SPIER TONEEL
Ons change die narrative van Namakwaland
Onderhoud: Dianne Du Toit Albertze
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Vanjaar se wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys is Dianne Du Toit Albertze, vir haar stuk Huis van sand. Marina Griebenow het haar uitgevra oor haar komvandaan, haar wendrama én wat dit voorafgegaan het.
Huis van sand is nie jou eerste drama by ’n Afrikaanse fees nie, hoewel dit sekerlik beskryf kan word as die mees beduidende tot dusver. Vertel van jou reis as dramaturg en skrywer tot hier.
In my tweede jaar as dramastudent op Stellenbosch het my eerste show, Kommapunt, by 2017 se Woordfees gedebuteer. Ek en agt ander studente het die show saam geskryf en aanmekaargesit met eintlik geen cooking clue van wat ons doen nie maar met ’n brandende passie vir die verhoog. Tot ons verbasing word
Die volgende jaar het Teksmark my toneelstuk Die Meermin-kompleks, wat onder leiding van Malan Steyn geskryf is, gekeur. Ek het dit toe as ’n solodrama van 20 minute opgevoer by die 2018-KKNK se Uitkampteater. Die Meermin-kompleks word ná die fees vir die Kanna as Beste Teks en Beste Uitkampteater benoem, en ek wen die Kannaprys as Beste Opkomende Kunstenaar.
In dieselfde jaar kry ek ook ’n skrywersbeurs van Teksmark en my drama Klip Kween word by die Woordfees opgevoer met Jason Jacobs as regisseur. Boonop kry ek die kans om NATi Jong Sterre en die Jakes Gerwel Stigting se eerste skrywersresidensie in die Oos-Kaap by te woon en ek voltooi ’n teks getiteld
Ek het gemeen my tyd is verby. Toe skryf ek ’n boek,
In Namakwaland het ek afgesonder gelewe. Ek het later teruggetrek na my ouerhuis en my aan skryf toegewy, van soggens tot saans. Ek het ’n roman gehad wat nie kon rigting kry nie, toe begin ek dit oorskryf as ’n drama. Iets het oombliklik verander, nie net in die narratief nie, maar ook in my. Dit het weer exciting gevoel om te skryf en ek het sommer my lewe in die proses begin uitsort, myself opnuut herinner aan my vaardigheid en dat ek iets werd is.
Kort nadat ek Huis van sand vir die Nagtetaal-prys ingeskryf het, kry ek ’n lift Kaap toe om ’n nuwe hoofstuk te gaan begin. Die dag toe Saartjie Botha my bel met die nuus dat ek die prys gewen het, was ek besig om toilette skoon te maak as deel van my pligte by die shelter waar ek gewoon het. Eers toe kon ek waarlik asem skep, ’n entjie aansteek en vir myself sê: “Well done bitch, jy het toe die donkerte oorwin, al is dit ook net vir nou.”
Wat meen jy is die rol van pryse en toekennings in die toneelbedryf?
Die bedryf is mos maar ’n klein poel en almal wag ’n beurt af, en daarom is pryse regtig nodig. Nie almal is gemaak om commercial werk, uitverkoopte shows en boeke te skep nie. En ek voel dis ook okay sometimes, want ons moet nog bou aan die verskeidenheid van die werk wat ons aanbied.
Volgens my is daar ’n groot tekort in die mark aan genre-fiksie, iets wat dalk juis vermy word uit vrees vir finansiële mislukking, maar ons kort meer invalshoeke op ons land se huidige toestand sowel as ons verlede. Dit is juis dié kategorie wat gewild is onder panele omdat dit meer geskakeerd en waaghalsig met ons werklikhede omgaan. Ons skrywers moet donners baie guts hê wanneer ons skryf. Ons moet ’n blik bied wat iets in mense verander, en daarvoor is nie alle lesers of gehore gereed nie. Dis fine. Daar is baie shows vir lui mense. Maar daar is ook mense wat uitgedaag wil word.
Toekennings bring ook balans, sodat die gesinne van komedieskrywers én meer literêre skrywers kos op die tafel het. Tog moet ’n prys jou nie verander nie. Dit moedig my juis aan om harder te werk, maar laat my ook dink aan wat regtig saak maak: die mense vir wie ek skryf en die karakters in die dark corners van die lewe oor wie ek skryf – dis hulle kans om gehoor te word.
