TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Gaan kyk, gaan luister, gaan belééf!

Produksie: Van ganser harte
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Tiffany Shultz

Soms beleef ’n mens ’n talent wat só buitengewoon is dat jy van die berge af wil skreeu: Kom kyk! Kom luister! Kom beleef!

Karen Petersen is so ’n talent.

Van die eerste oomblik af is daar ’n gevoel dat hier iets spesiaals op pad is. Vier strykers, ’n kitaarspeler en ’n blink vleuelklavier op die verhoog. Karen, geklee in swart, haar hare weggetrek van haar gesig en ’n bril op haar neus.

Die tema van die konsert is die soeke na liefde. Hartstog. Allesoorheersend. Met jou hele hart. Van ganser harte. Maar is hierdie liefde almal beskore?

Karen begelei haarself op klavier, en met die passie in haar vertolking en die talent van stem en spel in die oortreffende trap het sy van begin tot einde die gehoor in die palm van haar hand.

Met die passie in haar vertolking en die talent van stem en spel in die oortreffende trap het sy van begin tot einde die gehoor in die palm van haar hand.

Die liedjies wat sy sing en speel is nie almal bekend nie, maar dit maak nie saak nie. Sy het ’n storie om te vertel en ’n boodskap om oor te dra, en dít is belangrik. Hoeveel van die vertoning uit haar eie lewe kom en hoeveel van die werk haar eie is, weet die gehoor nie, maar dit dra by tot die mistiek van hierdie treffende stem wat verdien om een van die grootstes te word.

Karen is ’n unieke talent waaraan nie gekarring moet word nie. Maar aan die ander kant hoop ek daar kom mentors op haar pad wat haar leiding kan gee in regie, liedjiekeuses en bindingstekste.

Ek wil haar aan die een kant in watte toedraai en sê sy moet net voortgaan met wat sy doen. Enigeen wat vier strykers en ’n kitaarspeler kry om ’n konsert saam met hulle te doen – in dié geval Ricardo Hiniker (viool), Gilah Kellner (viool), Carina Naudé (altviool), Clara de la Guerre (tjello) en Lee Ludolph (kitaar) – wil net die beste vir hulle gehoor gee. Karen is ’n unieke talent waaraan nie gekarring moet word nie. Maar aan die ander kant hoop ek daar kom mentors op haar pad wat haar leiding kan gee in regie, liedjiekeuses en bindingstekste. Mag hulle sag met haar omgaan en help dat ál meer mense weet wie Karen Petersen is.

Met die staande applous wat teen die einde van die konsert uitdoof en die ligte wat aangaan, draai my seun na my toe. Hy is 23, en soos meeste 23-jariges is hy moeilik om te beïndruk. “Hierdie is ’n tien uit tien,” sê hy.

Wie is ek om te stry?

*

Van ganser harte

13 Okt. | 12:00

60 min | Drostdy-teater

R190-R250 | R220-R280 at the door

Facebook
Twitter
LinkedIn