KINDERFEES
‘Zonkie’ ’n poppekas propvol plesier
Produksie: Zonkie en die laaste boomhuis
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Zandri van Greunen, Verskaf
Met ’n lieflike stel, marionette wat lyk of hulle reguit uit ’n Tim Burton-fliek gestap het en die meesterlike Cindy Swanepoel het Zonkie en die laaste boomhuis die kleinspan behoorlik laat oe en aa en vir Zandri van Greunen weer laat verlang na die dae van Liewe Heksie en Wielie Walie.
’n Dogtertjie sit op haar ma se skoot en bekyk die grys, hoekige rame op die verhoog. ’n Rookmasjien begin borrel en die dogtertjie deins terug in haar ma se arms. “Ek’s bang, Mamma,” fluister sy deur haar ma se hare. Dié woorde is egter gou vergete toe Zonkie (Cindy Swanepoel) op die verhoog sluip met ’n boomhuis vol stories op haar rug.
Daar kronkel ’n nuwe wêreld uit elke tak van die storieboom. Ons klim en klouter na ’n toekoms waar die hoë geboue in die son se pad is en die mensdom op “prepaid suurstof” moet staatmaak om ons te herinner hoe belangrik dit is om na Moeder Natuur om te sien.
Die karakters, soos La-dee-da (die hadida) en Uilbertus (die uil), word werklik lewendig met Cindy se meesterlike poppemeester-vaardighede. Daarvoor moet ’n mens kophou, veral met die crankie box waarin een van die boomhuis se stories afspeel. Dit behels dat ’n getekende papieragtergrond met die draai van handvatsels stadig deur die kassie rol en die een toneel na die ander laat verskyn.
Party van die marionette, gemaak deur Imile Wepener, lyk of hulle reguit uit ’n Tim Burton-fliek gestap het. Die stel sluit ook hierby aan en die kleinspan het omtrent ge-oe en ge-aa toe karakters se lyfies tydens die skaduteater-gedeelte verskyn.
Giggelgeluide het soos borrels bo die gehoor ontsnap, en Cindy se skerpsinnige humorsin het presies geweet hoe om hierdie borrels te bars deur vinnig die vierde muur te breek. Wie sou kon raai sy kan blokfluit speel?
Daar kronkel ’n nuwe wêreld uit elke tak van die storieboom. Ons klim en klouter na ’n toekoms waar die hoë geboue in die son se pad is en die mensdom op ‘prepaid suurstof’ moet staatmaak om ons te herinner hoe belangrik dit is om na Moeder Natuur om te sien
Die regisseur, Anèl Wood, het ook die teks geskryf wat oud en jonk weer sal laat dink voor hulle ’n goggatjie om die lewe bring wat ’n belangrike skakel in die voedselketting is.
Na die tyd het die kleinspan entoesiasties vertel hulle hou in elk geval klaar van allerhande goggatjies en kreatuurtjies, maar dat hulle mooi sal moet luister om uit te vind of hulle regtig soos Knetter (die eekhoring) kan praat.
Ek was lanklaas in soveel verwondering oor ’n produksie. Zonkie en die laaste boomhuis het my weer laat verlang na die dae van Liewe Heksie, Wielie Walie en sommer net die eenvoudige plesiere van poppekas.
Zonkie en die laaste boomhuis
8 OKT 15:00 | 11 OKT 09:30
Paul Roos-teater
R110 | R140 by die deur




