THEATER

By die kruispad van die liefde

Produksie: Kruispad of die legende van die goue vis
Skrywer: Herman Wasserman
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Het alles – selfs die liefde – ’n prysetiket? Dit is die diep filosofiese vraag wat lê aan die hart van hierdie toneelstuk, geskryf deur die Estlandse dramaturg Jaan Tätte en in Afrikaans op die planke gebring deur die veteraanregisseur Marthinus Basson.

’n Jong paartjie, Roland en Laura (Carla Smith en Edwin van der Walt), klop een wintersnag aan by die huis van ’n eksentrieke alleenloper, Oswald (Eben Genis), nadat hulle ryloopplanne skeefgeloop het en hulle ’n oornagplek soek teen die koue. Uit die staanspoor is dinge duidelik nie heeltemal pluis nie. Oswald se gedrag raak al hoe vreemder, en die grense tussen werklikheid en fantasie, hede en verlede, feit en fiksie begin so glibberig raak soos die toegesneeude paaie buite die hut in die woud.

Oswald toon dadelik ’n buitengewoon sterk belangstelling in Laura, en hoewel Roland waarskynlik nie ongewoond is daaraan dat ander mans sy geliefde aantreklik vind nie (hy erken immers self in ’n terloopse onbewaakte oomblik dat sy oog ook so nou en dan dwaal), neem hierdie aandag gou ’n wending wat Roland dwing om die krag van sy eie oortuiging en die diepte van sy lojaliteit grondig te ondersoek. Oswald maak naamlik ’n aanbod aan die jong paartjie wat hulle voor ’n kruispad te staan bring en hulle noop om te besluit watter rigting die res van hulle lewe gaan inslaan.

Namate hulle wik en weeg oor die verreikende besluit, begin die fyn krakies in hulle verhouding na vore kom en begin dit duidelik raak presies hoe dun die wand tussen liefde en verraad eintlik is.

Hierdie gegewe mag dalk klink na die resep vir ’n gewroeg, maar danksy die dinamiese interaksie tussen die spelers – ’n teken van Basson se meesterlike regie – bly die aanslag lig en selfs komies (maar moenie ’n skreeusnaakse ervaring verwag oor die genre-beskrywing “komedie” nie). Basson se vertaling is soepel genoeg om die stuk in Afrikaans te laat tuis kom, met slegs die sporadiese verwysings na die sneeu of die padtekens in Esties wat jou aan die teks se oorsprong herinner.

Die teks “werk” gewoon op ’n letterlike vlak as ’n tipe moraliteitskomedie, maar danksy die terloopse meta-dramatiese opmerkings deur Oswald (byvoorbeeld sy verwysings na “die eerste bedryf” of die gehoor wat Laura nie behoorlik sal kan sien as sy op die grond gaan lê nie), word die “derde muur” van die verhoog nou en dan verwyder om die gehoor meer direk te betrek en hulle daaraan te herinner dat die keuses wat die karakters maak, dalk nie ’n hele halfrond verwyder is van hulle eie alledaagse bestaan nie.

Die grense tussen werklikheid en fantasie, hede en verlede, feit en fiksie begin so glibberig raak soos die toegesneeude paaie buite die hut.

Dis veral wanneer die verhaal ’n onverwagse wending maak teen die einde – met Beer Adriaanse se verskyning as ’n koel skobbejak – dat die stuk nader aan ’n sprokie as ’n komedie begin beweeg.

In die openingsvertoning het die akteurs dalk nog nie heeltemal tuis gevoel in hulle karakters nie – die spel is nog nie heeltemal ingeleef genoeg om die volle trefwydte te weerspieël van die implikasies wat die karakters se besluite inhou nie – maar dit sal wel ontwikkel soos die ensemble meer saamspeel. Daar is oorgenoeg talent en energie bymekaar op die verhoog om daarvoor te sorg.

Kruispad verhul sy diepgang goed onder die seepgladde komiese oppervlak en is dus vir ’n breë gehoor toeganklik. Maar onder die dun ys wag daar diep water.

Kruispad of die legende van die goue vis
1 Okt 18:00, 3 Okt 09:30 12:30, 4 Okt 10:00
105 min | Rhenish Girls’ High School
R200-300 | R230-330 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn