EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Vredemaker: Die ander kant van Reggie Peace

Produksie: Vredemaker
Deur: Maliza Adendorff
Foto: Maliza Adendorff

Reggie Peace, of dan Reggie Hufkie, is bekend as kletsrymer, atleet, akteur en musikant – en deesdae ook as skrywer van Vredemaker, uitgegee deur Lux Verbi.

Die skryf van dié boek het hom gebreek; dit het gevoel soos twee jaar se intense terapie, sê Reggie.

Hy het grootgeword in Schauderville naby Gqeberha, waar “vrede so skaars is soos brood”, en is al van jongs af ’n storieverteller. Hy het immers in ’n gesin grootgeword waar die kunste tussen hom en sy ouers en broers gedy.

In Vredemaker, wat in Junie verskyn het, vertel Reggie van sy grootwordjare en die pad wat hy moes stap om te kom waar hy is.

Dit is duidelik dat Reggie nie een is vir stilsit nie: Hy was van kindsbeen af ’n ywerige langafstandatleet, stapper en kunstenaar, en later is hy weg by die Universiteit van Johannesburg met ’n graad in vervoerbestuur.

Uiteindelik gaan dit oor keuses: om te kan kies om te vergewe, om te kan kies om op ’n konstruktiewe manier vrede te maak met jouself.

Maar iewers in 2019 het hy wel stil geword, en juis toe het die idee vir die boek by hom begin posvat. Aanvanklik was dit ’n mengsel van verskillende genres – gedigte én vertellings – maar later, onder mentorskap van Suzette Myburgh en die Jakes Gerwel-stigting, het dit die vorm van ’n outobiografie aangeneem.

In die gesprek met sy vriend Bouwer Bosch gesels Reggie openhartig oor sy komvandaan, sy familie en sy tyd van stabiliteit in ’n kinderhuis – en later ook van sy worsteling met geloof en met God.

Hy bespreek moeilike onderwerpe in sy boek, waaronder vergifnis, misbruik en versoening. Uiteindelik gaan dit vir Reggie oor keuses: om te kan kies om te vergewe, om te kan kies om op ’n konstruktiewe manier vrede te maak met jouself. Reggie is iemand wat nie net vrede maak nie, maar dit ook vind.

Vandag staan hy met selfvertroue voor sy lesers met sy eie storie van hoop. Hoewel 30 jaar se misbruik en seer nie in ’n enkele jaar genees word nie, is Reggie gereed om in ’n spieel na homself te kyk en te kan sê: “Ek is lief vir jou, bro. Pat yourself on the back. Jy’s okay.”

Facebook
Twitter
LinkedIn