CLASSICAL MUSIC
Raak rustig onder die wonderwerkboom
Produksie: Miracle Tree
Deur: Naudé van der Merwe
Kooroptredes is volop by kunstefeeste, en daarom is dit altyd ’n plesier as dit ’n ander formaat aanneem as gewoonlik.
Miracle Tree, of in Zoeloe Isihlahla Sezimanga, met regie deur Jade Bowers, voel meer soos ’n meditasie as ’n tradisionele kooruitvoering. Meer spesifiek nog, dit is ’n meditasie oor meertaligheid en inheemse tale. Dít klink dalk soos akademiese hoogdrawendheid – veral op ’n plek soos Stellenbosch – maar die ervaring hiervan is allesbehalwe akademies. Dit roer jou.
Suid-Afrika is ’n mengelmoes van mense wat mekaar nie aldag verstaan of wíl verstaan nie. Ons hoor gedurig tale wat by die een oor ingaan en ander een uit. Die Engels, Afrikaans, Sotho, Tswana, Zoeloe en Xhosa wat in hierdie produksie gehoor word, hoef nie verstaan te word om te weet watter wonderwerk hier plaasvind nie. Ons hoor, soos in ons alledaagse lewe, tale wat ons dalk nie verstaan nie, en ons kan kies om te luister of dit ignoreer. Maar deur musiek, en in hierdie geval die wonderwerkboom, word die impak verder vergroot.

Prinsloo se musiek het ’n spookagtige kwaliteit, en daar is ’n fokus op die skoonheid van eenvoud. Dit werk perfek vir hierdie soort produksie.
Miracle Tree is eerstens ’n kooruitvoering van Franco Prinsloo se oorspronklike musiek, waar daar ook die gesproke woord, klavier- en perkussiebegeleiding, asook beelde op ’n outydse truprojektor teen ’n muur is.
Die produksie is geïnspireer deur Bongekile Mbanjwa se gedig met dieselfde titel. Prinsloo se loopbaan as koorkomponis – hy het tans ’n kunstenaarsresidensie by die Universiteit van Johannesburg – het die afgelope paar jaar behoorlik vlamgevat, en ’n mens verstaan hoekom. Sy musiek het ’n spookagtige kwaliteit, en daar is ’n fokus op die skoonheid van eenvoud. Dit werk perfek vir hierdie soort produksie.
Sizwe Mondlane, die dirigent van Voices+, doen uitstekende werk, en so ook sy sangers. Die groep bestaan uit lede van die Universiteit van Johannesburg se koor en hulle sing met aandoenlike aanvoeling, nuanse, en sekuur intonasie. Kapenaars is met reg trots op hulle kore, maar hierdie is dalk ’n pleidooi vir ons hier in die suide om meer gereeld ons oë en ore ook na die noorde te rig, want ’n groep sangers soos hierdie verdien om vol sale te lok.

Soos ons weet, kan taal ook gebruik word om onreg aan te doen. Hierdie is dus nie net ’n kumbaya-oefening nie. Verskuil tussen die poësie is daar ook ’n waarskuwing:
“Language may bend, but it must never break.”
En dan:
Some languages are solemn,
some mischievous,
all alive
As jy ’n oomblik van die feesrumoer wil ontsnap, gaan sit vir 60 minute onder the wonderwerkboom.
*
Miracle Tree
18 Okt 16:00
60 min | Fismer
R185-R230 | R215-R260 by die deur
