VISUAL ART

Die siel van die dier deur die oog van ’n meester

Produksie: Feeskunstenaar Daniel Naudé: Still Life
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband

Die Stellenbosse fotograaf Daniel Naudé is vanjaar die feeskunstenaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Om sy foto’s van naby te bewonder, is ’n oorweldigende ervaring, skryf Ilza Roggeband.

’n Groot groep mense, oud en jonk, het opgedaag om die rondleiding deur vanjaar se feeskunstenaar, Daniel Naudé, by te woon. Sommige kunstenaars kan inkennig wees, maar nie Daniel nie. Vir bykans ’n uur het feesgangers tjoepstil en verstom geluister na die stories agter die foto’s.

Daniel is voorgestel deur deur prof. Elizabeth Gunter wat eens een van sy lektore by die universiteit was. “Die eerste ding wat my van Daniel opgeval het, behalwe dat hy lank is, is hoe positief en opbouend hy is,” het sy in haar verwelkoming gesê. “Hy ervaar die wêreld deur werklik daarna te kyk en en as jy na sy werk kyk, sien jy die verwondering waarmee hy dit doen.”

Op die uitstalling, wat op die tweede verdieping van die US Museum te sien is, is ’n oorsig van 20 jaar van Daniel se werk. Die projek waarmee hy eerste aandag getrek het, was toe hy tussen 2007 en 2009 africanis-honde in onder meer die Noord-Kaap en Karoo afgeneem het.

“Honde is altyd eerlik,” sê hy. Maar om die reeks foto’s te neem, was beslis nie ’n geval van soek ’n hond en mik-en-druk nie. Al die foto’s is op ’n Hasselblad-filmkamera geneem en hy kon dus eers werklik die finale produk sien toe hy die film ontwikkel het. “Daar is soveel ander dinge wat ’n rol gespeel het. Is die hond se mond toe? Waarna kyk hulle? Hoe staan hulle bene? Hoe lyk die kleure in die agtergrond? Waar lê die wolke?”

Nog projekte het gevolg, onder meer Animal Farm (2009-2011), Bovine Prophecy (2018-2019), Cattle of the Ages (2019), wat ook ’n boek saam met pres. Cyril Ramaphosa en sy ankolebeeste ingesluit het, en Malagasy Cockerels (2023) waar hy na Madagaskar gereis het om die vegtende hoenderhane af te neem.

Sy nuutste projek kom oor jare. Dit het begin toe ’n kameravervaardiger in Switserland vir hom ’n kamera wat mikroskopiese beelde afneem vir ’n jaar lank geleen het. Met besoeke aan museums as kind het hy insekte uit die versameling van die US se departement bewaringsekologie en entomologie geleen en dit met die mikroskopiese kamera begin afneem.

Tussen 3 000 en 4 000 grepe deur die mikroskopiese kamera is nodig om een foto te maak en dit het Daniel op die ou end vyf jaar geneem om die nege foto’s te skep wat op die uitstalling te sien is.

Die detail is verstommend. “Een van die professors het gesê hy het geweet ’n sekere mot het hare, maar hy het nooit besef die hare het ook hare nie,” het Daniel vertel.

Tussen 3 000 en 4 000 grepe deur die mikroskopiese kamera is nodig om een foto te maak en dit het Daniel op die ou end vyf jaar geneem om die nege foto’s te skep wat op die uitstalling te sien is. Die foto’s van die insekte is saamgestel met agtergronde in olieverf en kristalle wat Daniel oor jare bymekaar gemaak.

“Wat vir my veral opgewonde maak oor hierdie projek, is dat dit as’t ware ’n gesamentlike viering is van insekkundiges se ontdekkings en my kuns. Die een vlinder met die pers vlerke is byvoorbeeld reeds in 1921 in Stellenbosch ontdek, maar kan nou werklik gesien word,” sê Daniel.

Waar daar geen digitale manipulasie op enige van Danie se ander foto’s op die uitstalling is nie, was daar wel by die insekfoto’s hulp nodig – om die speld wat die insek vashou uit te haal.

Dit is ’n fassinerende en asemrowende uitstalling. Gaan kyk. Neem jou tyd. Vertoef by elke foto. Kyk veral na die insekte wat in boksies langs die insekfoto’s is om te sien hoe merkwaardig Daniel se werk is.

Feeskunstenaar Daniel Naudé: Still Life
3-11 OKT 09:00-18:00
US Museum

Facebook
Twitter
LinkedIn