NUUS

Huldeblyk aan Martie Retief Meiring: ‘Een van die beste mense is weg’

Skrywer: Nadine Petrick
Foto: Natalie Gabriels

Verlede week by Aardklop neem ek deel aan een of ander lawwe vasvrakompetisie met Kabous Meiring aan die stuur van sake. Sy stel die paneellede voor en vra ook ’n klomp persoonlike dinge, sommer net for the fun of it. “Wie is een van jou gunstelingmense,” vra sy, en kyk eerste na my. Ek huiwer nie met my antwoord nie: “Jóú ma,” sê ek. Martie Retief Meiring.

Dinsdag sien ek vir Martie sit buite Die Khaya in Stellenbosch, besig om te luister na ’n gesprek op RSG se OB-verhoog. Ek dink by myself dat ek nét klaar gaan eet, dan gaan ek gou hallo sê. Ek het haar lanklaas gesien. Toe ek ’n kort rukkie later uitstap, is sy reeds vort. Maak nie saak nie, het ek gedink, ek sal nog ’n honderd keer dié week in haar vasloop. Want hierdie was haar kos. Hier het sy geshine. As een van die stigterslede van etlike kunstefeeste en lid van die Woordfees se advieskomitee, was hierdie week in haar tuisdorp ’n jaarlikse hoogtepunt.

Dit was dus bitter sleg om net ’n dag later te hoor dat Martie kritiek in die hospitaal lê. Sy het sleg geval – haastig op pad van die een Woordfeesproduksie na die ander. Op amper 90 was sy nog net so spirited en feisty soos altyd en, hoor ek deur die bostelegraaf van vriende en geliefdes, vies dat sy nou ’n klomp toneelstukke en praatjies sou moes misloop. Ook bekommerd of sy betyds ontslaan sou word vir haar om ’n deadline vir volgende week te haal. Die joernalis immer op haar pos. Maar daai laaste rubriek sou ongeskryf bly. Een van die héél grotes, nie net van die joernalistiek en kunstelandskap nie, van ménse, is op 5 Oktober 2024 weg.

Ek blaai deur Facebook kort nadat die nuus van haar afsterwe op Netwerk24 breek. Een ná die ander huldeblyk wat haar lof besing as skrywer, kampvegter, kunsteliefhebber, waarnemer, kritikus, sosiale kommentator, vroueregteaktivis, politieke leier. Maar ook vriendin, rigtingwyser, steunpilaar, reusegees, mentor, denker, baanbreker, geliefde familielid, kollega, surrogaat-ouma. Ma.

Ek weet daar is baie mense wat vandag hulle eie gunsteling-Martie-storie by ’n etenstafel of oor ’n glas wyn of saam met vriende by ’n braai gaan oorvertel. Ek het ’n paar, maar een van my heel lekkerste stories wat ek al by ’n honderd dinner parties vertel het, behels in élk geval die Meiring-vroue. Pretoria, mid-90’s. Vars uit die skool, en diep onder die indruk van als wat effe boheems, avant-garde en liberaal is, gaan kuier ek een middag by Kabous, toe nog in matriek, by hulle lieflike huis in Brooklyn. In my absolute noppies, want tannie Mart – ’n real-life hero, want sy was die mederedakteur van die oorspronklike Vrye Weekblad – is ook by die huis. Ek vat die gaping en gaan sit by haar in die sitkamer en gesels, Kabous iewers anders in die huis doening. ’n Ruk later kom Kabous met twee glase rooiwyn uit die kombuis gestap, gee een vir my aan en sê tevrede: “Hier is vir jou ’n fókken goeie glas rooiwyn.” Waarop Martie geskok reageer: “Kabous! Daai is glád nie sulke goeie rooiwyn nie!”

Mens sukkel om te glo dat jy haar nooit weer in Stellenbosch se strate gaan sien stap nie. Altyd maar op pad iewers heen. Altyd dressed to the nines, gebling en gemake-up. Vir haar sou jy nóóit vang sonder dat sy nie op haar beste lyk nie. G’n enkele encounter met haar het nie ook een of ander vorm van ’n reprimand gehad nie, meestal glad nie eens verskuild nie: “Hoekom skryf jy nie? Jy moet meer skryf!” Komende van die grand dame van joernalistiek was daar nog nooit ’n groter kompliment as dit nie. Maar ek weet ek is nie alleen nie. Sy het almal gesién vir wie hulle is.

Martie Meiring het ’n hele generasie jongmense, veral vroue en baie wat ek persoonlik ken, geïnspireer om meer te wil wees. Om nie ondergeskik te wees nie. Om voor te vat. Kyk maar net na haar eie kind. En sy was nog altyd net dáár, Martie Retief Meiring. By die aksie, by die toneel, op die toneel. Immer op soek na ’n storie en die perfekte sin. Joernalis tot die einde toe.

Rus in vrede, liewe tannie Mart. En dankie vir al jou woorde.

* Ek was nou-nou by Kabous, tannie Mart. Daar’s nét so baie mense wat haar liefhet soos vir jou. Birds of a feather, mos, julle twee, al kon julle so lekker stry. Jy hoef nie te bekommer nie, ’n klomp van haar heel bestes is daar om te help dra.

Net een laaste ding. Toe sy saam met my kar toe stap, toe sê sy met ’n glimlag: “Martie was ook mý gunstelingmens.”

Maar jy het dit mos geweet.

Facebook
Twitter
LinkedIn