TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Vrystater se volsirkel
Produksie: Verhale van ’n nomade: Die storie van Andries de Lange
Skrywer: Nadine Petrick
Fotograaf: Verskaf
Ek het geen idee of ek dit doodeenvoudig gemis het nie, maar ek het by ’n vriend ingecheck en dit het hom ook verbygegaan: Die naam Andries de Lange, groot en duidelik in die titel, het nie één keer in die produksie opgeduik nie. Andreas Bester, ja. Oliver, ja. Dawn, Bianca en Merlin ook. Nul Andries. Maar, nou ja, kom ons spoil nie ’n lekker storie met die feite nie.
Christof Berg voel vir my nuut op die scene. As ’n mens sy mooi gesiggie google, dan spring die akkolades wel een ná die ander van die bladsye af, en dis duidelik dat hy die laaste aantal jare wyd gereis en gewerk het.
Dié gegewe kom uit in sy kabaret met die ietwat verwarrende titel. Berg vertel die storie van sy grootwordjare op Witkraal, ’n soutplaas in die middel van die Vrystaat. Hoe sy oppasser Sarah hom oral op die plaas rondgeabba en vir hom Sotho-liedjies oor die reën gesing het. Hy vertel van Andreas Bester, die boheemse reisiger en pianis wat sy lewe in ’n bepaalde rigting gestuur het, en hoe hy, Christof, uiteindelik die plaas verlaat om sy eie droom van musiek in die grootstad na ta jaag. Hoe sy pa ’n roerende brief aan hom skryf wat hom gerusstel: Hy sal altyd vir hom wag op Witkraal; en hy sal altyd weer welkom wees in sy ouerhuis.
Hy vertel van nagte in Stardust, die kunstenaarshuis in Aloe Lane en sy gebreekte hart. Hy gee glimpse van die plekke waar hy oral as pianis gewerk het en hoe hy uiteindelik begin sing het.
Die boertjie in beton wissel sy verhale af met bekende treffers, waaronder ’n paar van Koos Kombuis, Billy Joel se “Piano Man” en ’n verwerking van Amanda Strydom se “Ek het gedroom”. Sy eie komposisies is egter verrassend. Dis móói, man. En hy het ’n stem wat die tannies en sekere ooms beslis gaan laat droom van gesteelde oomblikke in donker kroeë, met rokerige whisky en ’n paar blokkies stoute 99% Lindt-sjokolade on the side.
Maar… Die kunstenaar het iewers ’n geaffekteerde grunt aangeleer. Elke dan en wan grom hy soos ’n moerige Kaapse kobra in die mikrofoon in, en dit dra absoluut niks positiefs by tot sy delivery nie. Om die waarheid te sê, dit raak later nogal steurend. Bogenoemde vriend, ’n musiekkenner, laat blyk ná die tyd dat dit sy oorwegend positiewe ervaring effens vermodder het. Askies, Christof, maar iemand moet dit sê. Laat dit nou maar ek wees.
Hy het ’n stem wat die tannies en sekere ooms beslis gaan laat droom van gesteelde oomblikke in donker kroeë.
Christof se storie eindig by die afsterwe van sy pa, en hoe hy terugkeer huis toe om sy pa se eie brief aan hom terug te eggo. ’n Volsirkel vir die nomade, terug tot by die soutplaas in die middel van die Vrystaat.
Bly in verwondering oor die lewe, is sy finale pleidooi, en ’n mens kan aan sy innigheid op die verhoog en in sy lirieke hoor dat dit wel is hoe hy self die lewe leef.
Ek kan my voorstel dat Christof Berg ’n gereelde feesgesig gaan word. Ons moet net van daai lastige kobra ontslae raak.
Verhale van ’n nomade: Die storie van Andries de Lange
5 OKT 11:00
80 min | Eendrag-teater
R190 | R220 by die deur