Die dag toe Saartjie Botha my bel met die nuus dat ek die prys gewen het, was ek besig om toilette skoon te maak as deel van my pligte by die shelter waar ek gewoon het.
Tot dusver speel jou leefervaring en herkoms as Namakwalander ’n sterk rol in jou dramas. Dié streek word dikwels verromantiseer. Skep jy doelbewus ’n ander beeld of is dit bloot jou ervaring van die omgewing en sy mense?
Ek kon al baie shit vat in my lewe, maar ’n stereotipe kan ek nie verdra nie. As skoolkind het ek gou bored geraak – nie net met Bibi en Kalla nie, maar sommer met die werklikheid ook: smiddae ná skool by my ma se ou recycling-besigheid met daai wenende klank van die karton-compressors, die early 2000’s se hits op die radio, Lucky Star-toebroodjies, en hoe onmenslik stil dit op die platteland kan word. Dit het my so somber gelaat dat ek dringend vir myself iets anders moes verbeel. Dis nie altyd ’n vroliker werklikheid nie, net anders as dít om my, ’n andersheid waarin ek kon tuis voel en ’n bestaansrede kry.
Toe ek ná my studiejare terug is Namakwaland toe, was ek op ’n mission om mense te vind wat ook misplaas voel, maar ook om ’n tuiste te vind. Ek wou uitvind hoe om in ’n plek te oorleef wat met so min klaarkom. Kort voor lank sou ek die strate leer ken, van Bergsig [Springbok se bruin buurt] tot Steinkopf, noord van Springbok. Oral sou ek vasdraai in die mopgate wat vir sommige ’n wegkruipplek is en vir ander ’n huis. Dan sou ek ook die snaaksste mense langs die pad ontmoet wat my leer hike het – hoe jy jou R20 of R50 moet uithou en watter tricks jy kan uithaal om ’n voertuigbestuurder se aandag te trek.
Dit was veral die sekswerkers wat my die meeste wysgemaak het op die langpad. Nie net oor hoe om lekker been te wys nie, maar ook stories wat so oud is soos Namakwaland self: van die vroue voor hulle wie se enigste uitkoms uit armoede en geweld was om ’n lorrie te haal na ’n ander dorp. In die skaduwee van die “Welkom in Port Nolloth”-bord, met ’n gedeelde entjie, stort mense maklik hulle hart uit. Van siklusse wat nooit ophou nie: As klein dogtertjie moet jy saamry op ’n job met jou ma, en dan later dieselfde doen.
Tog is die girls soveel meer as wat hulle vir ’n lewe doen. Hulle is ma’s en vroue met drome wat soms nes erfstukke op die mopgat opeindig. Die memories sal my altyd bybly – en ook nie so romanties as wat jy dalk dink nie. Baiekeer sou geen kar stilhou om ’n lift te gee nie. Dan moet jy maar die Jesus-wieletjies inspan en sy aan sy stap met die demons binne jou. Dalk was dit juis op een van my staptogte, moontlik tussen Okiep en Springbok, dat ek vir Sandy, Babs, Rodney en Sussie opgetel en aan my hart vasgestik het.
Huis van Sand gaan oor die randfigure en verworpenes van die samelewing. Wat is dit omtrent hierdie mense wat jou aantrek?
Dit is die mense wat ek die beste ken en met wie ek my dalk ook die meeste vereenselwig. Dié wat verstoot en vertrap word, wat weet hoe om met fokkol klaar te kom, wat met vernielde harte saamleef en nog altyd aankap, die beste maak van die stukkend wat agterbly. En soms ook uitstyg.
Dalk is ’n meer straightforward antwoord dat te veel lewens verlore raak en net stof word sonder dat enigiemand ’n fok voel. Hulle is oorgesien deur maatskaplike werkers, misbruik deur dié wat hulle moes beskerm, soos susters van my wie se verkragtingsake afgewys word terwyl die rapists skool klaarmaak. In Namakwaland is die grootste kwaal die gemeenskap wat eerder al hierdie seerkry onder die sand toevee as om saam te staan en mekaar te beskerm. Dit los ’n xhouboe-smaak in my mond om hieroor te praat, maar daar word te veel stilgebly oor dinge wat saak maak. Of gehore nou reg is vir die waarheid of nie, daar is stories wat vertel moet word.
