CLASSICAL MUSIC
Soms feestelik, soms besadig, maar altyd ’n vreugde
Produksie: Orrelweek – Devandré Boonzaaier
Skrywer: Johann Nell
Foto’s: Johann Nell
In Durbanville is daar een gemeente wat bitterlik gelukkig is, en dit is die NG Moederkerk. Want sien, die orrelis daar is die begaafde en virtuose orrelis Devandré Boonzaaier.
Dr. Boonzaaier is tans dosent in musiekopvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (CPUT) en ook betrokke by twee verskillende kore: Hy is die begeleier van die Morawiese Kerkkoorunie in Suid-Afrika (Mokusa) en dirigent van die koor op die CPUT se Wellington-kampus.
Hy open sy program met die gewilde Tuba Tune (C.S. Lang, 1891-1971). Dit kan met een woord opgesom word: feestelik. Die orrelis kon daarin slaag om die werk met lewenskragtige vreugde aan te bied. Ook op die program was ’n werk van Alexandre Guilmant (1837-1911). Hierdie Franse orrelis-komponis was veral bekend daarvoor dat hy deeglik opgelei was in Bach se fuga-repertoire. Boonzaaier het Guilmant se Pastorale (Sonate no. 1 in D-mineur, op. 42:11) beeldskoon vertolk, met talle kleurryke registrasies, manuaalwisselings en rustige passasies wat die landskap in ’n pragtige beeld na vore bring.
Die verwerking van Psalm 8 deur Niel Barnard, eertydse orrelis op Hoopstad en tans verbonde aan die Noordwes-Universiteit, was ’n pragtige afwisseling. In die eerste deel het die koraal helder uitgestaan (“O, Here God, U Naam is groot op aarde!” Of: “Daar is geen land” van S.J. de Villiers). Hierna het Boonzaaier die verwerking in ’n tweede deel mooi aangebied in ’n besadigde dog sterk styl.
Die gehoor is verder getrakteer op meer bekende gesange soos “Cwm Rhondda (Here, groot en magtig, lei ons met U sterke hand)”. Die Amerikaanse orrelis-komponis Paul Manz (1919-2009) het dié bekende melodie in ’n Toccata-agtige verwerking herskryf met die naam “God of Grace”. Tussen die bekende passasie onderbreek die komponis telkens die frases met invoegings wat sterk herinner aan die Hallelujakoor uit Handel se Messias.
Hier moes Boonzaaier se voete hulle trap mooi ken om die baslyne duidelik te artikuleer – iets wat hy met vlieënde vaandels geslaag het.
Toe haal hy sy trompet uit en begin saamblaas! Boonzaaier se voete en linkerhand het die ondersteuning op die orrel gebied vir die melodielyn op die trompet, wat hy met sy regterhand vasgehou het.
Karg-Elert (1877-1933) se Nun danket alle Gott is verfrissend en nuut uitgevoer. Die meeste orreliste speel hierdie werk te vinnig, maar Boonzaaier het dit meesterlik vertolk deur verskeie passasies vinniger te laat loop, veral in die opgaande melodielyne, maar dan weer stadiger met dalende note. Die het behoorlike applous verdien.
Die konsert is afgesluit met iets wat ek nog nooit ervaar het nie. Boonzaaier het sy eie verwerking van O Lord my God/O Heer my God gespeel. Maar toe haal hy sy trompet uit en begin saamblaas! Boonzaaier se voete en linkerhand het die ondersteuning op die orrel gebied vir die melodielyn op die trompet wat hy met sy regterhand vasgehou het. Dit was ’n manjifieke en virtuose musikale toertjie.
Op hierdie konsert sê ons almal: Welgedaan! Dit was een groot vreugde. Ons hoop om nog baie meer van Devandré Boonzaaier te sien en hoor!
Orrelweek – Zorada Temmingh
4 OKT 13:15
30 min | Moederkerk
R110 | R140 by die deur