TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Marinda maak mooi met weggooigoed
Ateljeebesoek: Marinda du Toit
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband
Sy maak kuns uit dinge wat ander mense sal weggooi, en ’n besoek aan Marinda du Toit se ateljee, wat ook haar woonhuis is, maak vir jou ’n wondermooie wêreld oop, sê Ilza Roggeband.
Daar is vyf van ons wat Marinda du Toit die oggend van 16 Oktober by haar huis en ateljee in Pniel besoek. Sy vertel van haar besoek aan Parys waar sy ’n kunsresidensie gehad het, vertel waar haar inspirasie vandaan kom en hoe sy die skoonheid in dinge sien wat ander mense dalk sal weggooi.
Daar’s die skatkis van kaartjies wat jare gelede saam met Weet-Bix-bokse gekom het. Ou papier in stowwerige winkels en handskoene wat langs die hoofweg lê. Houtgaretolletjies en popgesiggies. In haar hande word dié weggooigoed kuns wat jou laat kyk en weer laat kyk; jou verbeelding laat vlieg.
Op die stoep van haar huis met sy welige tuin is daar ’n installasie van nege lewensgroot figure, elk met hulle eie storie en persoonlikheid. Vir elke element van elke figuur het Marinda ’n storie: Waar dit vandaan kom, wat dit beteken, hoekom dit gebruik is. Mag hierdie installasie iewers ’n permanente tuiste kry sodat meer mense dit kan beleef. Dit kom selfs met ’n teetrollie, kompleet met ’n bord koekies.
Volg haar op Instagram.
*
Kry hier die volledige program vir ateljeebesoeke hier.