SPIER TONEEL

‘Ek is nie Danie’ ’n toonbeeld van ons nuwe woordkuns-genre

Produksie: Ek is nie Danie
Deur: Naudé van der Merwe
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Vir Ek is nie Danie is die A-span ingeroep: Danie Marais se woorde, Albert Pretorius se stem en liggaamlikheid, Schalk Joubert se musiek en moves en Nico Scheepers se regie. Dis ’n toonbeeld van hoe die woordkuns-genre ontwikkel het tot ’n vermenging van woorde, musiek, klanke, ritmes, beweging, beligting en die tegnologie van ons tyd wat die poësie in hierdie deurmekaar en dowwe wêreld duidelik en klokhelder laat word.

Ek is nie Danie gaan toe nié oor Danie Botha en die wegraping nie. Ek ervaar ’n splitsekonde van verwarring en teleurstelling. Gelukkig is dit onmiddellik vervang met optimistiese afwagting, want hier is die A-span ingeroep: Danie Marais se woorde, Albert Pretorius se stem en liggaamlikheid, Schalk Joubert se musiek en moves en Nico Scheepers se regie. Ek skat as dié vier X Factor-deelnemers was en saam in ’n boy band gegooi is, is hierdie steeds die eindproduk waarmee hulle vorendag sou kom. Ek kan sien hoe Simon Cowell sukkel om hulle rond te order.

Die programboek sê dit is Niel van Deventer se konsep, en hy’t duidelik die regte mense gekies.

As jy suiwer aan woord- en digkuns dink – dit was immers die impuls vir die Toyota Stellenbosch Woordfees se ontstaan 25 jaar gelede en was ook uitsluitlik waaruit dit in die beginjare bestaan het – is hierdie produksie die toonbeeld van hoe die woordkuns-genre ontwikkel het. Dis ’n vermenging van woorde, musiek, klanke, ritmes, beweging en beligting wat die tegnologie van ons tyd, veral hoe klank in real time gemanipuleer kan word, op so ’n manier inspan dat die poësie in hierdie deurmekaar en dowwe wêreld duidelik en klokhelder word.

Daar is en sal altyd ’n plek wees vir voorlesings van gedigte, alleen agter ’n mic, verkieslik as dit altyd Antjie Krog is. Maar as ek dit op hierdie manier kan ervaar, kies ek dit elke keer. Élke keer.

Daar is en sal altyd ’n plek wees vir voorlesings van gedigte, alleen agter ’n mic, verkieslik as dit altyd Antjie Krog is. Maar as ek dit op hierdie manier kan ervaar, kies ek dit elke keer. Élke keer.

Hoe begin ’n mens om hierdie produksie te beskryf? Disclaimer: Ek ken vir Danie bolangs – sien mekaar tussen vriende hier, loop mekaar in die straat raak daar – en my kort interaksies met hom het my nog altyd beter laat voel oor myself. Vreemd hoe sommige mense daardie impak het. Ek kon dus ook nie anders as om positief hier in te stap nie. Sy kennis van rockmusiek en sy passie vir woorde het my gereeld laat voel ek moet onmiddellik een van sy vier pryswenner-digbundels optel, maar die lewe en my eie luiheid het nog altyd in die pad gekom.

In ’n sekere mate is ek bly, want, o my genade, om dit die eerste keer só te ervaar laat jou voel of jou selle meteens op ’n ander frekwensie vibreer. Die gedigte wat gekies is om hierdie storie te vertel – van ’n mislukte huwelik in Duitsland en die geboorte van ’n kind terug in Suid-Afrika, tot by die identiteitskrisisse van ’n wit middeljarige man – werk duidelik perfek. Maar ek is seker dit was ’n ingewikkelde proses om dit af te kerf tot by ’n paar hand vol. Soos genoem, ek is nie vertroud met res van sy oeuvre nie, maar nietemin het dit gevoel soos ’n legkaart wat naatloos pas. En nou wil ek nog hê.

