CLASSICAL MUSIC
Koor, orkes, soliste skilder Skepping energiek
Produksie: Die Schöpfung (Die Skepping)
Skrywer: Wayne Muller
Fotograaf: Mark Cloete
Dit maak nie saak watter skeppingsverhaal jy glo of verkondig nie – die groot knal, ses dae van arbeid met rus op die sewende dag, wat ook al – maak net seker dit kom met ’n opwindende klankbaan wat die storie se geloofwaardigheid ’n hupstoot gee.
Dít het Haydn dalk geweet, want sy musikale inkleding van die Bybelse Skeppingsverhaal is een wat luisteraars van sy oratorium Die Skepping al lank aangryp.
Net soos die verhaal in die Bybelboek Genesis wat vertel dat die aarde en mensdom sy oorsprong uit ’n chaos het, so begin ook die inleiding tot Die Skepping met musiek wat uit die niet verrys: donker skuurklanke roep beelde van verlatenheid by ’n mens op, en dan begin die warboel van klank maat vir maat al hoe meer sin maak, al versinnebeeld dit steeds die chaos.
Wat volg, is musiek – koordele, arias en ensembles – wat in drie dele die Bybelse Skeppingsverhaal uiteensit by monde van die aartsengele Gabriël (Elsabé Richter, sopraan), Uriël (Christian Rathgeber, tenoor) en Raphael (Felix Rathgeber, basbariton). Eerstens skei dag en nag; dan ontwaak plante; diere kry lewe; en uiteindelik kom die mense, Adam (Conroy Scott, bariton) en Eva (Janel Speelman-van Rooyen, sopraan), wat as ’n “gelukkige paar” beskryf word.
Sondag het Berger die koor, orkes en soliste gelei in ’n uitvoering wat die nodige energie en uitbundigheid van Haydn se musiek weergee.
Die uitvoering onder leiding van die dirigent Martin Berger was in die oorspronklike Duits waarvoor Haydn die musiek gekomponeer het, hoewel daar in sy leeftyd ook ’n Engelse libretto geskep is. Die musiek is virtuoos in die sin dat die meeste van die arias en ensembles met die soliste groot vertoonstukke is, terwyl die koordele sorg vir dramatiese effekte.
Sondag het Berger die koor, orkes en soliste gelei in ’n uitvoering wat die nodige energie en uitbundigheid van Haydn se musiek weergee. Schola Cantorum is ’n koor van goeie sangers en hulle het met genuanseerde sang die verhaalgebeure puik oorgedra, terwyl die orkes, die US Camerata, deurgaans sterk spel gelewer het.
Die soliste het almal lieflik gesing. Richter se soet sopraanstem het beslis soos ’n engel oorgekom. Christian Rathgeber se tenoorklank was ryk, terwyl Felix Rathgeber se basstem as ’t ware rede en mag verklank het. Speelman-van Rooyen het in haar sang haar fyn musikaliteit ten toon gestel. Scott het geïmponeer met sy welluidende stem, hoewel hy in van hulle duette te luid vir sy Eva was.
Die Skepping is so ’n luistervriendelike werk – en veral ’n vreugde as die koor, orkes en soliste goed is – dat ’n mens dit meermale op konsertverhoë wil hoor.
Die Schöpfung (Die skepping)
29 SEPT 15:00
100 min | Endlersaal
R180-R250 | R210-R280 by die deur