THEATER

Ervaar van die treffendste teater van jou lewe

Produksie: Isidlamlilo / The Fire Eater
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Pierre Rommelaere

Die spoke van die verlede omring ons vanjaar hier by die Woordfees. Hulle dwing ons om te kyk en te luister en dan op te tree, sodat daar heling kan kom in die land, individueel en kollektief.

Onder ’n bloedrooi hemel, wat deur herinneringe en selfondersoek so duidelik tot ’n mens gespreek het, was die allerlaaste ding wat jy verwag het om oorverdowend en onteenseglik met die gruwels van die jare tagtig se geweld en doodslag in KwaZulu-Natal gekonfronteer te word. Dít boonop in ’n storie oor ’n moeë gogo, Zenzile Maseko, wat met Nkhulukhulu (God) praat oor die gebeure in haar lewe voor pastoor Mazibuko van die Return to God Gospel Church haar raakgesien en onder sy vlerk geneem het.

In die feesgids word Isidlamlilo / The Fire Eater as ’n “rillerkomedie” geklassifiseer. Eintlik val dit nie in ’n spesifieke genre nie, maar as jy sien wie daarby betrokke is, is dit makliker om te verstaan waaroor dit gaan. Dié toneelstuk word vervaardig deur Empatheatre, ’n produksiemaatskappy bestaande uit die bekroonde regisseur en skrywer Neil Coppen, akteur Mpume Mthombeni wat in dié solovertoning ’n kragtoer lewer wat jou jou lewe lank sal bybly, en Dylan McGarry. Hulle bied verhale aan wat op deeglike navorsing gegrond is met die doel om mense by te staan om dit te verwerk of om bewustheid daaroor te skep. “It’s all in the name,” soos die Engelse sê.

Bygesê, dis nie eintlik dat ’n mens juis nou met sulke kwessies gekonfonteer wil word nie. Daarvoor is die wêreld te deurmekaar en die leiers óf gek óf afwesig. Coppen en Mthombeni het egter daarvoor ook ’n oplossing. Hulle skep onweerstaanbare teater – eenvoudig dog briljant, iets wat almal wil sien. As mede-skeppers span hulle staatmakers in van die teaterbedryf in Durban en omstreke, want dis hulle komvandaan. Die Johannesburgers beloon hulle met ’n Naledi-toekenning vir die beste produksie en Coppen ontvang ook een as die beste regisseur. Mthombeni word bekroon met die Naledi vir die beste solovertoning.

As jy instap by die teater, sien jy eerstens ’n ouerige swart vrou wat op ’n bed sit in ’n afgeremde, bouvallige blyplek. Sy steur haar nie aan die mense wat inloop nie, maar lees haar Bybel, skuif nou en dan aan haar hoedjie en vee met ’n moeë gebaar oor haar gesig. Jy sien nie in daardie stadium haar kreupel linkerhand nie. ’n Mens kan omtrent die armoede ruik.

Agter haar hang wasgoed aan ’n draad teen die muur, oorkant staan ’n rolstoel, langsaan ’n tafel waarop ’n welige potplant staan en ’n stoofplaat waar sy later water kook in ’n fluitketel en vir haarself ’n aartappel gaarmaak wat sy met groot gewag eet terwyl sy aanhou met haar storie. Na haar linkerkant is ’n groot venster waardeur die sonlig skyn.

Die stel is ontwerp deur Greg King, ’n bekende in die nasionale teaterkringe, en daarvoor het ook hy ’n welverdiende Naledi-toekenning ontvang. Tina le Roux se fenomenale beligtingsontwerp is eweneens met ’n Naledi bekroon. Haar vernuf bereik ’n hoogtepunt reg aan die einde van die toneelstuk en sodra jy besef wat dit is, hou jy amper op met asemhaal. Tristan Horton se klankbaan dra op sy beurt by om die neerdrukkende atmosfeer te beklemtoon en verhoog baie doeltreffend die vreesaanjaende aspekte van Zenzile se verhaal.