As hierdie nie net die beste beskrywing van Duitsland, uit die gedig “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” is nie, weet ek nie wat om verder te sê nie:

Duitsland is waar die wolke in gelid marsjeer,
waar die son ’n permit het om te skyn,
waar die maan nie mag opbly so laat soos sy wil nie.

Duitsland lyk soos Duitsland op televisie.
Al verskil tussen Duitsland en televisie
is dat daar iets gebeur op televisie.

Maar, en hierdie is ’n baie groot maar, die produksie sou nie werk sonder Albert en Schalk en Nico Scheepers se regiehand nie. Die Britse komediant en akteur Matt Lucas het lank gelede Shirley Bassey in ’n sketskomedieprogram nagemaak. In die skets vra ’n joernalis vir Shirley oor en oor wat sy van ander sangers dink. Hy noem ’n naam en elke keer sê Shirley: “She doesn’t have the range, darling!”. Wat dit nog snaakser maak, is dat dit gebaseer is op Shirley Bassey se ware opinie oor Tina Turner.

Ons, die kollektiewe ons, ons almal, het nou genoeg gehad van straight, wit, Afrikaanse, middeljarige, manlike Gen X-ers wat kerm oor hulle identiteitskrisisse. Genoeg nou. Maar Danie s’n word op so manier gedoen dat selfs, uhm, skeptiese millennials ’n traan in die donker wil pink.

My punt is: Albert Pretorius dóés have the range! Vir 75 minute vermag hy iets wat nie-akteurs nie eens kan probeer verstaan nie, en skep hy ’n karakter na wie jy wil aanhou luister. Hy sing, skreeu, praat sag, paai, kry seer, gaan mal. In iemand anders se hande kon hierdie ding lelik ontspoor. In syne kry dit lewe.

En dan is daar Schalk Joubert. Sy onopgesmukte voorkoms bedrieg gereeld sy talent. Die beeld van hom wat in vae beligting op die verhoog rondskarrel, knoppies op ’n klankbord draai, akkoorde op ’n keyboard druk, looping pedals met sy voete trap, kitaar speel, tromme slaan en self ook later ’n gedig voordra, het inderdaad visioene van ’n wit middeljarige man wat doelloos in sy garage rondploeter om besig te probeer lyk, by my laat opkom. Die groot verskil is dat hy presies weet wat hy doen. Die klankwêreld hier is magies. En klein subtiele oomblikke, soos waar Albert die komponis Chopin in ’n gedig noem, en daar skielik in die agtergrond ’n paar mate van ’n distorted Chopin-etude gehoor word, is soos mense deesdae sê, chef’s kiss.

En Danie, al skemer dit gereeld in sy poësie deur dat hy onvergenoegd, onseker, en verward voel, se taal en narratiewe strukture is so duidelik dat jy nie seker is of jy hom moet glo oor sy onsekerhede nie.

Dit gesê, as dit nie sý woorde was nie, het ek waarskynlik my oë gerol. Ons, die kollektiewe ons, ons almal, het nou genoeg gehad van straight, wit, Afrikaanse, middeljarige, manlike Gen X-ers wat kerm oor hulle identiteitskrisisse. Genoeg nou. Maar syne word op so manier gedoen dat selfs, uhm, skeptiese millennials ’n traan in die donker wil pink.

Die groot sukses van hierdie sample gedigte – ook dié oor sy wit middeljarigheid en hoe hy in ’n boks gedruk word – is dat dit voel of hy dit niemand anders se probleem as sy eie maak nie. En daarvoor kan ons hom net bedank.

Hy is dalk nie Danie, maar hierna wil ek weer kyk.

*

Ek is nie Danie

17 OKT 17:00 & 20:30 | 18 OKT 13:00 | 19 OKT 13:00

Spier-auditorium

Quicket

Facebook
Twitter
LinkedIn