SPIER THEATRE
Buckland kielie die maag- én dinkspiere
Produksie: The Fool’s Guide…to living and dying
Deur: Steyn du Toit
Foto’s: AB Jantjies
Andrew Buckland is 72. Ek noem dit om twee redes: Eerstens omdat die teks van The Fool’s Guide temas aanraak soos mortaliteit en die broosheid van die menslike bestaan, en tweedens omdat die stuk meer as ’n indrukwekkende hoeveelheid stamina en inspanning van die speler verg. Dit is ’n taak waarin hy slaag sonder om letterlik of figuurlik in sweet uit te slaan.
As ’n teaterervaring kan The Fool’s Guide op twee vlakke waardeer word. Dit is eerstens ’n boeiende storie wat op die verhoog vertel en uitgebeeld word. Die resultaat is suksesvol, grotendeels omdat dit Buckland op die verhoog is. Enigiemand wat oor die laaste vier dekades by die Nasionale Kunstefees in Makhanda was, sal weet watter nasionale skat hy is. Dink byvoorbeed aan The Ugly Noo Noo wat onlangs weer onder groot lofprysing opgevoer is.
Met die knip van ’n oog of die krul van ’n toon verander Buckland van karakter. Geen dramatiese bewegings nie. Geen rakke vol kostuums wat tussen tonele verwissel moet word nie. En geen lepelvoer vir die gehoor nie.
Hierdie is nie tradisionele teater nie. Dit voel meer of jy TV of ’n fliek kyk. Die minimalistiese kostuum – ’n swart pak, groen T-hemp en geen skoene nie – voel gepas. Hiermee word ’n skare karakters in die lewe geroep – van pratende stofsuiers en Beta-bros tot demoniese Yorkies. Mense wat reekse soos Transformers ken, die fisieke teater van Italiaanse teatermaker Dario Fo geniet, of vertroud is met karakters uit die Manosphere soos Andrew Tate en Clavicular, sal ook waardeer hoe baie detail en verwysingx daar in dié teks ingewerk is.
Die ironie is egter dat ’n toneelstuk wat grotendeels oor tegnologiese temas en verwante verwysings handel, op die verhoog geen van hierdie elemente gebruik nie. Alles rus op die skouers van ’n akteur en sy liggaam en stem.
Met die knip van ’n oog of die krul van ’n toon verander Buckland van karakter. Geen dramatiese bewegings nie. Geen rakke vol kostuums wat tussen tonele verwissel moet word nie. En geen lepelvoer vir die gehoor nie.
The Fool’s Guide bied ook op ’n tweede vlak stof tot nadenke. Waar lê die grense wanneer ’n pa sy seun moet beskerm? Hoe behou ons ons menslikheid in ’n wêreld vol mensmasjiene? Wat gebeur as ons doodgaan terwyl ons nog dinge het om aan hierdie kant te doen? En dan is daar die ewigheid self. Behalwe dat Dood ’n karakter is wat die kyker ontmoet deur die loop van die storie, laat sy verskyning ook baie vrae onbeantwoord. Wees gerus, dit is nie so diep en donker dat jy die teater met ’n swaar gemoed sal verlaat nie.
Wat gebeur na ons die tydelike met die ewige verwissel? Is dit werklik finaal? Moet ons bang wees? In Andrew en die regisseur Janet Buckland se klankhelder uitbeelding van die volgende hoofstuk van ons bestaan lyk dit gelukkig nie so nie.
The Fool’s Guide…to living and dying
06 OKT 16:00
kykNET Idasvallei Primêr




