DISCOURSE

Geskiedenis hoef nie uit boeke te kom

Produksie: Netwerk24-gespreksreeks: Geskiedenis vir die toekoms
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Jo-Ann Floris

Geskiedenis hoef nie net uit handboeke of kurrikulums te kom nie – kinders leer dit ook deur hulle ouers, gesinne en die stories wat oorvertel word. By Netwerk24 se gespreksreeks het Albert Grundlingh en Jonathan Jansen gesels oor hoe geskiedenis op skool aangebied behoort te word, en waarom konteks belangriker as blote feite is.

Daar is te veel klem op die geskiedenis-kurrikulum om kinders geskiedenis te leer. Hulle leer eintlik deur hulle ouers, deur gesinne, deur stories wat oorvertel word.

By vanjaar se Netwerk24-gespreksreeks kom geskiedenis onder die loep, met ’n gesprek met Albert Grundlingh, emeritus professor in geskiedenis, en Jonathan Jansen, buitengewone professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Saam met die gespreksleier, Gert van der Westhuizen, het hulle probeer ontknoop of daar nog enige waarde is om geskiedenis as verpligte vak op skool aan te bied, maar belangriker nog, hoe moet daai kurrikulum lyk.

Die nuutste kurrikulum het baie kritiek ontlok, veral onder opvoeders soos Jansen.

“Dit ontbreek vir my aan logika. Waar is die konteks? Dis vir my ’n probleem dat daar meer oor PW Botha as oor Robert Sobukwe in die leerplan is, maar as die opstellers die konteks kan gee oor hoekom een meer ruimte as die ander verdien, sal dit byvoorbeeld baie help.”

Jansen en Grundlingh stem saam dat geskiedenis nie op kinders afgedwing moet word nie. Maar hoe maak ’n mens dit interessant vir jong mense?

“Jy kan nie net feite aframmel nie. Maak iets toepaslik in hulle lewens. Stel ’n probleem en sit hulle aan die dink oor oplossings,” sê Grundlingh.

Dit ontbreek vir my aan logika. Waar is die konteks? Dis vir my ’n probleem dat daar meer oor PW Botha as oor Robert Sobukwe in die leerplan is, maar as die opstellers die konteks kan gee oor hoekom een meer ruimte as die ander verdien, sal dit byvoorbeeld baie help.

Hy gee die voorbeeld van ’n groep derdejaarstudente van wie baie se pa’s in die Grensoorlog geveg het. Hulle kon vertel van die stories wat hulle in die ouerhuis gehoor het – of noem dat die pa’s nie daaroor wou praat nie – maar in albei gevalle is geskiedenis op ’n maklike manier oorgedra.

Die tekort aan opgeleide geskiedenisonderwysers help ook nie die saak nie. “Dikwels is dit sommer die rugbyafrigter wat die skoene moet vol staan. Onderwyser en leerling gaan dan net deur die motions,” sê hy.

Jansen erken dis nie maklik om ’n kurrikulum saam te stel wat vir almal aanvaarbaar is nie.

Sy praktiese oplossing is: skrap geskiedenis as vak, en laat elke onderwyser of dosent dit deel van hulle kurrikulum maak.

Hoe gemaak? “Ek het nou die dag ’n bietjie die eksperiment met eerstejaars gedoen. Neem ’n eenvoudige voorbeeld soos Stellenbosch. Hoekom is Kayamandi waar dit is, en Idasvallei daar, en Die Boord aan die ander kant?

“As hulle die antwoord daarop gaan soek, het hulle reeds praktiese geskiedenis geleer.”

En hou op om geskiedenis as ideologie in kinders se kele af te druk, waarsku Grundlingh. “Dit moenie die instrument vir nasionale kohesie wees nie. Tans neem meestal swart en bruin leerlinge geskiedenis as vak. Vir wit leerlinge is die syfer maar 12%.

“So die oorgrote meerderheid wit kinders is nie in daai gesprek betrokke nie, dus is dit ’n nuttelose oefening.

“En moenie net fokus op die groot figure in geskiedenis nie. Wat van die gewone mense wat deur alles heen ’n bestaan maak en moet voortbeur? Vertel jong mense van daai oorlewing.”

Beslis, stem Jansen saam. “Ek het oneindige respek vir Nelson Mandela. Maar hy was 27 jaar in die tronk. Tog het mense aangegaan met hulle lewens, het hulle elkeen ’n stryd gevoer. Dis waarvan ons kinders moet weet.”

Facebook
Twitter
LinkedIn