THEATER
Rolanda en Hedda: Lig en donker ontmoet
Produksie: Hedda Gabler
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Rolanda Marais is te sien as Hedda in Henrik Ibsen se Hedda Gabler. Dit word allerweë beskou as een van die grootste vrouerolle in teater. Marchelle van Zyl het met Rolanda gesels oor hierdie ikoniese karakter. Nardus Engelbrecht het ná afloop van een van die vertonings vir Rolanda en haar medespeler Ludwig Binge afgeneem om dit vir die argiewe visueel vas te vang.
Die rol van Hedda Gabler is ’n uitdagende rol. Sy is ’n sterk vrou wat aan niemand onderdanig is nie en doen en sê wat sy wil. Die bloukolle op Rolanda Marais se arms is sprekend van die fisieke uitdagings wat die rol aan haar stel. Die regisseur, Christiaan Olwagen, het ’n belangrike rol vervul om Rolanda veilig te laat voel in dié rol waarin sy opperste aakligheid moet vertolk.
“Christiaan sien die madness in my wat ek regtig het en hy is die enigste mens wat my na ’n punt stoot waar ek nooit of selde self as mens sal gaan. Hy gee my license to go absolutely crazy. En dit is scary en dis is ’n moeilike plek om na te gaan, maar hy het ’n ongelooflike manier om vertroue te bou wat jy weet wat ookal hy vir jou gee om te doen, jy nie soos ’n idioot gaan lyk nie. Dis ’n wonderlike kreatiewe verhouding. En ek weet ek is altyd veilig, maak nie saak hoe ver hy my push nie. Met Hedda veral, het ek aan die begin gesukkel, want sy is aaklig, régtig aaklig. Maar hoe meer ons gesels en hoe dieper ons gedelf het, hoe meer het ek verstaan what she is about.”
Mens kom egter gou agter Hedda is die produk van haar keuses en sy is nie die enigste aaklige persoon in die verhaal nie. Het Rolanda empatie met Hedda?
“Ek het. Ek is in ’n gelukkige huwelik, maar ek was al in situasies waar ek voel I don’t belong here, ek is vasgevang, ek kan nie my sê sê nie. Ek wil net hier uitbreek en wegbreek. Die metafoor van die wilde tier in ’n hok – ek dink ons almal het tot ’n sekere mate so iets ervaar in watter tipe verhouding ookal. Dit hoef nie ’n liefdesverhouding te wees nie.”
Hedda is kwaad vir die wêreld en almal om haar, ook vir haarself.
“Sekere mense is lucky genoeg om gelukkig te wees en alles bietjie ligter te ervaar. Ander mense is geneig om die donker kant van die lewe raak te sien en Hedda lewe aan die donker kant van die lewe. Sy is regtig ongelukkig, ek dink sy is depressief, she is one of those souls wat nie eintlik regtig die lewe geniet nie.”
As Rolanda kon, watter raad sou sy vir Hedda gee?
“Ek sou graag vir haar wou sê: ‘Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk.’ En dan gaan sy net sê: ‘Wel ek ís nie gelukkig nie en ek wíl nie wees nie, so fokof.’
Watter ander groot rol sou sy wou speel?
“Hedda was altyd op my lys as groot vroulike rol. Ek is dalk al te oud, maar ek sou graag Lady Macbeth wou speel. Ek hou van die donker rolle. Die lewe is interessanter as mens bietjie wroeg. Die lewe is interessanter as jy die lig en die donker ewe veel aandag gee. Sonder die donker kan die lig nie lig wees nie. En as jy lig het sonder om te weet wat jou donker kant is, dan is daai lig net pretensie. Jy kan alleenlik ’n gelukkige mens wees of content wees as jy weet waar jou donkerste donker plekke lê en vrede maak daarmee. Ek dink Hedda het vrede gemaak daarmee. Sy sê sy het hierdie drang in haar om als om haar stukkend te krap. Maar sy is eintlik oukei met wie sy is. Dis óns wat nie oukei is daarmee nie. Ek, Rolanda, is nie oukei daarmee dat sy so aaklig is nie.
“Op die ou end is sy die eerlikste karakter, maar society laat dit nie toe nie. So, dis hoekom ek haar so bevrydend ervaar, dit my bevry om haar te speel, want uiteindelik kan ek ’n donker kant van my ontgin en dit entertain, want in die regte lewe kan jy nie so ’n bitch wees nie. Dan gaan niemand van jou hou nie. Dis die rofste rol ooit, maar dis die most fulfilling.”