THEATER

Pens, pootjies, fallus en al in dié draaikolk

Produksie: Why do Moths Fly Like Crazy Kcufs in the Night?
Deur: Johan van Zyl
Foto’s: Verskaf

Jy snap gou waarom hierdie eiesoortige eenvroustuk in die Woordfeesprogram as ’n “ervaring” geklassifiseer word – én waarom Sue Pam-Grant se voortreflike vertolking haar verlede jaar ’n benoeming vir ’n Fleur du Cap-teaterprys in die sak gebring het.

Terwyl die gehoor nog probeer nog sin maak van die gilrooi spirale, aanhalings (“I do, I undo, I redo”) en kunswerke teen die mure, trek Maria Callas los met die aria “Visi d’arte” (“Ek het vir kuns geleef”) uit Puccini se opera Tosca.
Dis net mooi dan wanneer Pam-Grant die ateljeeruimte binnevaar, haarself periodiek pantser met ’n kwas, en jou dan pens, pootjies, fallus en al insuig, soos ’n draaikolk.

Why do Moths Fly Like Crazy Kcufs in the Night? is een van daardie wonderbaarlike teaterervarings wat moeilik is om te verwoord. Jy sou dit kon beskryf as ’n psigoanalitiese meditasie oor die kuns van kunsmaak. Of ’n kontemporêre portretstudie waarin Pam-Grant, self ’n gerekende en bekroonde transdissiplinêre kunstenaar, die lewe, werk en vernaam die unieke skeppingsproses van die Frans-Amerikaanse kunstenaar Louise Bourgeois (1911-2010) ondersoek.

Jy sou dit kon beskryf as ’n psigoanalitiese meditasie oor die kuns van kunsmaak.

Bourgeois, wat as skilder, drukkunstenaar en beeldhouer gewerk het, is veral bekend vir haar enorme brons-en-staalspinnekoppe – ’n ode aan haar ma – wat buite verskeie kunsmuseums reg oor die wêreld ten toon gestel word. Sy het haarself ’n histerikus genoem en haar werk beskryf as ’n weerspieëling van haar onstuimige kinderjare en persoonlike ervarings en emosies. Haar ateljee in New York, waar die stuk afspeel, was ’n persoonlike toevlugsoord, ’n ondermynende baarmoeder waar sy haar herinneringe met die onvolmaakthede van haar materiale vermeng het om haar geloof in “die skoonheid van kwesbaarheid” te weerspieël. Bourgeois se kuns daag tradisionele idees oor vroulikheid (en die plek daarvan in die patriargale kunswêreld) uit en ondersoek temas soos trauma, geheue, identiteit, vrees, isolasie, mag en oorheersing.

Amper soos destyds in Kombuis blues, die verhoogverwerking van Jeanne Goosen se novelle Louoond (1987) waarin soortgelyke temas (en selfs die Puccini-aria!) voorkom, heers daar op hierdie “verhoog” ook ’n toestand van “beheerde histerie” terwyl Die Kunstenaar een soel nag frenetiese gesprekke aanknoop met haar eie demone en verskeie mense soos haar ouers, haar assistant-en-kurator en haar terapeut.

Bourgeois se narcistiese pa, Louis, wat verteenwoordig word deur ’n staanwaaier, wou eintlik ’n seun hê en het later sy vrou en gesin verraai deur ’n affair aan te knoop met die inwonende goewernante Sadie Gordon Richmond wat die kinders Engels moes leer. Soms los sy op ’n rooi diktafoon boodskappe vir Jerry Gorovoy, wat jare lank as haar assistent en kurator gewerk het, ander kere tree sy in gesprek met dr. Henry Lowenfeld, haar Freudiaanse terapeut met sy gekwilte chaise longue, wat sy meer as dertig jaar lank vier keer per week besoek het.

’n Mens verstaan nie naastenby al die psigoanalitiese verwysings nie; daarvoor is die teks gewoon te dig, maar in Die Kunstenaar se persoonlike dialoog met haar mentor sleur die vurige Pam-Grant en haar Franse aksent jou mee deur Bourgeois se “pink days, blue days, sad days, red days, nothing days”. Jy glo elke beweging of kwashaal wat sy maak, elke woord wat by haar mond uitkom. Die kwas is inderdaad magtiger as die swaard.

Why do Moths Fly Like Crazy Kcufs in the Night?
29 September 15:00, 30 September 14:00, 1 Oktober 14:30 20:00 en 2 Oktober 16:00
Ryneveldstraat 38
R180 | R210 by die deur
75 minute

Facebook
Twitter
LinkedIn