande
4 OKT 20:00
80 minute | HMS Bloemhof-sentrum
R180-R260 | R210-R290 by die deur
OB

Facebook
Twitter
LinkedIn