Aanvanklik is die storie onskuldig genoeg en daar is talle humoristiese oomblikke. Zenzile moet Binnelandse Sake toe gaan, want hulle het haar reeds twee jaar gelede dood verklaar en nou kry sy nie meer haar Sassa-geld nie. Waarvan moet sy dan leef hier in die kamers in KwaMashu? Haar kleindogter Nqobile vergesel haar na die staatsdepartement, maar dinge vorder nie. Die jong meisie agter die toonbank met haar lang pienk naels help sake ook nie juis aan nie. Zenzile doop haar sommer “Pink Nails”.

So begin Zenzile met haar storie en mettertyd verstaan jy waarom hulle haar nie so maklik sal doodkry nie. Sy is iMpundulu, die vreesaanjaende mitiese voël wat donder en weerlig bring, want sy is as kind deur die weerlig getref en het oorleef, maar nie haar ouers nie. Sy word daarna dikwels beskuldig van heksery en word uiteindelik verraai deur haar beste maat, Musa Bopela. Haar kans om wraak te neem kom eers jare later en teen daardie tyd verstaan jy haar verrassende keuse beter, maar jy weet ook dat sy ’n gevreesde sluipmoordenaar van die Inkatha Vryheidsparty was wat talle lewens geneem het in daardie onstuimige tye.

Laag vir laag word haar lewe blootgelê en jou gemoed ry wipplank tussen walging en weersin in wat sy gedoen het en empatie met haar oor haar huidige situasie. Mthombeni word so algeheel die karakter dat sy ’n mens by tye werklik bang maak. Die verhaal speel natuurlik ook met die gehoor se ingeburgerde vrese en vooroordele. Weer eens tref die ambivalensie jou. Is die wreedheid deel van die kultuur of is dit omstandighede wat mense daartoe gedwing het, vra jy, maar wil nie die antwoord hoor nie. As dit laasgenoemde is, is ons mos aandadig, en eersgenoemde is ondenkbaar.

Coppen en Mthombeni se teks is geensins sensasioneel nie en hulle probeer nie om blaam toe te deel nie. Trouens, Zenzile is te lewensmoeg om enigiets anders te doen as om net haar storie te vertel. Die aksie spring tussen die hede en verlede. Die Zenzile van vandag is ’n veranderde vrou. Teksverse uit Openbaring oor die laaste dae word aanvanklik deur haar aangehaal as ’n teken van haar oorwinning oor die bose, maar in ’n woedebui weens die onbeholpenheid en onbevoegdheid van die departement van binnelandse sake dien dit weer om te wys hoe kragtig iMpundulu is dat sy selfs anderkant die Oordeelsdag nog daar sal wees. Sy het trouens al meer plae oorleef as Moses, bulder sy. Selfs vir die hondsdol honde en spoegende kobras was sy nie bang nie.

Al wat die Zenzile van vandag wil doen, is om te gaan na haar huis in iParadise, die dak wat so lek reg te maak en daar op haar stoep te sit met ’n mak kobra opgekrul op haar skoot en ’n hondsdol hond wat stil by haar voete lê, want sy self het rus gevind. Sy sal haar spesiale potplant in die grond sit met die spesiale resep wat haar ouma aan haar oorgedra het toe sy vir haar gesê het, na aanleiding van die weerlig se letsel op haar rug: “You are carrying the tree of all life on your back.”

Die teks is hoofsaaklik in Engels, maar Mthombeni gebruik ook Zoeloe redelik dikwels. Dit word egter nooit so gedoen dat betekenis of bedoeling verlore gaan nie. Dit dra eintlik net by tot die outentieke aard van die gebeure en die melodieuse skoonheid van die teks. Aan die gehoor se reaksie kom jy agter dat hulle algeheel meegevoer is. Die staande applous hou net aan en aan en Mthombeni aanvaar dit gemoedelik en dankbaar, maar uiteindelik verdwyn sy agter die skerms en kom nie terug nie. Sy moet uitgeput wees ná 100 minute se skitterspel.

Jy stap by die teater uit met die wete dat jy een van die treffendste stukke teater van jou lewe gesien het. Jy het dit nie geniet nie; jy het dit ervaar! Die wêreld kan by hierdie kunstenaars kom kers opsteek oor hoe om versoening en heling te benader.

Isidlamlilo / The Fire Eater
1 OKT 10:00
100 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R190 | R220 by die deur
Geen o.16 (G)

Facebook
Twitter
LinkedIn