DISCOURSE

TV in SA: Baie vrae, min antwoorde

Onderhoud: Naggesprekke: Klein skerm, groot probleme?
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld

Vyf kokkedore in die TV-bedryf kom by Die Khaya-watergat bymekaar om te gesels oor die toestand van Suid-Afrikaanse televisie. Daar was hope vrae, maar aansienlik minder antwoorde, skryf Duné van Jaarsveld.

Ek neem my sitplek in by die halfleë Khaya Kafee en wonder of ek die enigste een is wat na die paneelgesprek gaan luister. Dit is vrieskoud buite, maar wanneer die gesprek afskop, is die vertrek – tjoeps! – vol mense.

Almal luister aandagtig vir omtrent 15 minute en raak dan eerder met mekaar aan die gesels. (As ek nie dié gesprek as joernalis moes dek nie, sou ek tien teen een ook ophou luister het aangesien amper alle praatjies oor die stand van die Suid-Afrikaanse media my ongemaklik en depressief maak.) Hoekom gaan dit so sleg? Gaan dit regtig so sleg? En wat kan ’n mens doen?

Dit was die drie groot vrae wat Kabous Meiring aan Albert Snyman, René van Rooyen, Theltom Masimila en Waldimar Pelser gestel het.

Die medialandskap het oor die laaste 30 jaar geweldig gegroei, maar die teikenmark bly om die een of ander rede dieselfde, verduidelik Waldimar. Liniêre TV beweeg na stromingsplatforms en YouTube op ’n foon, maar die teikenmark bly die gesinnetjie wat om 19:00 aansit vir die aand se sepie.

Hoekom gaan dit so sleg? Gaan dit regtig so sleg? En wat kan ’n mens doen? Dit was die drie groot vrae wat Kabous Meiring aan Albert Snyman, René van Rooyen, Theltom Masimila en Waldimar Pelser gestel het.

René stel voor die bedryf moet bly innoveer tot die regte mark gevind word, maar dan is die vraag: Hoe teiken ’n mens ’n mark wat konstant aan die verander is?

In Theltom se geval bereik jy 3 miljoen kykers met jou sepie, Kelders van geheime, maar dit word steeds gekanselleer omdat dit nie genoeg is nie. Hoeveel kykers is vandag genoeg om ’n sepie die moeite werd te maak?

Waldimar verduidelik die ekonomie moet swaai om ’n loopbaan in die bedryf die moeite werd te maak, want op die oomblik is dit onvoorspelbaar. Dit sou baie help as die regering finansieel kon bydra, maar daardie droom word vir eers net daar gelos.

Wat wonderlik is, is dat daar in dié uurlange gesprek nie een keer oor die bedreiging van kunsmatige intelligensie gepraat is nie. KI is baie dinge, maar ’n bedreiging vir TV is dit beslis nie. Ons woon gelukkig in ’n land vol mense wat mal en passievol genoeg is om hulle steeds aan die TV-bedryf toe te wy. En dalk is dié passie genoeg om die situasie te oorleef.

Facebook
Twitter
LinkedIn