SPIER TONEEL

Dié ‘Baby’ vra min, maar gee baie

Produksie: Een vir my baby!
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Dean Dorvan Balie

Met ’n teks wat soos skote uit ’n Tommy-geweer skiet, twee talentvolle spelers wat die storie lewe gee en ’n stel en beligting wat naby aan perfek is, is Een vir my baby! ’n musiekteaterproduksie wat min vra en baie gee.

Die speurder Jan Brand ondersoek die dood van Henkie Uiwe en gaan om Henkie se geliefde, die jazzsangeres Alia Vry, te ondervra. Het Henkie na sy dood gespring of is hy oor die balkon gehelp?

Op die verhoog is Karli Heine as Alia en André Terblanche as Jan. Die skrywer en regisseur is Dean Balie, wat nie net ’n sterk teks geskryf het nie, maar ook Afrikaanse lirieke wat jou tone laat krul. Die liedjies – meestal deur Heine met een deur Terblanche – vertel elkeen ’n storie. In die bekwame hande en stemme van die twee spelers dra dit by tot ’n heerlike geheel.

Die skrywer en regisseur is Dean Balie, wat nie net ’n sterk teks geskryf het nie, maar ook Afrikaanse lirieke wat jou tone laat krul.

Die stel en beligting is op sy kop: Dit voel werklik of jy in ’n rokerige kroeg saam met die karakters is. ’n Pluimpie vir almal wat agter die skerms betrokke is.

Daar is ’n kinkel in die stert van die produksie wat jou met ander oë na Een vir my baby! laat kyk en selfs laat wonder of ’n tweede kyk nie dalk op die kaarte moet wees nie.

Heine se stem en vertolkings is altyd ’n plesier om na te luister en hier is dit ook nie anders nie. Terblanche, wat beïndruk het in David Kramer se Ver in die wêreld Kittie, kan gerus ook meer gehoor word.

Gaan kyk as jy lus is vir ’n uur van musiekteater wat min vra, maar baie gee.

Een vir my baby!

16 OKT 16:00 | 17 OKT 14:00

Spier-auditorium

Facebook
Twitter
LinkedIn