Voorheen het dramas wat armoedige en werkerklas-mense soos jou karakters uitbeeld, dikwels staatgemaak op humor – soms platvoers. Speel humor ’n rol in
In die gepubliseerde weergawe van Huis van sand [wat pas by Human & Rousseau verskyn het], is daar verwysings na twee sulke stukke wat die fondament geword het van hoe armoede, en spesifiek armblankes, uitgebeeld word. Daarin verwys ek tong-in-die-kies na Sandy as Agter elke man se tant Stienie en na Rodney as Jakes van Siener in die suburbs. Dit is met groot agting dat ek probeer voortbou op die voorstelling van regte mense en nie middelklas-models met persoonlikhede nie. En ja, ek verstaan dat humor soms nodig is om die swaar goed beter te verteer. Dalk was dit veral nodig in die tyd van groot onrus, sodat mense meer moes lag.
Destyds was dit vir Afrikaanse mense vreemd om enigiets anders te sien as rykgatte met groot hare, soos op Dallas en al daai Amerikaanse kak. Maar vandag leef ons lankal nie meer in ’n land waar jy alles so mooi kan wegsteek nie. Die onderrok hang nou uit. Geweld is nie net op die nuus nie – dis voor ons deur, in ons slaapkamers. En armoede kies nie kant nie. Dus kort ons nie meer karikature van regte mense op die verhoog nie. Ek dink dis holrug gery.
Gehore verdien meer eerlike, meer genuanseerde karakters wat hierdie werklikhede uitbeeld sodat die dae van jammerkry verby kan wees. Gehore kan eerder aangemoedig word om mee te voel, hulle te vereenselwig met die werklikhede en medepligtig gemaak word aan die groter probleem: ’n tekort aan medemenslikheid.
Medemenslikheid, integriteit en omgee is van die waardes wat ek al beleef het in die werk van skrywers soos Ronelda Kamfer, Ryk Hattingh en Jeanne Goosen, en daarin word dikwels ook geweld en armoede uitgebeeld. Wanneer die lewe jou van alles beroof, bly net die dinge binne jou oor, en dis tog wat saak maak.
Het jy ’n gunstelingkarakter in Huis van sand?
Ja, ek love vir Sussie. Sy is emo, ’n goth kid totally uit plek uit in Bergsig waar die klomp net worry oor Mr Price en Pop Idols. Sussie moes sonder haar pa, Rodney, klaarkom – hy het eerder vir Babs help grootmaak wat nie eens sy kind was nie. Sy word rondgegooi tussen familielede wat haar nie een verstaan nie. Selfs haar ouma gee hoop op en pos haar na Rodney toe, of hy nou sy hoerkind soek of nie.
Op haar awkward en knorrige manier leer Sussie ook om lief te kry tussen al die geweld deur. Sy steel Sandy se entjies en leer alewig woorde om oudisies te doen vir Griekse tragedies wat by die skool opgevoer word. Maar die arme ding ly aan erge stage fright en kan ook nie loskom uit die vonnis daarvan om elke familie se vloerlap te wees nie. Sy vind haar toevlug in rock music en het ’n kurkdroë sin vir humor.
Sussie is nie jou tipiese koddige karikatuur soos van die karakters oor wie graag – met weinig insig – geskryf word wanneer ons streek die onderwerp is nie. Hans du Plessis se Innie skylte vannie Jirre en Boegoe vannie liefde is maar twee voorbeelde. Die tyd toe Namakwaland se narratief deur toerisskrywers toegeëien is, is verby. En dit kom al lank aan, van Ellie Cloete se tyd af, sy wat die alleeneienaar van Springbok was maar wie se grond onder haar uit gesteel is. Ons is ’n heftige klomp kunstenaars van die plek van die geel sand wat die narrative nou change: Miché van Wyk, Geralt Cloete, Marquen Carstens en Lynthia Julius. Ons skryf met eerbied en eerlikheid oor ons komvandaan.
Wat was die moeilikste aspek omtrent die skryf van Huis van sand, en wat verskaf aan jou die meeste plesier daaromtrent?
Ek wou myself uitdaag om meer kreatief met aanwysings en stel om te gaan, iets wat nie in die verlede vir my noodsaaklik was nie. Ek het altyd gevoel dis die regisseur se job om uit te figure wat om daarmee te maak; ek moet maar net die karakters laat praat.
