KINDERFEES

Iets wat gebreek is, is nie sonder waarde nie

Produksie: The King of Broken Things
Skrywer: Jo-Ann Floris
Foto’s: Nardus Engelbrecht

’n Halwe fiets. ’n Gelapte verkyker, ’n stofsuier met ’n stukkende pyp. ’n Stukkende kind.

Die kind kom vreesbevange by die huis aan, bewend, met ’n kakofonie van stemme wat oorverdowend hard skree, hom koggel. Dan die stilte, die wonderlike stilte.

Van daai eerste toneel van The King of Broken Things af gryp die karakter (gespeel deur Cara Roberts) jou om die nek en arms en bene, en daar is geen wegkomkans nie. Mens kan tog nie wegkyk van ’n kind met oë wydgesper, lyf bewend van angs, wat dapper probeer glimlag maar die kwesbaarheid lê vlak nie.

“Sticks and stones will break your bones, but words can never harm you,” prewelsing die kind, die woorde waarmee sy pa hom altyd moed ingepraat het. Op sy kop is ’n skrum-pet wat sy ore toehou, ’n manier om die kwetsende woorde uit te hou.

Dis duidelik sy pa was die anker, en met hom weg, het die kind eintlik ook nie meer ’n ma nie. Dis eers baie ver in die storie dat die ma figureer – en dan ook as een van die “stukkende dinge” wat die kind omring. Hy word gespot op skool, geboelie. As teenvoeter probeer hy al die raad wat sy pa hom ooit gegee het.

“Words carry weight. Leave the heavy ones behind, else it will weigh you down.”

Opgewonde vertel hy van sy kontrepsie wat woorde weeg – iets soos ’n outydse skaal met gewiggies aan die een kant, en dan die woorde aan die ander kant. Worry bly swaarder weeg as believe. Hy bedink ander planne ook. Daar is die superhero cape met ligte woorde soos liefde, geluk, maar “ek is is steeds vasgepen aan die grond”. Die periskoop uit ou afvoerpype en stukkies gebreekte glas help hom afstand hou.

“Soms verkies ek om van net buite na die wêreld te kyk, nie om daarin te wees nie.”

The King of Broken Things praat op veelvuldige emosionele vlakke met mens. Elke keer as jy gerus raak en dink die kind kan nie weer platgeslaan word nie, gee hy daai wankelrige glimlag, wys die volgende ding wat hy ontwerp het. Alles draai om dinge wat hom moet beskerm teen ’n wêreld en kinders wat woorde as wapens gebruik. Of goed wat die emosionele gat wat sy ma en pa se afwesigheid laat, moet vul.

Kintsugi, die Japanse gebruik om krake in keramiek te las met goud, het vir die kind die baken van hoop geword, want sy pa het gesê jy kan enigiets wat stukkend is so regmaak. En dat goue lasplekke regdeur hom wat kind is, loop. Hy hoop hardop sy ma kan ook so reggemaak word, “want sy was nooit dieselfde ná my pa weg is nie”. Met die eerste oogopslag fokus mens op alles wat stukkend rondstaan op die verhoog, en die goed wat al nuwe gedaante gekry het. Reggemaak, gelap, vernuwe. Bietjie vir bietjie ontknoop die storie, kinderlik onbeholpe, want die volwassenes in sy lewe is nie meer daar nie.

Ek wil graag my ma ook heelmaak, in die mooiste, helderste kleure wat daar is..

“Ek het dit nie toe geweet nie, maar my ma was ook stukkend,” moet hy sin maak. “Ek wil graag my ma ook heelmaak, in die mooiste, helderste kleure wat daar is.”  

Die kinders by die skool wil weet waar is sy pa, maar hy is self nie seker nie. Hy weet net sy ma was nooit weer dieselfde nie.

“Ma se hart is nie stukkend-stukkend nie. Ek is seker dit kan reggemaak word,” kom die hoopvolle smeking. ’n Kind wat die las vir die volwassene moet dra.

Uiteindelik kom daar ’n draai in die storie, en dit is iets wat mens self moet beleef, want dis deur visuele elemente, beligting, klank, en die brose kind wat die onwrikbare geloof het dat iets wat stukkend is, nie net weggegooi moet word nie.

“Partykeer gebruik mens een stukkende ding om ’n ander stukkende ding mee reg te maak, dan is dit selfs beter.”

Weet net die stuk is ’n ervaring wat geen van jou emosies onaangeraak laat nie, en ’n waardige wenner van die 2023 Woordtrofee vir beste prestasie in kinderteater.

Die kombinasie van Roberts se spel, Michael Taylor-Broderick se regie en teks en die musiek van Darren Peens sal ook die gehoor heelmaak.

The King of Broken Things
4 OKT 16:00 | 6 OKT 10:00
50 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R120 | R150 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn