DISCOURSE

‘Kiesers gee nie om hoe jy lyk nie, jy moet net die land laat werk’

Produksie: Netwerk24-gespreksreeks
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Verskaf

Daar is geweldig baie op die spel vir politici én kiesers in die munisipale verkiesing wat oor minder as ’n maand plaasvind, het Geordin Hill-Lewis, DA-leier en burgemeester van Kaapstad, aan Mia Spies gesê by Netwerk24 se gespreksreeks.

As iemand 20 jaar gelede vir Geordin Hill-Lewis, DA-leier en burgemeester van Kaapstad, gesê het die steun vir die ANC gaan val van 70% tot ’n geskatte 31% steun tans, sou hy gesê het daar is nie ’n kans nie.

“Maar die politieke landskap het verander, twee dekades se agteruitgang het stadig maar seker die gety laat draai,” gesels hy Maandag by die Netwerk24-gespreksreeks wat as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied word.

Met die munisipale verkiesing op 4 November net enkele weke weg word mense as’t ware nou politieke beloftes saam met hulle ontbyt en koffie gevoer. Daar is baie op die spel vir politici en kiesers – hierdie verkiesing sny diep omdat dit die regering – en dienslewering – tot in elke munisipaliteit bring.

Die vloekwoord vir kiesers is koalisies, en Hill-Lewis het behendig hierom gedans. Ja, daar is goed wat nie onderhandelbaar is nie, en partye met wie hulle uit beginsel nie sal saamwerk nie. Maar die spook van die koalisie met die Patriotic Alliance is een wat die DA sal volg, veral in die lig van die bekgevegte tussen Hill-Lewis en die PA-leier, Gayton McKenzie.

Die gesprekleier, Mia Spies, wou weet in watter mate wantroue kiesers kan weghou van die stembus, veral omdat hulle nie weet of ’n stem vir hulle gekose party dalk deur koalisie-ooreenkomste ander partye se kandidate kan bysleep nie.

Die politieke landskap het verander, twee dekades se agteruitgang het stadig maar seker die gety laat draai.

Hill-Lewis het dit teruggevoer na die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) waar hulle met verskeie partye met verskillende agendas en beginsels moet saamwerk “ter wille van ’n Suid-Afrika wat eenvoudig moet werk”.

“Ons stem saam die alternatief, die sogenaamde Doomsday Coalition (tussen die EFF en Jacob Zuma se MK-party), moet gestuit word, ons land kan dit eenvoudig nie bekostig nie.”

Hy is vol vertroue die DA kan ná die November-verkiesing die septer swaai in die grootste metro’s, maar KwaZulu-Natal en die MK-party met hulle geweldige steun is hulle groot kopseer.

Die 2016-koalisie met die EFF in die Johannesburg-metro het hulle goeie lesse geleer oor hoekom dit nooit sal werk nie, erken Hill-Lewis. “Een groot doel is om chaotiese elemente uit die regering te hou. Ons moet werk vir ekonomiese groei, dit beteken om stabiliteit te bring.”

Dit was ’n moeilike besluit [om John Steenhuisen as minister van landbou te vervang], maar jou verantwoordelikheid teenoor die land en sy mense is groter as enige persoonlikheid. Ek het ’n paar dae gevat om my besluit te maak, want ek oordink goed nogal lank. Maar as daai besluit gemaak is, staan ek daarby.

Daai stabiliteit was ook nodig in die DA nadat Hill-Lewis eers vir John Steenhuisen vervang het as partyleier, en Steenhuisen toe as minister van landbou vervang het. Steenhuisen het agterna gesê hy is belowe hy sou sy pos behou.

Daar was groot ontevredenheid in landboukringe oor Steenhuisen se hantering van die bek-en-klouseerkrisis en wat beskou is as sy gesloer met inentings en die verkryging van entstof.

“Dit was ’n moeilike besluit, ja,” sê Hill-Lewis, “maar jou verantwoordelikheid teenoor die land en sy mense is groter as enige persoonlikheid. Ek het ’n paar dae gevat om my besluit te maak, want ek oordink goed nogal lank. Maar as daai besluit gemaak is, staan ek daarby.

“John is ’n goeie mens, ’n goeie vriend, maar ek moes onthou wat die groter prentjie is, wat in belang van die land is. Dit was ’n moeilike, maar belangrike besluit.”

Die DA se ambisieuse plan om die ANC te troef is vir hom nie meer ’n saak van onmoontlikheid nie, sê Hill-Lewis. Dit hang saam met Spies se vraag oor of hy reg is om ’n land te regeer, en of die land reg is vir ’n wit president.

“Ek dink in die lig van al die agteruitgang en onsekerheid gee die kiesers nie meer om hoe die persoon lyk nie. Hulle wil weet of daai persoon die land kan laat werk.”

Facebook
Twitter
LinkedIn