Toe het daar meer beskrywende aspekte kop uitgesteek wat nie soveel impak sou hê as dit net vertel word nie, dalk oor ek die storie van prosa tot drama verwerk het. Ek wou dit wys, maar met teater werk jy nie met die meer konkrete inkleur van prosa nie; teater is ’n taal ryk aan metafoor en verbeelding. Die grootste uitdaging was dus om te eksperimenteer met baie van die innerlike dialoë, settings of gebeurtenisse wat sonder woorde gewys kon word, en dit om te sit in beskrywings.
Dan is ek ook maar ’n sucker vir ’n monoloog. Ek is mal daaroor om ’n stukkie poetry êrens deur te vleg, veral Sandy se monoloë wat soms in ’n Woolf-agtige bewussynstroom oor die bladsy tuimel en vry is van die meestal stilistiese aard van die toneelstuk.
Jy het Huis van sand opgedra aan Tinarie van Wyk Loots, wat die rol vertolk van Sandy, die vroulike hoofkarakter. Waarom het jy dit gedoen?
Sy het in my werk geglo toe niemand anders wou nie, en vir my beteken dít baie. Ek kan dit dalk beskryf as lojaliteit, definitief respek, maar dit gaan ook oor vertroue. Sy is iemand wat nie die krake in ons samelewing miskyk of ontken nie – en sy gee nie rêrig ’n fok om wat ander mense dink nie. Sy benader ’n kreatiewe projek met soveel begrip, vaardigheid en weerloosheid.
Sy het my aanvanklik genader om een van my Teksmark-voorleggings te vervaardig, maar daai drama het toe nie die lig gesien nie. Toe dink ek: Laat dit dan ook loop kak! Ek skryf nou ’n ander teks, want ek het niks om te verloor nie. Ons het toe wedersyds skryfwerk en e-posse begin uitruil, wat soms my enigste aanmoediging was daar waar ek in ons stoep- of stoorkamer sou sit voor my onbetroubare skedonk van ’n laptop met niks meer fight in my oor nie behalwe die begeerte om iets te skryf wat vir iemand anders iets kan beteken.
En ek hoop soos wat hierdie stuk my gehelp het om my menswaardigheid te herstel, sal dit vir Tinarie ook iets beteken, al is dit net om te weet sy is die rede waarom ek nog ’n laaste keer probeer het, soos ’n gambler met sy laaste R100-noot. Gelukkig het die dice anders geval as wat Adam Small voorspel het.
Wat beskou jy as jou sterk punte as skrywer en dramaturg?
Dialoog is waarmee ek die beste is, veral in prosa. Snaaks genoeg skryf ek nie baie dialoog in my dramas nie – ek geniet meer die gesprek tussen die karakter en gehoor wanneer innerlike landskappe aan kykers bely word.
Dan kan ek ook vinnig werk. Ek het nog nooit geworstel met erge writer’s block of daai kak nie. Skryf is nie net my genesing en my geloof nie; dit is ook my werk. Ek het al té veel stront gelees omdat daar nie beheer was by ’n skrywer wat slegs skryf uit genot, uit wraak of vir terapie nie.
Ek ken dus my boundaries met hierdie skryfbesigheid, want omdat jy met jou siel as instrument werk, moet jy kan kophou, anders raak jy van jou kop af. Of jy raak verlore in jou verbeelding. O fok, dis seker dieselfde!
Wat wag ná die Woordfees op jou?
Ek wil graag my Namakwalandse trilogie voltooi. Dalk ook weer ’n bietjie huis toe gaan. Die Kaap is maar ’n ander wêreld. Hier is geen koppies wat jy maklik kan uitklim nie – ek like die groot, steil berge niks nie. In any case word ’n mens ge-human traffic as jy wil hike.
Tog beat Central Library naby die Parade enige dag Springbok se biblioteek waar die mense 24/7 op lunch is – dalk die boeke ook, al is daar darem ’n paar Eben Venters in Springbok. Eintlik weet ek nie rêrig nie. Ek gaan net aanhou skryf en my woorde volg na waar hulle my lei.
***
11 OKT 10:00 | 12 OKT 16:30 | 13 OKT 14:00 | 15 OKT 14:00 | 16 OKT 20:30 | 17 OKT 09:30
90 min | kykNet Rhenish Girl’s High
R215-R320 | R245-R350 at the door
No u.16 (L)