EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Die jong kettieskieters
Produksie: Writers on Writers: The Young Guns
Deur: Lynthia Julius
Foto’s: Verskaf
Mia Arderne en Zubayr Charles moet in gesprek tree, maar Mia kan dit nie maak nie. Lynthia Julius weet nie presies hoekom nie, maar sy weet wel hoe vreemd dit is dat sy en Zubayr wat wêrelde van mekaar af is, in een Shoprite-skottel moet was net omdat hulle bruin is.
Vreemd hoe titels van boeke – How to Stop Being a Naai deur Mia Arderne en Haram deur Zubayr Charles – vrugwater vir jou as leser is. Ek kyk die woord “naai” en dink aan wat iemand van Upington die vorige aand gevertel het. Nicolas Cage-goed skiet in Askham ’n movie van hom. Askham in die Noord-Kaap, daar wat Gôt vanaf is. ’n Dronk antie kom by die plek wat geskiet word aan en skrou vir Nicolas: “Heeei. Jou náái.” Ek xhoulag. Daar is sekere goeters in dié land wat net vir bruin anties gebêre is.
Haram. Warsan Shire kom en kom vat die gesprek (in my kop) oor: “Love is not haram but after years of fucking/ women who are unable to pronounce your name,/ you find yourself totally alone, in the foreign food aisle,/ beside the turmeric and saffron,/ remembering your mother’s warm, dark hands,/ prostrating in front of the halal meat, praying in a language you haven’t used in years.”
Mia Arderne en Zubayr Charles moet in gesprek tree, maar Mia kan dit nie maak nie. Ek ken nie hoekom nie, maar sy kom nie. Biewwie Sliffers kry vir Dianne [Albertze] om met Zubayr in gesprek te tree en ek voel ek kan vir Mia loop haal. Nee, man, Mia, ek wil jou net gekyk het, al het ek ôk nie gehoor wat jy sê nie. Gôt, man, Mia, wil ek haar loop sê. Jy kan nie so ongôddelik mooi is en so goed kan skryf en boonop nog intelligent is nie. Los vir ons anners ook iets. Jy maak nie reg nie. Jy maak laat die Jirre Zolpidems drink.
Dianne voer die onnerhoud en doen dit met sovil gemak en selfvertroue en ek sit dink daai tyd, ha-a, moenie oor my worry nie. Ek sou maar flou geval het as ek moes gevra gewees het om te loop praat. Nee, julle sal my op die veearts se operasietafel moes kom haal het, so het my hart rabies gekry.
Kaapsgeid. Bruingeid. Geloofgeid. Gayle. Ek probeer Gayle verstaan en ek luister af en hang aan die mense wat dit kan praat se lippe. Ek sal baie graag wil hoor hoe Gayle klink in Gariepafrikaans. Of is daar net goeters wat nie in anner provinsies kan gesit word nie oor sy oerknal nie daar is nie?
’n Mens uit die gehoor vra ’n vraag tydens vraagtyd en noem Zubayr se boek “Don’t call me moffie”. Zubayr breek hom af soos ’n tak in die volmaan en sê hom: “Please. Please don’t call me moffie.” Reghelp op sy tyd is soos brood en konfyt. Politeness theory. Brown en Levinson. Robin Lakoff. Geoffrey Leech. Asseblief. Asseblief en dankie oral waar jy heen gaan. Almal sal dit goed verstaan , het die juffrouens ons in die graad R-klas laat sing.
Kaapsgeid. Bruingeid. Geloofgeid. Gayle. Vreemd hoe ek en Zubayr bruin kan is maar soveel wêrelde van mekaar af. En is asof om bruin te is vir my en Zubayr klaar in een Shoprite-skottel laat was. Ons in een twin tub sit en met Maq-waspoeier was asof witgoed en donkergoed nie in verskillende bondels gewas word nie. Asof daar nie tussen die Noord-Kaap en die Wes-Kaap kilo’s lê en tussen daai kilo’s is kokerbome, fynbos, xhabbabrood, roti, Gariepafrikaans en Kaaps nie.
’n Vrou het vir my vriendin, ’n danser en aktrise, gesê ons is almal van die Kaap. Ons kom almal uit slawe uit, ghoema is in al die bruin mense se bloed. My vriendin trek die vrou deur haar tande en sê: “Ek issie vannie Kaap af nie. Ek kommie uit ’n slaaf nie. Ghoema issie my donnegse hêggietiets nie. Ek issie ’n fokken Kaap’naar ’ie.”
Een letterkunde. Soveel wêrelde apart. Ronelda (Kamfer) los my nie uit nie:
om bruin/ te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie/ en dan is dit nog die anner storie van boesman wees die problem is/ wanner jy jou mense se storie ken en daar’s nie ’n slams of boesman/ in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die/ oorvertel
How to stop being a naai 101: Jy rond nie skrywers van een rassegroep af tot die naaste gedeelde ervaring nie.




